Trokdrywer ondersoek ná treinongeluk

Foto: ANA

Joe Maswangayi, minister van vervoer, het die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) opdrag gegee om saam te werk en so vinnig as moontlik ondersoek in te stel na die tragiese treinongeluk wat Donderdag die lewe van talle mense geëis het.

Maswanganyi het vandag die toneel van die ongeluk saam met Sam Mashinini, die LUR vir polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, besoek.

Maroela Media het vroeër berig die Shosholoza Meyl-trein het omstreeks 09:15 buite Kroonstad ontspoor nadat dit teen ʼn vragmotor gebots het wat die treinspoor oorgesteek het, maar nie vinnig genoeg uit die pad kon kom nie. ʼn Motor was ook glo by die botsing betrokke.

Shosholoza Meyl het gesê sewe treinwaens het ontspoor waarvan een ʼn kragwa is wat help met kragopwekking op die trein. “Die kragwa het aan die brand geslaan en die vlamme het na die volgende wa versprei,” lui ʼn verklaring van die treindiens.

Mthuthuzeli Swartz, waarnemende uitvoerende hoof van Prasa, het bevestig die dodetal het teen laat Donderdagmiddag op 14 gestaan. Volgens Swartz het die vragmotorbestuurder vermoedelik probeer om die treinspoor voor die trein oor te steek, maar het hy die spoed van die trein onderskat. Swartz het gesê dit sal minstens 36 uur neem om die ongelukstoneel op te ruim.

Maswanganyi het teen 16:30 bevestig 239 mense is beseer. Daar was altesaam 429 passasiers op die trein ten tyde van die voorval.

Die beseerdes is deur verskillende ambulansdienste na nabygeleë hospitale geneem. Vier mense het kritieke beserings opgedoen. Die bestuurder van die vragmotor is een van die mense wat na ʼn hospitaal geneem is.

“Die bestuurder is na ʼn hospitaal geneem en toetse sal gedoen word om te bepaal of hy onder die invloed van een of ander middel was. Ons kan nog nie bevestig watter stappe gedoen sal word nie want die owerhede is steeds besig om die saak te ondersoek, maar iets moet gedoen word,” het Maswanganyi op die toneel gesê.

Hy het sy medelye met die naasbestaandes van die oorledenes betuig en die beseerdes ʼn spoedige herstel toegewens.

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Intussen het die United National Transport Union (Untu) die voorval ten sterkste veroordeel en gesê basiese padveiligheidsreëls maak dit duidelik dat alle voertuie altyd by ʼn spoorwegoorgang moet stilhou om eers seker te maak dit is veilig om die treinspoor oor te steek.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het in ʼn verklaring gesê ongeag wat die ondersoek van die RSR bevind, kan daar “vir ʼn feit gestel word” dat die spoorwegoorgang geïgnoreer is. “Dit is iets wat daagliks by spoorwegoorgange reg oor die land gebeur. Bestuurders is bloot net nie bedag daarop dat ʼn trein dalk mag aankom nie,” het Harris gesê.

“ʼn Passasierstrein sal op sy vinnigste spoed 90 km/h ry. Teen die tyd dat die masjinis ʼn voertuig sien wat die spoorweg versper en begin om die noodremme aan te slaan, sal die trein eers tussen 500 m en 1 km verder tot ʼn algehele stilstand kom. Daar is geen manier dat die masjinis die botsing sal kan vermy nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

MCS ·

Is nog op my “bucket list”om met die Shosaloza tereis. Het met mense in Warmbad oor die vakansietyd gepraat wat met die trein van Kaapstad na Johannesburg gereis het en sou ook terug gaan met die trein.Hul kon die ophou praat van die goeie diens wat hul ontvang het van die die personeel en hoe aangenaam die ondervinding was nie. Is waarlik ‘n slegte ding wat gebeur het, weereens as gevolge van iemand wat nie pad reëls kan gehoorsaam. Sterkte aan naasbestaandes en ook beseerdes.

Casper Labuschagne ·

Daardie “bucket list” item moet jy dalk heroorweeg. Ek het graag trein gery, tot enkele jare gelede nog, maar dit is nie wat dit was nie. Die grootste probleem is besprekings, jy kan ‘n ekonomieklas kaartjie onmiddelik kom maar toe ek van Kaapstad tot Klerksdorp wou reis was die toeristeklas plekke vir ses maande voluitbespreek. Daar is eenvoudig nie genoeg waens, of lokomotiewe nie en gans te veel oud Transnet werkers wat op jaarlikse konsessiekaartjies in toeristeklas geregtig is. Indien jy ‘n treinrit as die finale item op jou Bucket List wil plaas, koop dan ‘n ekonomieklaskaartjie, want dit is ‘n heel ander ondervinding wat jy NOOIT sal vergeet nie, indien jy dit wel oorleef.

Pieter ·

Tyd dat die eienaars van vragmotors ook vervolg word. Hul net so skuldig, maar was hul hande in onskuld na ongelukke wat deur hul onverantwoordelike drywers veroorsaak word.

Leeu ·

@Pieter, wat het die eienaars te doen hiermee? As jy dan n Ford ry, en iets dom doen, is dit dan Ford se skuld ook?

Anoniem ·

Die eienaar van die vragmotor moet ‘n bestuurder aanstel wat oor die nodige lisensie beskik, en die vragmotor en sleepwaens moet padwaardig wees. Verder moet die bestuurder nie so lank aanmekaar bestuur dat hy oormoeg word nie.

@ LEEU ·

Ai Leeu lees jy nie of verstaan jy net nie? Wat het Ford met enigiets uit te waai? ‘n VRAGMOTOR het die ongeluk en die dood van die mense veroorsaak, dit is net LOGIES dat die bestuurder en indirek ook die eienaar ‘n aandeel hieraan gehad het en vervolg moet word.

LR ·

Baie van die mense wat hierdie trokke bestuur het nie n goed ontwikkelde diepte en ruimtelike persepsie ( en n sin vir verantwoordelikheid) nie dan gebeur sulke ongelukke.

Ronnie ·

Ek lees al hoe meer van vragmotors wat ongelukke veroorsaak. Is dit net ek wat die patroon raaksien?

jaco ·

Trokdrywer is ‘n direkte vertaling van die Engelse “truck driver”. Die korrekte Afrikaanse woord is vragmotorbestuurder.

MissDemeanor ·

As n woord so gereeld gebruik word dat almal wat dit hoor dit verstaan, dan is dit lankal deel van die taal.

Stefaans ·

Ja, ‘n goederetrein het trokke, vragmotors vervoer goedere op paaie.

Veritas ·

Jaco jy is heeltemal korrek maar die woord ‘ Trokdrywer ‘ word wyd in die volksmond gebruik. Dit is ook die woord wat in die vervoerbedryf as posbenaming gebruik word. Ek glo dit is ‘n aanvaarde term en jy sal vind dat geen trokdrywer homself ‘n ‘Vragmotorbestuurder’ beskryf nie. ‘Lorriedrywer’ klink na ‘n nóg beter woord.

Chrisjan ·

Ons simpatie met die families wat iemand verloor het in die onnodige botsing( dit was NIE ‘n ongeluk nie!)
Die drywer van die vragmotor moet van moord aangekla word en ‘n minium vonnis van 25 jaar sonder parool kry.Daars GEEN verskoning wat hy gedoen het nie.

Lynne ·

Stem 100% saam met jou! Roekeloos & Nalatige Bestuurder wie se kansvatter mentaliteit verreikende gevolge het!

Die Skim ·

More,
Lekker lees ek nou almal se kommentaar en alles is waar! Sal diegene wat nog NOOIT ‘n stop straat ignoreer het deur nie doodstil te stop binne die afgemerkte sper-strepe julle hande opsteek?
Wette en regulasies kan nie die land regeer nie. Jou gesindheid jeens die wette en regulasie regeer. Hekke (outomaties) sal ‘n oplossing wees. Waar is die brandstof heffings wat behoort aangewend te word om paaie te beveilig en instand te hou sodat jou kind nie moontlik so ongeluk kan veroorsaak nie?? Dit is waar ons probleem lê. Dit kan jou kind wees wat daardie lorrie bestuur het. Dit was en is ‘n ongeluk. Sterkte met die naasbesteendes.

JanB ·

Treine is veronderstel om hulle fluite te gebruik by motor oorgange, hulle het 2 fluit syne wat hulle moet gehoorsaam. Dit word ook nie meer gedoen nie. Het dit self onder vind by ‘n kruising. Ek was ‘ n stoker baie lank terug daarom weet ek.

Ouma ·

Volgens mense op die trein is die fluit twee keer geblaas – die ou in die trok was seker doof ook

Ronel ·

Gaan lees die vorige artikels dan sal jy sien dat die passasiers genoem het dat die treindrywer wel twee maal die fluit geblaas het

Amber ·

Stop of nie? Baie dankie vir daardie link. Baie interessante informasie.

Linda ·

On will net vir elkeen wat ons ouers gehelp het vandag baie dankie sê. Hulle is okay net Groot geskrik.

Marietha ·

Jare gelede was daar soms valhekke (“booms”) by spoor-oorgange wat outomaties geval het n sekere tyd voor trein sou kruis. Regering moet sulke veiligheidsmaatreëls weer implementeer.

Gustav ·

Ja Marietha jy is 100% reg. Met ‘n groot rooi stop lig wat aangekom het tot die trein verby was

Ella ·

Ek stem heeltemal met jou saam dat alle paaie wat spoorlyne kruis wat nog in gebruik is, maar regtig ‘n valhekstelsel kan hê. Ek het egter ook al met my eie oë gesien hoe ‘n taxi nonchalant tussen die valhekke aan weerskante van die spoor deurvleg terwyl die trein met groot geskal aangerol kom … want die padreëls geld mos net vir party van ons ;-).

Rooi jan ·

Marietha daardie outomatiese valhek word met n motor aangedryf, hierdie is SA. Hoe lank skat jy gaan so n elektriese motor alleen gelos word as die hek in die middel van nêrens is?

thelsa ·

Dit is skrikwekkend om te dink dat ‘n eienaar van ‘n voertuig ter waarde van ten minste R2m in die hande van ‘n drywer laat om sy bates verantwoordelik te hanteer. Die verantwoordeliksin van die vragmotorbestuurder is zero. Dis mos iemand ander se eiendom. Die lisensie is na alle waarskynlikheid by een of ander ‘fly-by-night’ onderneming gekoop. Om nie eers te praat van die PDP nie. Vlooteienaars behoort ‘n medalje te kry vir oorlewing. As ‘n vlooteienaar rustig slaap snags is hy baie bevoorreg. Dis nag daarbuite mense, dis nag !!!

Johan ·

Ons bly in n land waar ons mense moet wys hoe dit gedoen moet word in die UK in die VSA in al die ander lande is daar hekke voor die trein spoor hoekom word dit nie hier ook gedoen nie ons weet Mense maak foute ons is nie fout loos nie so waar is die hekke wat daar moet wees ja dit is reg om die stop bord daar te sit maar mense vat baie kanse om dit op te los sit hekke op waar dit moet op kom

Hans ·

Jy al gesien wat doen van daardie mense in daardie lande met sulke oorgange. Gaan stop tussen die 2 hekke of ry die goed ook net eenvoudig af. Moet ook sê dit is meestal vragmotor bestuurders wat die skuldiges daar ook is.

Cor ·

Ek wonder wat is die ras van die vragmotor bestuurder, is hy dalk wit as die minister en almal se hy moet ondersoek word want hy is die oorsaak. Wat sou enige van die wat vinger wys in so n situasie gedoen het as sy voertuig op n kruising stol. Daar word bewerings gemaak die bestuurder het met die trein resies gejaag, wat n klomp boel. As jy die omgewing ken sal jy weet dit is onmoontlik om daar te jaag. Jy moet van die hoofpad afdraai dan links op n grondpad en ongeveer 500 meter skerp regs om oor die spoor te gaan, sekerlik nie n kyalami baan nie. Ek hoop die ondersoekende beamptes sal met hulle verstand en nie met hulle emosies die ondersoek doen.

Bekommerd ·

Die vragmotorbestuurder is net so groot kansvatter as die motoriste wat deesdae “kommervry” oor rooi verkeersligte jaag. Hulle is onverantwoordelik en sonder insig! Dit bekommer my: Waar gaan alles eindig?

Heidi ·

Stem saam Ouma, die drywer is nie net doof nie. Skynbaar blind ook.

Pieter ·

Verseker nie op die platteland nie! Waar gaan jy elektrisiteit aanlê in die middel van nêrens? ???. Reis meer, neem agterpaaie, leer jou land ken. Ek doen dit al meer as vyftig jaar!

Attie ·

Dink nie die gemiddelde vragmotorbestuurder is juis ouens wat Fisika op Hoërgraad geslaag het nie. Hul sukkel met die basiese wette van Newton…versnelling, massa, afstand, tyd. Dink nie hul base weet veel meer nie.

Anoniem ·

Daar word net van vragmotorbestuurder gepraat maar niks word oor die motorvoertuig gese hoe hy/sy betrokke is nie?

Casper Labuschagne ·

Ek bly in Kroonstad. Slegs twee treine ry op die spoor vir enkele dae van die week, een voor sewe en die ander in die middel van die nag. Hierdie is ‘n afdraaipad oor die spoor plase toe en die trok was klaarblyklik ‘n graantrok met ‘n sleepwa by. Niemand hier, myself inkluis, kyk regtig eers vir ‘n trein in die middel van die dag nie. In alle waarskynlikheid is die trokbestuurder ‘n plaaswerker of dalk die plaasboer self. Ja, nalatigheid, maar ja, ook ‘n ongeluk met heel verduidelikbare omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.