Trok saai verwoesting in Lydenburg

Die oorledenes se motor is eerste deur die vragmotor getref. (Foto: Verskaf)

ʼn Wegholvragmotor het Vrydag verwoesting op Lydenburg in Mpumalanga gesaai nadat die voertuig se remme na bewering onklaar geraak het en dit etlike kilometer ver deur die dorp geploeg het.

Minstens tien motors is deur die wegholvragmotor beskadig terwyl twee mense, ʼn jong egpaar, in die voorval dood is.

(Foto: Verskaf)

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid asook ʼn nooddienswerker verbonde aan die provinsiale brand- en nooddienste, wat op die toneel was, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Die vragmotor het kort voor 13:00 uit die rigting van die Long Tom-pas gekom en buite beheer motors in Voortrekkerstraat getref.

“Die eerste motor wat getref is – ʼn Volkswagen Polo – het twee insittendes gehad. Hulle het nie die slag oorleef nie en is op die toneel dood verklaar,” sê die nooddienswerker.

Die polisie kon nog nie die name van die oorledenes aan Maroela Media bevestig nie.

Die impak van die eerste motor het nie die vragmotor se momentum gekeer nie en dit het voortgegaan om talle ander voertuie in die straat te tref. Private en werksmotors asook infrastruktuur op die dorp is in die proses beskadig.

Die vragmotor het eindelik sowat 4 km verder tot stilstand gekom.

Die betrokke vragmotor. (Foto: Twitter)

Volgens Mmusi word daar in hierdie stadium vermoed dat die vragmotor se remme onklaar geraak het. Die bestuurder het skynbaar ook nie van die noodvragmotorafrit gebruik gemaak wat vragmotors help om tot stilstand te kom nie. Dit is nie duidelik of die bestuurder bewus was van hierdie afrit nie.

“Al die bewerings sal deel vorm van die polisie se ondersoek na die voorval,” sê hy.

Dit is nie bekend of die vragmotorbestuurder in hegtenis geneem is nie, maar die polisie ondersoek tans ʼn saak van roekelose en nalatige bestuur. Aanklagte van strafbare manslag sal na verwagting bykom indien die bestuurder amptelik aangekla word.

“Ons doen ʼn beroep op vragmotoreienaars en -bestuurders om te verseker dat hul vragmotors in ʼn padwaardige toestand is en dat bestuurders uitgerus is voordat hulle op die pad gaan,” sê Mmusi.

“Sommige vragmotormaatskappye prioritiseer die vrag wat dit kan vervoer bó veiligheid en dit bring ander padgebruikers se veiligheid in gedrang.”

Mogotle Nkadimeng, burgemeester van die Thaba Chweu- plaaslike munisipaliteit, het intussen haar meegevoel met die oorledenes se geliefdes betuig.

Sy het ook die betrokke nooddienste bedank vir hul vinnige optrede ná die verwoesting.

“Ek wil graag ook lede van die publiek bedank vir hul ondersteuning by die verskeie van die ongelukstonele.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.