Trekklaviernote buite hospitaal roer hartsnare

Lukas du Preez Woensdagoggend buite die hospitaal. Hy het vanoggend weer gaan trekklavier speel. (Foto: Charolotte Barnard)

Hulle is al 40 jaar getroud en toe die eerste note uit Lukas du Preez se trekklavier vroeg Woensdagoggend buite die Bayview-hospitaal op Mosselbaai opklink, het sy vrou, Marinda, ʼn Covid-19-pasiënt in die saal, dadelik geweet dit is hy.

Die 66-jarige Lukas sê Marinda word al byna twee weke lank in die hospitaal behandel nadat sy vroeër vandeesmaand die koronavirus opgedoen het. Geen besoekers word by Covid-19-pasiënte toegelaat nie, maar Lukas wou steeds op een of ander manier ʼn boodskap by sy vrou uitkry.

Om op die foon te gesels put Marinda te veel uit en sy sukkel om teksboodskappe te lees.

Sy trekklavier sou dus die boodskap moes oordra.

“Dit was meer uit hulpeloosheid dat ek besluit het om te gaan trekklavier speel…”

Lukas, ʼn advokaat wat op George woon, het by ʼn veiligheidswag by die hospitaal seker gemaak waar Marinda se saal min of meer is sodat hy kon seker maak sy hoor en het vroegoggend begin speel.

En hóór het Marinda gehoor.

Lukas vertel sy vrou het hom verskeie kere gebel terwyl hy buite die hospitaal gestaan en speel het.

“Sy het my herken. Sy kén mos die songs, ons is 40 jaar getroud!”

Charlotte Barnard, ʼn administratiewe klerk by die hospitaal, het ʼn video van Lukas buite die hospitaal gemaak wat sedertdien soos ʼn veldbrand versprei het. Lukas sê hy was stomgeslaan oor hoeveel mense daardeur geraak is en selfs in Nieu-Seeland en Australië het mense van die video kennis geneem.

“Dit was soos ʼn stroom energie wat gevloei het,” sê Lukas.

Du Preez het vir sy vrou, Marinda, gaan speel. (Foto: Charlotte Barnard)

“Dit het vir my daaroor gegaan dat ʼn ou in absolute nood iets doen met die Here in gedagte. Ek is baie gelowig, nou meer as ooit en dit was ʼn manier vir my om die Here se Naam te prys.

“Om met my ou instrumentjie só iets te bereik, wow…”

Lukas speel al trekklavier vandat hy ʼn seuntjie is. Hy speel ook graag klavier, maar skerts dit sou ʼn bietjie moeilik wees om die klavier tot by die hospitaal te kry.

Hy sê ook hy was verstom oor hoeveel bemoediging nie net Marinda nie, maar ook talle ander mense, uit sy musiek gekry het.

Donderdag het hy ʼn bietjie geoefen, vertel Lukas – dit help sommer om sy dag korter te maak terwyl hy wag vir Marinda om aan te sterk – en Vrydagoggend was hy weer terug buite die hospitaal om nie net vir Marinda nie, maar ook vir almal wat aangegryp is deur die musiek, te speel.

Marinda is tans in ʼn bestendige toestand, maar word steeds in die intensiewe sorgeenheid behandel.

Lukas sê die musiek help om Marinda, ʼn kreatiewe en aktiewe vrou wat nou heeldag op haar rug in ʼn hospitaalbed moet lê, op te beur.

“Ek hoop sy is gou beter.”

Posted by Charlotte Barnard on Tuesday, July 20, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Sanja ·

Ten midde van al hierdie chaos…. weet my hart dat hierdie oom met die klanke van sy trekklavier baie mense weer laat moed skep het! My wens is…..dis n masiewe wens, dat almal wat siek is gesond kan word, dat almal wat hartseer is getroos sal word, dat alles wat stukkend is heel kan word. Maar ja, EENDAG sal die massive wens waar word. Sterkte

Belinda ·

Is baie lekker om eerder net oor die goeie goed te lees op Maroela-Media. Baie dankie dat julle nie net slegte nuus deel nie :-)

Faraway ·

KOSBAAR!!! Waar is my ” trekklavier-speler man” in hierdie lewe? HEER . . . . laat ons paaie kruis asb

Anoniem ·

Mag Lukas se vrou ten volle herstel en hul vinnig weer verenig word. So ook aan al die ander siek pasiënte, mag jul almal ten volle herstel.

Rita ·

Nou huil ek spontaan. Hoe dierbaar van Lukas om vir sy vrou Marinda op te beur. Ek hoop sy word sommer gou beter en ontslaan. Dakie Lukas, dit was mooi.

Delene ·

Pragtige verhaal van Geloof, Hoop & Liefde! Mag Marinda vinnig herstel!

Sê maar net ·

Hoendervleismooi. Die Here seën jou, Lukas. Dit beteken seker geweldig baie vir haar en almal wat saamluister. Wat ‘n liefdevolle gebaar. Mag Jesus haar aanraak en gou weer huistoe bring na jou toe. Haar en almal in daai hospitaal seën en gesond maak.

Tanniepetoors ·

Die video het voorwaar soos ‘n veldbrand versprei. Met reg ook. Aandoenlik mooi. Ek het dit gister al uit Wes-Kaap gekry. Hoop Lukas se Marinda word gou gesond.

LIEZL ·

So so kosbaar, ek is seker daarvan daar is iemand wat vir die oom ‘n digitale klavier kan leen

Adriana ·

Is dit nou nie ware liefde, mag Die Here jou vrou seën en volkome genees, dat sy weer huistoe kom na jou. Baie sterkte.

Ivana ·

Dit is hartseer mooi, want dis liefde vir God en vir sy vrou. As ons mense weer God 1e stel in ons lewens sal daai massiewe wens van Sanja ook waar word, want niks is vir God onmoontlik nie. Ons het God teleurgestel want ons leef Goddeloos en ons moet Hom weer as ons enigste. God sien, nie geld najaag nie

Carel Johannes ·

Wat ‘n ongelooflike voorbeeld vir elke inwoner van hierdie land. Ek bid dat jou vrou weer gesond en op die been sal wees.

Esme ·

Lukas, die ure in die Covidsale is lank en eensaam en toe ek oor die Feesgety in die hospitaal was, sou jou wonderlike talent my dae korter gemaak het.
Jy bereik nie net jou geliefde vroulief nie, maar elke pasient in daardie ‘eensame opsluiting’.
Welgedaan en baie, baie dankie!
Ons het een Saterdagmiddag voorbidding in Roseacres Hospitaal se parkeerarea gaan doen maar ‘n soete musiekklankie sou die ondervinding vir almal soveel aangenamer gemaak het.

Karina ·

Baie dankie vir die pragtige artikel. My trane het geloop. Mag sy vinnig herstel en ook al die ander pasiente. Lukas jy het vir ons hoop gebring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.