Trollienael  help diere in nood

Kristian Meijer (Rekord), Phillip Bruwer (Maroela Media) en Korky Levanon (Tshwane-DBV).

Kristian Meijer (Rekord), Phillip Bruwer (Maroela Media) en Korky Levanon (Tshwane-DBV).

Twee joernaliste, twee kruidenierstrollies en twee minute. Dié kombinasie tesame met die Kersfeesgees van Centurion Lifestyle Centre se bestuur het Woensdagoggend gesorg dat die Tshwane-DBV in Pretoria ʼn ruim skenking van nagenoeg R5 000 se hondekos en ander broodnodige items kry.

Die twee joernaliste, onderskeidelik van Maroela Media en die Rekord-gemeenskapskoerant, het voordat die Pick n Pay se deure amptelik vir die publiek oopgemaak het, twee minute lank deur die gange in die supermark genael om soveel as moontlik op die DBV se wenslysie in hul kruidenierstrollies te laai.

Korky Levanon, woordvoerder van die DBV, kon met ʼn glimlag en onder meer batterye, skryfbehoeftes, katsandbakke, staalkosbakke, halsbande en talle sakke droë hondekos daar wegstap.

Mari-Lizé Zwarts, bemarkingsbestuurder van Centurion Lifestyle Centre, het gesê dit is die derde keer wat hulle dié jaarlikse trollienael ten bate van die DBV doen.

“Die sentrumbestuur ondersteun die DBV en Kansa gereeld vir die goeie werk wat dié organisasies in die gemeenskap verrig,” het Zwarts gesê.

Sy het gesê inkopiegangers kan tot en met 25 Desember hondekos by die sentrum skenk, wat alles aan die DBV geskenk gaan word.

“Ons het ʼn groot Kersboom opgerig waar die hondekossakke opgestapel kan word. Ons noem dit ons Tree of Charity en hoop om dit tot bo gevul te kry.”

Zwarts het ook genoem dat inkopiegangers tot Vrydagaand kan deelneem om die kans te staan om hul eie trollienael by Pick n Pay of Checkers te wen. Deelnemers wat ʼn sekere hoeveelheid geld by die sentrum bestee, kry die kans om in te skryf. Die name van die wenners word Maandag getrek.

Levanon het die sentrum en die joernaliste bedank vir die bydrae wat gemaak is om hulle in staat te stel om na die stad se diere in nood om te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Graeme van Niekerk ·

Julle is Jedi Masters!!!!

Hoe kan iemand van hier af help (Australië)?

Goeie Karma op julle!!

Eliza-beth ·

Ai Graeme van Niekerk, dit gaan swaar met al ons diere; bv SPCA in Krugersdorp moes toemaak weens geldtekort. Daar is ‘n soort van “stasietjie” en as jy hul bel sal hul diere kom verwyder en na Johannesburg se DBV neem maar ja… ek seg liewers niks. SKENK, SKENK, SKENK. Jou geld is baie meer werd as ons rand so gaan op hul webwerf of enige ander iets soos PAWS of Wetnose foundation – enigiets en stuur ‘n geldjie man! Seënwense vir jou daar in die land van Oz ;D! FANTASTIESE poging deur almal betrokke by hierdie insameling. Dis wel “ruim” soos die artikel sê, maar glo my, dit kom net so ver. So mense, in plaas van NOG lekkers of speelgoed vir die kiddies, vat hul saam met julle na enige diereskuiling al is dit met een sakkie honde-/katkos – so leer hul ook van gee en omgee. EK VRA MOOI NAMENS AL DIE NATNEUS DIERE! Hulle kry baie swaar oor die feestyd.

Graeme van Niekerk ·

Elizabeth: is daar ‘n URL iewers?

Sal graag wil help. Die Aussie $ mik nou na R12!!
Lol!!

Eliza-beth ·

Graeme: dink nou as jy AUD10.00 aan elkeen skenk is dit ongeveer R120.00 – elke sent help mos en dan het jy net ‘n paar pakke lekkers minder om te koop, spaar tandarts fooie ens ens :D! Hier is ‘n paar websites: http://www.nspca.co.za (dis die DBV) dan is daar http://www.wetnose.org.za en daar is ook http://www.fourpaws.org.za en http://www.samast.co.za (doen massa sterilisasies in bv Khayalitsha en is besig om dringend fondse te soek om ‘n ambulans vir die diere te koop); so enigeen sal hulp waardeer hoor. Daar is tonne ander, hierdie is net ‘n paar en THANX namens die diertjies dan!!

Stuart ·

Ons kan regtig almal probeer om aan diere organisasies oor die feestyd iets te skenk. Een sak honde/katkos gaan nie die bank breek nie, komman mense!

Graeme van Niekerk ·

Elizabeth: dankie vir die URL’s.

Sal gaan kyk en verseker help – dankie aan almal hier die verteenwoordig wat nie vir hulself kan praat nie. Julle is die WERKLIKE sout van die Aarde. Diere (enige dier) wat swaarkry agv ons selfsug is benede verfoeilik. Gaan nou slaap (as daar plek op die bed is – die honde vat al die ruimte en slaap in enige posisie wat hulle voor lus het en as ek hom probeer skuif dan grom hy vir my – grrrrrrrrrrr!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.