Troeteldier­versorgings­bedryf beloop miljarde

(Foto: Justin Veenema/Unsplash)

Ál meer mense verkies om veel later te trou, of selfs glad nie te trou nie, en nog meer mense verkies deesdae om later kinders te kry of sommer glad nie.

ʼn Mens kan sekerlik ure lank debatteer oor die redes hiervoor, maar terselfdertyd is daar ʼn definitiewe toename aan mense wat troeteldiere aanskaf in ʼn poging om hulle lewe met samesyn, kameraadskap en liefde te vul.

“Hierdie troeteldiereienaars beskou hulle troeteldiere nie net as metgeselle nie, maar ook as ʼn daadwerklike deel van die gesin,” sê Marycke Ackhurst, troeteldiergedragskenner van Hill’s Pet Nutrition.

Volgens Ackhurst bring hierdie troeteldierouers nie net meer tyd saam met hulle vierpotige babas deur nie, maar bestee ook aansienlik meer geld aan hulle, of dit nou kos, hondedagsorg of speelgoed is – net die beste sal vir hulle deug.

Die wêreldwye troeteldierversorgingsbedryf het van $216 miljard (sowat R3 166 miljard) in 2020 tot $232 miljard (sowat R3 400 miljard) gegroei.

Tydens die pandemie het troeteldiereienaarskap rekordhoogtes wêreldwyd bereik, aangesien dié diere nie net broodnodige geselskap verskaf nie, maar ook emosionele ondersteuning.

Dink ook maar net hoe lekker almal saamgesels oor die oulike dinge wat hulle troeteldiere doen; noem net iets ouliks wat jou kat of hondjie onlangs gedoen het en binnekort sal almal stories en foto’s oor hulle troeteldiere deel.

“Vir baie van ons het troeteldiere ons kinders geword en is hulle ʼn integrale deel van ons gesin met behoeftes wat net so belangrik is soos dié van die menslike lede,” sê Ackhurst.

Navorsing het al keer op keer bewys dat honde help met angs, depressie en eensaamheid. Hulle het ook ʼn positiewe uitwerking op hulle eienaars se gesondheid omdat interaksie met hulle oksitosien, die liefdeshormoon, verhoog.

Baie nuwe troeteldiereienaars sal getuig dat hulle prioriteite vinnig verander sodra hulle nuwe hond of kat by die huis aankom. Skielik moet hulle tuis kom om meer tyd saam met daardie troeteldier deur te bring, daar moet troeteldieroppassers gereël word as hulle uit- of weggaan of hulle verkies troeteldiervriendelike restaurante en vakansieplekke en sluit telkens ʼn lekkerny vir hulle hondjie by die weeklikse inkopies in.

(Foto: Edge2Edge Media/Unsplash)

Plaaslike troeteldierkosbedryf

Plaaslik staan die Suid-Afrikaanse troeteldierversorgingsbedryf reeds op R7,1 miljard, wat ook deur aannemings tydens die inperkingstyd gesteun is.

Intussen het bekende kettingwinkels soos Woolworths besluit om te fokus op iets soos bevrore kos vir troeteldiere. Checkers het selfs besluit om winkels wat slegs troeteldierprodukte verkoop te open.

Bruce Whitfield, aanbieder van die radioprogram The Money Show, het vroeër met Nhlanhla Dlamini, bestuurder-direkteur van die Maneli-groep, gesels. Dlamini is die stigter van Maneli Pets wat kos, en veral lekkernye vir troeteldiere, uitvoer.

Dlamini het in 2015 besluit om die troeteldierkosmark te betree omdat daar minder gevestigde spelers in die mark is. Hy meen ook die troeteldiermark presteer tans beter as die meeste markte vir babas en menslike kos.

Maneli Pets het aanvanklik op lekkernye vir troeteldiere gefokus en daarna lojaliteit opgebou sodat hulle die troeteldierkosmark kon betree.

Dlamini het bygevoeg dat daar nie tans veel kompetisie is vir ʼn eg Suid-Afrikaanse handelsmerk in die bedryf nie. Hy meen die bees- lam-, wild- en volstruisvleis wat plaaslik by troeteldierkos gevoeg kan word, is van die beste gehalte ter wêreld.

  • Hierdie berig is gewysig na die plasing daarvan – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blom ·

Ek stem, ons troeteldiere is ons kinders en ons gee net die beste vir hulle.

Ny ·

My diere is deel van my huishouding. Hulle eet as ons eet. Hulle slaap warm, soos wat ons doen. Hulle kry liefde en aandag, want ons het hulle gekies. My huis is hulle huis.

Blikkies ·

Ons het nie kinders of naby familie nie. Ons drie Jack Russels is ons kinders en deel van ons gesin as n span. Hulle kry net wat hulle wil en kry baie aandag en liefde. Diere is beter as party mense.

Jacques ·

Enige mens wat al met honde te doen kry, sal weet dat dit nie net ‘n dier is nie, maar dat daar ‘n persoon agter daardie oë terugkyk vir jou.

My honde maak my ‘n beter mens en hulle intelligensie is verstommend. Dit is elke sent werd wat ek op hulle spandeer.

So terloops, ek is seker my honde is slimmer as die meeste politici…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.