Trekpas ná man met Covid-19 werk

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Deur Tania Broughton, GroundUp

ʼn Assistent-blokman van Eskort het die trekpas gekry nadat hy Covid-19-regulasies verontagsaam het en met ʼn positiewe koronavirus-toetsuitslag steeds gaan werk het.

Stuurman Mogotsi, wat ook ʼn lid van Eskort se interne koronavirus-komitee was, is verlede jaar afgedank nadat hy skuldig bevind is aan wangedrag. Volgens die maatskappy het hy hulle nie in kennis gestel dat hy op Covid-19-uitlsae gewag het terwyl hy by die werk was nie.

ʼn Tweede aanklag van nalatigheid is later bygevoeg nadat dit aan die lig gekom het dat hy die lewe van sy kollegas in gevaar gestel het deur by die werk op te daag nadat hy positief getoets het vir Covid-19.

“Mogotsi se optrede was nie net onverantwoordelik en roekeloos nie, maar ook onbedagsaam en bloot onverskillig,” het regter Edwin Tlhotlhalemaje vandeesweek in die arbeidshof in Johannesburg bevind.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het verlede jaar beslis dat Mogotsi met ʼn finale skriftelike waarskuwing moet terugkeer werk toe. Tlhotlhalemaje het dié beslissing omgekeer.

Volgens die KVBA-kommissaris het Eskort afgewyk van sy eie dissiplinêre kode en prosedure om Mogotsi af te dank, en dat hy eerder ʼn finale waarskuwing moet kry. Tlhotlhalemaje het egter bevind dat die beslissing nie gegrond is op die getuienis nie en dat die dissiplinêre kode van die maatskappy bloot ʼn riglyn is.

“Hy [Mogotsi] het alle gesondheid- en veiligheidswaarskuwings, advies, protokolle, beleid en prosedures waarvan hy as ʼn lid van Eskort se interne koronavirus-komitee ten volle bewus was, geïgnoreer,” het Tlhotlhalemaje bevind.

“Deur sy onverantwoordelike gedrag het hy almal met wie hy in kontak was in gevaar gestel.”

Volgens bewysstukke het Mogotsi in Augustus verlede jaar op ʼn daaglikse basis saam met ʼn kollega in sy private motor werk toe en terug gereis. Sy kollega het later siek geword en is in ʼn hospitaal opgeneem waar hy positief getoets het vir die virus.

Mogotsi het terselfdertyd siek geword en sy vrou, ʼn tradisionele geneser, geraadpleeg. Hy het twee dae lank tuis gebly nadat hy positief vir die virus getoets het. Hy is daarna terug werk toe.

Beeldmateriaal wys hy het ʼn medewerker met ʼn harttoestand omhels en sonder ʼn masker in die werkswinkel rondgeloop.

Mogotsi beweer egter dat hy die bestuur ingelig het oor sy kontak met sy kollega, maar dat hy geen duidelike riglyne gekry het oor wat hy moet doen nie. Volgens Mogotsi word hy nou geviktimiseer omdat hy nie geweet het dat hy in isolasie moet bly nie.

Die regter het bevind te midde van al die skade wat hy veroorsaak het, en wat Mogotsi duidelik kon voorsien het, kon hy net met die nou afgesaagde verskoning dat hy geviktimiseer is, vorendag kom.

Tlhotlhalemaje het voorts bevind Mogotsi het geen berou getoon nie en die vertrouensverhouding tussen hom en die maatskappy het intussen verbrokkel.

Die regter het egter ook Eskort se Covid-19-beleid bevraagteken, aangesien Mogotsi in elk geval sonder ʼn masker op die winkelvloer toegelaat is.

“Beteken ʼn basiese beginsel soos sosiale afstand enigiets in die werkplek? Al hierdie vrae moet gepak word in die lig van Mogotsi se weergawe dat sake soos gewoonlik voortgegaan het nadat [sy kollega se] toetsuitslae bekend gemaak is en hy [Mogotsi] dus vir werk aangemeld het.”

“Dit is een ding om al die gesondheid- en veiligheidsprotokolle op papier te hê. Dit is egter sinloos as niemand, insluitend werkgewers, dit ernstig opneem nie.”

Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ovelia ·

Ja as iemand nou nog nie weet van covid nie en maskers en afstand..

MakersMark ·

Presies die regte optrede van die werkgewer en uitkoms. Soos enige ander veiligheids maatreël – as jy jou eie of jou mede werknemers se veiligheid in gevaar stel moet jy die gevolge dra.

Tubac ·

Baie beslis. Die werkgewer is ook volgens Beroepsveligheid wetgewing verplig om n gesonde en veilige werkplek te handhaaf

Jack ·

In die tyd van tv en selfone pleit hy nog steeds hy het nie geweet nie. Baie ou en opgebruikte verskoning deur sommige van die land se werkers.

Fritz ·

Nogal n pligsgetroue ou wat werk toe kom as hy siek is. Meeste mense vat 2 weke siekverlof wanneer hulle hul kleintoontjie stamp.

Jan ·

Kleintoontjie stamp is erger as covid, maar die hele wêreld is op sleeptou oor ‘n belaglike narratief van ‘n pandemie wat in werklikheid ‘n plandemie is met geld en beheer as die hoofdoelwitte.

Johan ·

Francois, die regulasies kon nie jou vriende red nie en dit dompel ons almal in armoede. Jammer oor jou en maskermal se verlies maar om ons te straf met sinlose regulasies gaan hul nie terugbring nie.

MakersMark ·

Dit gaan nie oor individue en hul armoede nie welaf en armes sterf van CV19 wêreldwyd. Dis ‘n internasionale en nasionale krises daarom is die reëls om die verspreiding te stop veronderstel om deur almal nagekom te word. Slagoffer mentaliteit gaan ongelukkig nie werk nie. Daar is mense wat te midde van CV19 hul werk verloor het en eie besighede geopen het wat nou floreer. En nog steeds die wetenskaplike feite van die siekte verstaan asook die reëls vir die voorkoming daarvan gehoorsaam.

MakersMark ·

Snert man miljoene mense gaan nie wêreldwyd dood agv van ‘n stamp op hul kleintoon nie. Daar is ‘n pandemie wat parallel loop met CV19 noem dit domastrantheid.

Dirk Mostert ·

Dit verbaas my dat iemand summier afgedank kan word, iets wat in ons arbeidsbestel feitlik onmoontlik is. Die afgedankte kan dalk betoog dat sy skorsing tersyde gestel word hangende die Reiner Fuellmich hofsaak, waarin die CPR-toets, die inperkingsmaatreels en die bestaan van die virus uitgedaag word. Indien die saak (ook bekend as Nurenberg 2) slaag, was die afdanking onregmatig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.