Trok hang van brug: Twee dood

Foto: ER24

Twee mense is dood en nog drie beseer nadat ʼn vragmotor Woensdagoggend gedeeltelik afgery het van ʼn brug op die R37 in Lebowakgomo in Limpopo.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het die sleepwa van ʼn groot vragmotor in die middel van die pad aangetref met die kajuit van die vragmotor wat van die brug af in die rivier onder gehang het. “Reddingspanne moes gespesialiseerde toerusting gebruik om by die pasiënte uit te kom,” het Meiring gesê.

Drie mans is binne die kajuit van die vragmotor aangetref. Reddingswerkers het die mans uit die kajuit en terug na die padoppervlak gebring waar paramedici op hulle gewag het. Volgens Meiring het die insittendes slegs geringe beserings opgedoen en is hulle op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.

“ʼn Ruk later is die liggame van twee mans in die rivier gevind. Hulle is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Lede van die polisie was op die toneel en sal die ongeluk ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JM ·

Was die twee wat dood is voetgangers of was hulle ook voor in die trok. ‘n Mens kan maar net wonder maar ek glo nie ons sal ooit weet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.