ʼn Voetganger, vermoedelik in sy 20’s, is Saterdagaand in Noordwes doodgery.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het sowat 15 km buite Potchefstroom op die R53 plaasgevind.
“ʼn Vragmotor het die voetganger getref en ʼn kort afstand daarna tot stilstand gekom. Paramedici het teen 20:00 by die toneel opgedaag en die voetganger met veelvuldige beserings aangetref. Daar kon niks vir die man gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.
Die polisie was op die toneel en ondersoek die voorval.