Tribuo-fonds se teatermarathon uitgestel

Weens die beperkings en maatreëls wat op Sondag 27 Junie deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is, sal die Tribuo-fonds se 24-uur-marathon nie kan voortgaan soos beplan nie.

Ses akteurs en twee aanbieders sou op Vrydag 2 Julie deelneem aan die Tribuo Wawyd Wakker-projek, waartydens hulle 24 uur lank sou improviseer om ʼn verhoogstuk ten bate van die Tribuo-fonds te skep.

Die Tribuo Wawyd Wakker-projek is deel van die derde geldinsamelingsprojek van die Tribuo-fonds wat verlede jaar weens die impak van die pandemie die lig gesien het om uitvoerende kunstenaars in finansiële nood te ondersteun.

Die Tribuo-fonds is ʼn nie-winsgewende organisasie wat gestig is in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun.

“Ons is uiteraard baie teleurgesteld omdat ons juis met die Wawyd Wakker-projek mense wou bewus maak van die nood in die uitvoerende kunstebedryf en ook van die struikelblokke wat kunstenaars die hoof moet bied om werk te skep gedurende die pandemie,” sê Cornelia Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief).

Cintaine Schutte, Melt Sieberhagen, Dean-John Smith, Wian Taljaard, Gary Naidoo en Esther von Waltsleben het reeds bevestig dat hulle deel van dié produksie sal wees.

“Nou is dit egter onmoontlik weens vlak 4-inperkings en ons maak staat op die steun van die Suid-Afrikaanse publiek om ons te help deur steeds skenkings op ons webwerf te maak,” voeg Faasen by.

Die beplande deurnagprojek sal wel op ʼn later datum plaasvind.

Die Tribuo-fonds is afhanklik van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen.

Bydraes kan deur private persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ʼn 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

Sedert die stigting van die Tribuo-fonds in 2020 is daar reeds meer as R3 miljoen ingesamel en versprei onder mense wat voor én agter die skerms in die uitvoerende kunste werk.

Kontak [email protected] vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede. Besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.