Trevor Noah kry gesogte Nederlandse toekenning

Trevor Noah (39) is Dinsdag met die gesogte  Erasmusprys by die Koninklike Paleis in Amsterdam vereer. (Foto: Twitter / Koninklijk Huis)

Die Suid-Afrikaanse komediant en TV-persoonlikheid Trevor Noah (39) is Dinsdag met ’n gesogte Nederlandse toekenning by die Koninklike Paleis in Amsterdam vereer.

Koning Willem-Alexander het die Erasmusprys, een van Europa se gesogste eerbewyse, persoonlik aan Noah oorhandig. Hy is die jongste wenner in die 65 jaar lange geskiedenis van dié toekenning. Noah is ook die tweede komediant wat al ooit met dié toekenning vereer is; Charlie Chaplin het die prys in 1965 ontvang.

Saam met vanjaar se prys kom ook ʼn stewige kontantmeevaller van €150 000 (meer as R3 miljoen).

Die Nederlandse Praemium Erasmianum-stigting ken die Erasmusprys jaarliks toe aan mense of instellings wat ʼn buitengewoon belangrike bydrae op kulturele, maatskaplike of sosiaal-wetenskaplike gebied gelewer het. Die prys is na die Nederlandse Renaissance-humanis Desiderius Erasmus genoem.

Die koning het verlede maand reeds onthul dat hy die prys aan Noah wil toeken vir sy bydrae tot vanjaar se tema, “Lof der Zotheid”.

“Ek voel dit is ʼn baie mooi verbintenis – tussen ʼn diepsinnige humanis van Rotterdam van 500 jaar gelede, die outeur van Stultitiae Laus (“Tot lof van dwaasheid”), en ʼn jong Suid-Afrikaner van Soweto, wat as ʼn skerpskerts-komediant in Johannesburgse klubs volwassenheid bereik het,” het die koning vroeër gesê.

Hy het ook verwys na ʼn aanhaling van Noah: “Ek het nog nooit toegelaat dat die gedagte aan iets pynliks my verhoed om iets nuuts te probeer nie.”

Volgens die beoordelingspaneel was Noah die ideale kandidaat vir die prys – onder meer weens sy vermoë om ernstige kwessies en ongeregtighede met die “bevrydende mag van lag” te beveg en aan die groot klok te hang.

Die paneel is ook van mening dat Noah tot ʼn groot, diverse en globale gehoor spreek, en nuwe lewe in ʼn gepolariseerde medialandskap geblaas het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Euodia ·

Ja…whatever. mees belaglikste toekenning ooot!! Gedink die Nederlanders het meer insig as dit..rerig!!!

Vrijburger ·

In die VSA het hy dan juis bygedra tot die “gepolariseerde medialandskap”?

Ore ·

Wel wel wel. Kon die Nederlanders nie maar liewer die geld vir Gift of Givers gegee het nie?

Hoekom ·

Hy het nie net bygedra tot die polarisering van die media nie, maar dit aangedryf met mening en selfs sosiale polarisering veroorsaak onder sy luisteraars en kykers…

Bekkie ·

Leon Schuster verdien dit eerder – hy is baie meer snaaks en opreg as die outjie…..rerig ?!

Republikein in die Wes Kaap ·

Van een waker aan ‘n ander waker. Kom ons vertrou Wilgers stop die twak. Nederland is nie ‘n moontheid nie.

Bolandse Nooi ·

OK, so nou kan TN seker darem die dienste van ‘n barbier bekostig sodat daai bosgaas van hom getem kan word … :-)

Bolandse Nooi ·

@Republikein van die Wes-Kaap – as Nederland dan nie ‘n monargie is nie, wat is hulle dan? Hulle het ‘n Koning, Koningin en koningsgesin – weliswaar nie ‘n regerende monargie nie, maar immer het hulle dit.

Hedda ·

Bolandse Nooi, Republikein praat van “moondheid”, nie “monargie” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.