Trokdrywer sterf ná petrolbom

Die uitgebrande vragmotor. (Foto: Verskaf)

Die bestuurder van ’n vragmotor is Vrydagmiddag in ’n petrolbomaanval in Limpopo dood.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring Kagiso Mphelane (30) en twee ander werkers het ’n vrag vervoer toe onbekende verdagtes omstreeks 17:00 ’n petrolbom na die vragmotor in die Tshehlwaneng-nedersetting tussen Jane Furse en Sekhukhune gegooi het.

Volgens Mojapelo het die kajuit van die vragmotor aan die brand geslaan en die bestuurder is in die voorval dood. Die twee ander insittendes het ernstige brandwonde opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal gehaas.

Dié vragmotor het aan ’n plaaslike maatskappy Jane Furse Builders Supply behoort.

Daar word in dié stadium vermoed dat die voorval moontlik verband hou met ’n voortslepende staking deur werknemers van dié onderneming wat daartoe gelei het dat sommige van hulle afgedank is, verduidelik Mojapelo.

Die polisie ondersoek ’n aanklag van moord, twee aanklagte van poging tot moord en ’n aanklag van kwaadwillige skade aan eiendom.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om lt.kol. Phalane by 082 414 2663 of die Misdaad Stop-nommer 0860010111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.