Trekklavierlegende Theo Erasmus (79) sterf

Theo Erasmus. (Foto: Facebook)

Die bekende trekklavierspeler en komponis Theo Erasmus is Donderdag in die ouderdom van 79 oorlede.

Hy is in sy huis aan die Wes-Rand in Johannesburg dood. Volgens sy seun, Theo Erasmus jnr., is hy “rustig in sy slaap” dood.

Volgens Erasmus jnr. is sy pa Woensdag met longkanker gediagnoseer nadat hy ʼn geruime tyd met sy gesondheid gesukkel het.

“My suster, Tina, het nog Woensdagmiddag saam met my pa tee gedrink en Woensdagaand het hy telefonies met ander familielede gesels,” vertel Erasmus jnr.

“Ons het egter gister (Donderdag) die hele dag gesukkel om hom in die hande te kry. Ek het toe deurgery na sy huis toe, waar ek hom in sy bed aangetref het waar hy vreedsaam heengegaan het.”

Erasmus was ʼn bekroonde musikant en kon verskeie instrumente, soos die klarinet, xilofoon, tuba, klavier, kitaar, orrel, konsertina en trekklavier, wat sy hoofinstrument was, bespeel.

Hy het verskeie albums soos Akkordeon romanse, Die romantiese akkordeon, Lente vrolikheid, Melodie van die see, Skop, skiet en dans, Street Cafe en Mengelmoes uitgereik.

Theo Erasmus. (Foto: Facebook)

Hy was ook die stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akkordeon Assosiasie en het sedert 2013 die program, Bielies van die boerejol, op Pretoria FM aangebied.

Hy sou op Donderdag 4 November ʼn ATKV-toekenning ontvang vir sy bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf oor die afgelope 65 jaar.

“My pa was ʼn kleurvolle mens wat absoluut geleef het vir inheemse musiek met ʼn Afrikaanse kulturele aanslag. Dit was sy hele lewe. Ons het in ʼn huis grootgeword waar dié musiek van die oggend tot die aand kliphard gespeel het. My pa het sy passie daarvoor tot op die laaste uitgeleef,” onthou Erasmus jnr.

Lydia Winchester, bekende musiekbemarker, vertel sy het sowat 35 jaar gelede vir Erasmus ontmoet toe hy tydens ʼn toekenningsgeleentheid langs haar gesit het.

“Ons het daardie aand so baie gelag en dis waar ons paaie gekruis het. Hy was later die hoof van die musiekdepartement by die Afrikaanse Radiodiens, en ek het hom altyd daar gaan sien met nuwe musiek wat ek bemark het. Ons het uiteindelik groot huisvriende geraak en sy vrou, Rosie, wat ook intussen oorlede is, het altyd vir my die lekkerste piesangbrood gebak,” onthou Winchester.

‘n Jong Theo Erasmus. (Foto: Facebook)

“Hy het vroeër vanjaar by my gebraai. Ons het soveel dinge saam gedoen en hy het my soveel van boeremusiek geleer. Theo was ʼn baie spesiale mens in my lewe en ek sal hom altyd mis.”

Hoewel daar nog geen finale begrafnisreëlings getref nie, het Erasmus jnr. reeds bevestig dat dit in die kapel by die Voortrekkermonument in Pretoria sal geskied.

Erasmus laat drie kinders, Theo jnr., Henry en Tina, asook sewe kleinseuns agter. Sy eerste agterkleinkind, ʼn dogtertjie, word later vanjaar gebore.

Theo Erasmus (regs agter) saam met Martin Lane (links agter), Niekie van den Berg (voor links) en Lydia Winchester (voor regs). Die foto is vroeër vanjaar geneem. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.