Trekklavier-man vat hoop na ander hospitale

Marinda du Preez se man, Lukas, speel nou ook by ander hospitale sy trekklavier. (Foto: Verskaf)

Marinda du Preez se stem is stil, maar haar nagedagtenis leef voort – veral in die verlangende klanke van haar man, Lukas, se trekklavier.

Die 64-jarige Marinda, van George in die Wes-Kaap, is vroeër vandeesmaand ná ʼn maand lange stryd teen Covid-19 dood. Die egpaar se noue band het mense aangegryp nadat Lukas (64) buite die Bayview-hospitaal op Mosselbaai vir sy geliefde vrou gaan trekklavier speel het omdat hy geen ander manier gehad het om by haar te wees nie.

Die video van Lukas wat vroegoggend alleen buite die hospitaal op sy trekklavier speel, het mense aangegryp. Vir Lukas was dit ʼn liefdesdaad; ʼn manier om vir Marinda te sê hy is daar, al kan hy nie langs haar bed waak nie.

“Hierdie ding het eenvoudig begin met ʼn vrou wat nie moes siek word nie,” vertel Lukas vandeesweek voor hy op ʼn reis na ander hospitale vertrek waar hy ook gaan trekklavier speel. Niemand kon nog vir hom verduidelik waarom sy vrou so swaar getref is en sy eie siekte “tjoef-tjaf” verby was nie.

Hy en Marinda het in Junie die entstof teen Covid-19 ontvang en geglo ivermektien is die antwoord op die dodelike siekte wat reeds duisende lewens geëis het. “Ons het gedink ons het amper alles reg gedoen.”

Marinda het nietemin siek geword en hulle het aanvanklik gedink dit is ʼn reaksie op die entstof. Sy het effe beter geword, maar albei het kort daarna positief vir die virus getoets. Lukas het ʼn matige siekte ondervind; Marinda is binne dae platgetrek en haar toestand het bly versleg.

By die Bayview-hospitaal het sy die beste behandeling gekry waarvoor ʼn mens kan vra, sê Lukas, maar die dokter het uit die staanspoor gewaarsku dit gaan nie goed met haar nie. Haar longe was reeds erg beskadig.

Ondanks alle behandelingsmoontlikhede het Marinda bly verswak.

Geen kontak

Lukas du Preez speel voor sy vrou, Marinda, buite die hospitaal vir haar op die trekklavier. (Foto: Charolotte Barnard)

Lukas het Marinda op 13 Augustus die laaste keer gesien. Die hospitaal het hom inderhaas laat weet om te kom groet en Marinda het kort daarna gesterf.

Teen hierdie tyd het Marinda lankal nie meer Covid-19 onder lede gehad nie, maar is sy behandel vir die skade wat die virus aan haar liggaam veroorsaak het. Steeds kon Lukas haar nie besoek nie en dit was ʼn bittere pil om te sluk.

“Sy kon niemand sien nie. Nie vir my nie, nie ons kinders nie.

“Dít … dit is wreed en ek dink dit is iets wat moet aandag kry. Ek verstaan die situasie as dit ʼn aktiewe Covid-19-geval is, maar as dit ʼn punt bereik waar iemand op sy of haar laaste is en net in ʼn hospitaal is weens die skade wat die virus veroorsaak het, hoe kan jy daardie mens se geliefdes weghou? Dáármee het ek ʼn probleem.”

Lukas, ʼn advokaat, sê hy glo dit raak eindelik mense se reg op waardigheid, hierdie paniek wat veroorsaak dat geliefdes mekaar nie mag sien of groet nie.

Aan die begin van Marinda se siekte kon die egpaar nog op WhatsApp kommunikeer, maar namate haar toestand versleg het, het dit onmoontlik geraak. Alle kommunikasie het verdwyn. Tot Lukas met sy trekklavier opgedaag het en Marinda geweet het haar man is by haar.

ʼn Geloofskrisis

Lukas en Marinda du Preez. (Foto: Facebook)

Lukas sê sy vrou se dood het ook vir hom ʼn geloofskrisis veroorsaak. Selfs meer as dit.

“Ek het amper my geloof verloor. Ek wou niks meer weet van die kerk of van God nie. Jy vra jouself af hoekom? Hierdie goeie mens … As ek vyf minute in die oggend Bybel lees, doen sy 45 minute lank Bybelstudie, so hóékom?

“Goddank kon ek daai uitsorteer, want dit sou ʼn groot fout wees. Ná ʼn dag of twee se besinning het ek besef ek is op die verkeerde spoor. Ek kan nie vir God afskryf nie. Sy sou dit nie wou gehad het nie én ek verloor alle vooruitsigte om haar weer te sien. Daar het ek gedraai.

“God is terug in my lewe.

“God is nou die dinamo en eerder om in ʼn hoek te sit, doen ek iets positiefs en versprei en deel ek ʼn boodskap van hoop.”

Lukas het vandeesweek die pad Kaapstad toe gevat waar hy by verskeie ander hospitale gaan trekklavier speel om nie net pasiënte nie, maar ook personeel daar te bemoedig.

Dit is sy “Ode aan Marinda”.

“Ek gaan op hierdie road trip om Marinda se nagedagtenis en God te eer. Ek dink Hy is besig met ʼn boodskap hier. Dit is ook ʼn boodskap van hoop wat ʼn mens wil bring.

“Maar dis ook meer persoonlik; dit is vir myself. Ek moet iets doen en dit is amper soos ʼn reddingsdaad om hierdie boodskap te bring. Ek dink tog Marinda sou dit ook só wou gehad het. Ek dink sy glimlag êrens.”

Nou gaan hy ʼn campertjie huur, sê Lukas, en hy gaan hospitale besoek om ander te help. Die egpaar se twee Yorkies gaan vir ʼn ruk by hul tweede ma loseer, en Lukas gaan trekklavier speel.

“My drie kinders kry swaar, maar hulle trek deur en ondersteun my. Ons het Saterdag ʼn afskeidsdiens gehou en dit het ʼn mate van berusting gebring. Ek en Marinda het alles saamgedoen. In die oggende saam gaan draf, marathons gehardloop. Ons was verskriklik na aan mekaar.”

Nou is dit net Lukas en die stilte waar sy geliefde Marinda eens was. Die huis voel leeg.

Op reis vir Marinda

Du Preez gaan nou by verskeie ander hospitale musiek maak. (Foto: Charlotte Barnard)

Kassie Karstens, hospitaalbestuurder van die Mediclinic op George, het Lukas gehelp om sy besoeke aan die talle hospitale in Kaapstad te koördineer. Durbanville, Milnerton, Constantia … “Almal, sonder uitsondering, is opgewonde.”

By byna 20 hospitale gaan hy vroegoggend sy trekklavier uithaal en sy boodskap van hoop uit sy hart speel.

Wat sê hy vir mense wat met hom kom gesels? Hoe staan jy op nadat jy platgeslaan is?

“Ek kan net sê ek was kwaad vir God, maar ek is nie meer nie. Ek besef sonder God is ons niks nie. Ek kan nie sê omdat hierdie slegte ding gebeur het, kan ek nie meer glo nie.

“Dit het my perspektief gegee. Ek glo vas daar is iets groters en om daardie rede het ek besluit om nie my geloof af te skryf nie. Dit het omgekeer en ek dank die Here daarvoor, want dit sou verkeerd wees.

“Mense gaan dood om onverstaanbare redes, maar mense moet weet daar is ʼn groter prentjie wat ons nie altyd verstaan nie. Ons moet daaraan vasklou.

“Vanoggend, vir die eerste keer in seker drie weke, het ek weer gaan draf. Ek begin besef ek moet aangaan ter nagedagtenis aan Marinda. Ek dink dit is wat sy sou wou hê. Dalk is daar ʼn ding of twee wat ʼn mens nog kan doen.”

Die musiek wat hy vir Marinda gemaak het, was ʼn “eerlike manier en poging tot kommunikasie”, sê Lukas, al is hy geen beroepsmusikant nie.

“Ek wou speel om met haar te praat. Ek dink mense het dit gesien en besef dit was ʼn voorreg om so met haar te kon kommunikeer.

“Nou is daar so ʼn verskriklike leemte.”

Met sy musiek hoop hy om dié leemte vir iemand anders te help vul.

“Daar is ʼn verskriklike wanhoop en verwarring in ons land. Dit raak mense diep persoonlik. Ek was in die bevoorregte posisie om vir Marinda musiek te kon maak. Dit het vlamgevat en ek het besef daar is ʼn kans om haar te vereer, om God te vereer en ʼn mate van ontvlugting vir myself te gee.

“Maar my vrou se dood bly onwerklik.”

Hy kry geweldig baie ondersteuning, sê Lukas. Van sy vriende. Die egpaar se kinders. Mense wat hom voorkeer en gesels.

“Niemand kan hiervan ontsnap nie. Soms kyk jy terug en wonder wat het geword van die jare. Ek het so gehoop ons het nog baie tyd.”

Posted by Charlotte Barnard on Tuesday, July 20, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alet

My man is positief getoets die middag van 24 Desember, oorlede kwart oor 5 die oggend op die 26 ste Desember. Ek mag hom glad nie besoek het nie. Ek glo nie mens sal ooit daaroor kom nie.

Skappie

Sterkte met die pad vorentoe, Lukas. Hoop jy kry berusting deur vir ander mense by die hospitale te speel.

Blomme

Dankie dat jy vlammetjie in die donker periode van so vele se lewens bring Lukas.

Colombo

Aangrypend

Danie

Indien daar n boodskap en n groter prentjie is dink ek dat die mensdom geregtig is daarop om te vra wat dit is.
Die moord doodslag siektes hongersnood en elende wat wereldwyd hoogty vier het n baie duideliker boodskap van sy eie.