Trokdrywer vas wat byna 1 900 kaste bier vervoer

(Foto: pixabay)

Die bestuurder van ’n vragmotor is Vrydagmiddag in Durban in hegtenis geneem nadat hy met ’n vrag van 1 890 kaste ingevoerde bier op die snelweg voorgekeer is.

Ravi Pillay, LUR vir ekonomiese sake, toerisme en omgewingsake, sê die alkohol, met ’n beraamde waarde van R1,9 miljoen, is na bewering op die vragmotor by ’n depot in Sydneyweg in Durban gelaai en moes na Johannesburg vervoer word.

Die bestuurder van die vragmotor het nie oor ’n permit beskik wat toon dat hy toestemming gekry het om alkohol gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk te vervoer nie. Die bestuurder én vragmotor is na die Umbilo-polisiestasie in Glenwood geneem waar die bestuurder van die onwettige vervoer van alkohol aangekla is.

“Dit blyk uit die inligting wat ons van die polisie ontvang het dat dit ’n blatante oortreding van die land se aangepaste vlak 3-afsonderingsregulasies was. Die regulasies is duidelik oor die verkoop, verspreiding en vervoer van alkohol gedurende hierdie tydperk. Die wet moet dus sy gang gaan,” het die LUR gesê.

“Ons het hier te doen met ’n baie gevaarlike pandemie wat teen ’n onrusbarende tempo toeneem. Baie gesinne het geliefdes aan die pandemie verloor. Die land verloor daagliks voorsteliniewerkers. Alkohol is geïdentifiseer as die grootste bydraer tot die verspreiding van hierdie virus en daarom sal enige onwettige verkope van alkohol waarskynlik direk tot die verspreiding van infeksies bydra.”

Die LUR doen ’n beroep op ondernemings om verantwoordelik op te tree en die Covid-19-regulasies na te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.