Trokdrywer vas ná ‘kaping’

Die wa van die ‘gekaapte’ vragmotor. (Foto: Verskaf)

Elf verdagtes, waaronder ʼn vragmotorbestuurder, sal na verwagting Woensdag in die Durbanse landdroshof verskyn nadat ʼn vragmotor kwansuis verlede week by ʼn hawe in die stad gekaap is.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê die vragmotorbestuurder het Vrydag ʼn kaping by ʼn polisiestasie op die kusdorpie Umkomaas aangemeld. Die bestuurder het in die klag aangevoer dat hy vroeër in ʼn vragmotor by Maydon‑kaai oorval is, waarna die verdagtes met die vragmotor op die vlug geslaan het.

Volgens Naicker het polisiebeamptes die vragmotor binne enkele ure verlate naby die Umgababa-afrit op die N2-snelweg opgespoor. Daar was egter geen teken van die vragmotor se wa óf vrag nie.

Verdere ondersoek het die polisiebeamptes Maandag na ʼn pakhuis in Isipingo gelei waar hulle die vrag in die besit van vier verdagtes aangetref het. Dié verdagtes is op die plek in hegtenis geneem.

Die vragmotor se wa is later in Jacobs opgespoor. Daar het polisiebeamptes inligting ontvang wat hulle terug na Isipingo gelei het waar nóg ses verdagtes weggekruip het.

Dié verdagtes is ook in hegtenis geneem en die polisiebeamptes het op vier voertuie wat in die kaping gebruik is, beslag gelê.

Toe die polisiebeamptes twee en twee bymekaar sit, het hulle besef die vragmotorbestuurder was by die kaping betrokke, vertel Naicker. Die vragmotorbestuurder het na bewering die vragmotor saam met sy vrag aan die ander verdagtes verkoop.

Die vragmotorbestuurder is in KwaMakhutha in hegtenis geneem en gesteelde goedere ter waarde van sowat R1,5 miljoen is herwin.

Volgens Naicker word die elf verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 39 en 50, vir diefstal en die besit van gesteelde goedere aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

louis strydom ·

Gee vir hulle parool sodat hulle dit die kan regkry

Neels ·

Welgedaan Mnr Naicker,knap speurwerk deur SAPD . Ek se mos nog altyd datmeerderheid van die vragmotorkapingd deur die drywer of iemand na aan die vervoer maatskappy georkestreer word . Dit isn maklike manier van geld maak sou hy daarmee wegkom

Scalla ·

Dit is hoekom buitelanders wil en kan werk, geen vertroue en pligsbesef deur sekere comrades.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.