Trokdrywer langs pad aangeval, omgery

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Vragmotorbestuurder is in ʼn kritieke toestand nadat hy Dinsdagaand langs die pad aangeval en toe deur ʼn motor omgery is.

Die bestuurder het dié lot oorgekom nadat hy genoop was om langs die M13 in Durban-wes stil te hou.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê die vragmotorbestuurder moes van dié KwaZulu-Natalse pad aftrek nadat hy meganiese uitdagings met sy voertuig ondervind het.

“Terwyl hy ondersoek na die fout ingestel het, is hy deur ʼn aantal verdagtes aangeval wat hom in bosse ingewag het,” sê Herbst.

“Tydens die struweling met die verdagtes is die bestuurder deur ʼn verbygaande motor getref.”

Luidens berigte het die aanvallers voortgegaan om die man aan te rand terwyl hy bewusteloos in die pad gelê het.

Eers toe talle motors by die ongelukstoneel stilgehou het, het die verdagtes op die vlug geslaan.

Paramedici is kort voor 19:00 na die toneel ontbied, waar hulle die slagoffer in die pad aangetref het.

“Paramedici het bevind dat die man in ʼn kritieke toestand is en hy is aan ʼn ventilator gekoppel,” sê Herbst.

Die pasiënt is na ʼn naburige hospitaal geneem nadat hy op die toneel gestabiliseer is.

Dit is nog nie duidelik wat die omvang van die slagoffer se beserings is nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer oor moontlike verdagtes in die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Nee genade!
Die Vader behoed my dat ek ooit in ‘n motor gaan wees wat onklaar raak langs die pad of die hoofweg. Gevaar skuil agter elke bos.

Jack ·

Net in die land.Jy stop vir niks en ry oor enige iemand wat jou probeer stop.Die man word aangerand terwyl reeds bewusteloos is…doen diere dit ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.