Trokdrywer steeds onder verdowing ná petrolbom

Bernard Groenewald (Foto: Facebook)

Die vragmotorbestuurder wat die afgelope naweek ernstige brandwonde opgedoen het toe sy vragmotor op die N1 naby Touwsrivier in die Wes-Kaap aan die brand gesteek is, is steeds onder verdowing in die waakeenheid van ʼn hospitaal.

Bernard Groenewald (50) het brandwonde oor 60% tot 70% van sy liggaam opgedoen toe boosdoeners Sondag in die vroeë oggendure ʼn petrolbom deur die venster van die vragmotor langs die pad waarin hy gerus het, gegooi het.

“Hy sal ten minste nog vir tien dae lank onder verdowing gehou word. Dit gaan te seer wees om hom nou wakker te maak,” het Ciska Groenewald, Bernard se vrou, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Groenewald sterk tans aan in die Mediclinic Worcester waar hy ook aan ʼn ventilator gekoppel is weens skade aan sy lugweg. Groenewald se enkel is ook in die voorval gebreek.

Maroela Media het vroeër berig Groenewald het uit die vragmotor gespring toe die voertuig vlamvat waarna hy toe glo deur ʼn onbekende aantal mans gejaag is wat ʼn petrolbom in sy rigting gegooi het.

Hy het later sy hemp afgepluk en op die grond gerol om die vlamme aan sy lyf te blus, vertel sy vrou nou.

Die egpaar woon in die Paarl en Ciska probeer soveel moontlik tyd by sy siekbed deurbring, hoewel sy hul vervoermaatskappy, wat onlangs op die been gebring is, steeds moet onderhou en gereeld moet huis toe ry om die maatskappy se administrasie te doen.

Ciska vertel dat sy gewoonlik saam met Bernard die land vol ry, maar ná die totstandkoming van hul nuwe onderneming moes sy die laaste paar weke by die huis bly en die fort hou.

Bernard en Ciska Groenewald. (Foto: Facebook)

Haar swaer Jan Jansen het Sondag in ʼn ander vragmotor saam met Groenewald gery toe dié twee besluit het om vir die nag af te trek en langs die pad, sowat 10 km buite Touwsrivier, te rus. “Jan is ook geteiken. Hulle het dieselfde met hom gedoen, maar hy kon wegkom sonder om te brand,” het sy gesê.

Groenewald het egter sleg daarvan afgekom en het veral ernstige brandwonde aan die regterkant van sy lyf opgedoen.

“Hy is al 30 jaar lank in die vervoerbedryf. Dit is sy lewe. Die hele gemeenskap ken hom al en hy is baie lief daarvoor om vragmotors te bestuur,” sê Ciska.

Sy vertel dat dit steeds nie duidelik is waarom Groenewald en Jansen met petrolbomme bestook is nie. “Almal wil weet wat die motief is. Ek wens ek het geweet. Hulle het niks gesteel nie. Hulle het nie eers gekyk wat die vrag is nie, so roof was definitief nie die motief nie,” sê sy.

Is sy kwaad oor die voorval?

“Vir wie moet jy kwaad wees?” antwoord Ciska. “Hulle vang nooit daardie mense nie. Jy kan nie vir almal loop en kwaad wees nie, maar dit is baie moeilik. ʼn Mens wonder hoekom ons, maar dit is die grootste genade dat my man lewe.”

Sy sê daar het kort ná die voorval ʼn noodvoertuig by Groenewald stilgehou, nog voordat die polisie ontbied kon word. “Daar was soveel dinge waarvoor ons die Here kan dank, daar is nie tyd vir ons om kwaad te wees nie. Ons moet net dankie sê hy lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Arno Scheepers ·

Ciska ons bid vir jou. Ons Vader sal jou hier deur help.
Bernard, die wakker word gaan hel wees. Ons dink aan jou elke oomblik.
Julle regering het julle versaak.

Netso ·

Dis lankal nie meer ñ plesier om ñ lorries te hê nie! Sterkte met jou herstel en hoop die National Bargaining Council of Road Freight gan vir jou finansies sorg!

Mimi ·

Ai so baie baie jammer dat Bernard die vreeslike ervaring moes deurmaak! Alle sterkte, en ons hoop regtig hy herstel goed. Baie sterkte aan sy vrou Ciska! Julle klink vir my sulke moedige, vorentoe beur mense. Mag alle seën met julle wees.

Jhaime ·

So jammer Ciska ekt die trok gesien Sondag toe hul dit verwyder was nie mooi gewees alle sterkte God sal hom en julle deurdra

Karin ·

Sterkte, VIT. C EN ander vit. Baie yoghurt. Gaan hom gouer help herstel! Wonderwerke gebeur nog!

Heksie ·

Ja my oorlede pa het altyd gesê as daar eers diesel in jou bloedstroom is, is daar geen keer.
Hoop hy word gou gesond en glo my die motief, dit is net omdat hy blank is!

Nollies ·

Anergie , wetteloosheid, gaos en verpligte belasting wat betaal moet word.

Sarel ·

Maar sou hy die kans kon kry om n aanvaller of twee te skiet was hy nou in die tronk.

Oujongvrou ·

Vragmotor bestuurders moet asb gewapen ry. Dis oorlog op die vragmotors. En ek stel voor julle ry in dorpe net na n woongebied straat en parkeer daar. Ek is seker die inwoners sal nie kla as jou vragmotor tjoepstil daar staan en julle bietjie slaap nie. Voel vir my God het sy hand van ons weggevat en ons is aan die genade van die bose oorgelaat.

Keelvol ·

“Boosdoeners” is sagkens gestel. Maak n mens so geweldig kwaad! Bid vir God se genade wanneer hy wakker word, en mag God asb hom en sy familie help deur die moeilike tyd. Amen.

Piet ·

As jy waag om “een van die mense” soveel soos n klap te gee ! (laat staan skiet ens) , is jy op elke koerant voorblad , in die hof en in die tronk. “Hulle” blyk onopspoorbaar te wees en kom weg met moord.
Waar was die dae dat jy enige plek na Kroonstad oppad na die Kaap , op die N1 met jou deure wa-wyd oop kon slaap. Die enigste bedreiging toe , was muskiette ! Totaal onveilig nou in “truck stops” en langs die pad. In baie dorpe mag trokke nie eers oornag nie !

Magaretha van heerden ·

Ek bly in UK. Ken nie die mense . Ons bid vir hulle. Hou ons asb op hoogte van sy vordering.

toy ·

Om te dink in sy toestand wat hy brand jaag hulle hom met ‘n petrolbom. Watse mens moet jy wees om so iets aan ‘n ander persoon te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.