Trokdrywer soek ná gru-ongeluk in KZN

Die gru-ongeluk het die lewens van minstens 12 mense geëis (Foto: Verskaf)

Die polisie in KwaZulu-Natal is op die spoor van die bestuurder van ʼn vragmotor wat Dinsdagoggend ná ’n noodlottige ongeluk op die R33 tussen Greytown en Northdale in KwaZulu-Natal van die ongelukstoneel gevlug het.

Minstens 12 mense is dood en ses beseer toe die vragmotor, ʼn minibustaxi en ʼn bakkie vanoggend kort ná 07:00 op dié pad in ʼn ongeluk betrokke was.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die vragmotorbestuurder wat na bewering versuim het om by ʼn stopteken stil te hou, het na die botsing van die ongelukstoneel gevlug.

Volgens Mbele ondersoek die polisie sake van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur asook die versuim om te stop ná ʼn motorongeluk.

Maroela Media het vroeër berig paramedici het met hul aankoms op die toneel die taxi regop in die middel van die pad aangetref terwyl die vragmotor op sy kant langs die pad gelê het. Brandstof het uit die tenkwa begin lek, en dit het oor die pad uitgeloop.

Verskeie passasiers is verspreid oor die ongelukstoneel aangetref. Twee was steeds in die taxi vasgekeer.

“Altesaam 12 passasiers het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

Twee ander passasiers is in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Nog vier passasiers het ligte tot ernstige beserings opgedoen en is ook per ambulans na die hospitaal vervoer.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het intussen sy ontsteltenis met die voorval uitgespreek.

“Ons is geskok deur hierdie botsing. Die grusame aard van hierdie ongeluk en die daaropvolgende lewensverlies is skrikwekkend. Ons betuig ons innige meegevoel met diegene wat hul geliefdes in hierdie voorval verloor het en wens die beseerdes ʼn spoedige en volkome herstel toe.”

Volgens Mbalula stel die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) ondersoek in na die omstandighede wat aanleiding tot die ongeluk gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blondie76 ·

Jissou, vir ‘n slag is die taxi nie skuldig nie. Ek stel voor hulle begin by ‘n hospitaal. Ek neem aan daai drywer self het ook seer gekry.

Fedup ·

Unfortunately they can run faster than when they are behind a wheel.

DieKriek ·

Maar wie sê die trokdrywer is nie ook oorlede nie en niemand besef dit nie ?

4ntj13 ·

Anders as die 12 + 2 + 4 passasiers van die taxi het hy seker ʼn veiligheidsgordel aangehad en moontlik niks oorgekom nie. Mens wonder wat was die ander pad se naam of nommer as dit ʼn kruising was. Geen kruising is in die foto sigbaar nie.

Rian ·

Ek is oortuig dat dit nie die trokdrywer se volle skuld vir die ongeluk is nie, hy het net baie groot geskrik en sal hom in Kaapstad vind wanneer hy van die skrik herstel. Iewers was daar gerugte dat ‘n sedan ‘n onwettige U-draai gemaak het en dit due begin en die einde was van die hele gebeurtenis! Die sedan het weggejaag, soek die motor en alles sal duidelik raak!

Yvonne ·

Sjo dis erg…koomerwekkend dat dit is tipies die gedrag van ongedissiplineerde bestuurders…gee nie om oor reels en die gevolge nie

Dana ·

Hopelik het die trok drivecam en kan hul presies sien wat gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.