Trollip dien klag in teen Baai se burgemeester

Athol Trollip, die voormalige Port Elizabethse burgemeester, buite die Humewood-polisiestasie in Port Elizabeth. (Foto: ANA)

Athol Trollip, die voormalige Port Elizabethse burgemeester, het Woensdag ʼn klag van korrupsie teen sy opvolger, Mongameli Bobani, en die voormalige ANC-streeksekretaris, Zandisile Qupe, aanhangig gemaak.

Trollip het Bobani gister by die Humewood-polisiestasie in Port Elizabeth daarvan beskuldig dat hy ʼn reputasie het om ontslae te raak van stadsbestuurders wat ondersoek instel na die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS), wat teen dié tyd bekend staan as die Baai se grootste korrupsieskandaal.

Trollip beweer na aanleiding van verdoemende mediaberigte dat Bobani en Qupe betrokke was by korrupsie en bedrog binne die IPTS-busstelsel. Hy beweer dat dié twee glo voordeel uit openbare fondse getrek het.

Bobani het in 2013 in die hooggeregshof in Port Elizabeth aansoek gedoen vir die skorsing van die destydse stadsbestuurder, Lindiwe Msengana-Ndlela, omdat sy kwansuis onbevoeg was vir haar pos. Die hof het die aansoek egter afgekeur en Bobani was verantwoordelik vir die regskoste daaraan verbonde.

Msengana-Ndlela, wat as kandidaat uitgesoek was vir die pos, het akademiese en bestuurservaring in die provinsiale én nasionale regering gehad. Sy wou destyds ʼn verdagte kontrak kanselleer wat te make gehad het met die bekendstelling van openbare vervoer.

Volgens The Herald het die plaaslike prokureur David le Roux in ʼn verklaring uiteengesit hoe Nadia Gerwel, ʼn voormalige assistent-direkteur in die Nelson Mandelabaai-departement se finansieringsdepartement, Le Roux gevra het om ʼn betaling van IPTS-geldbronne te fasiliteer om Bobani se regskoste te finansier.

Le Roux het gesê dat hy in Julie 2014 ʼn vergadering met die voormalige IPTS-hoof, Mhleli Tshamase, en Gerwel gehad het.

Volgens Le Roux se verklaring is hy toe gevra om twee fakture uit te reik wat saam R1 miljoen beloop het waarna dié geld in Bobani se rekening oorgeplaas moes word, het The Herald berig.

Trollip het gesê dat Le Roux se verklaring, vervat in ʼn forensiese verslag deur Deloitte, egter nie geteken was toe dit op sy tafel as burgemeester beland het nie.

“Die probleem met die verklaring is dat dit nooit onderteken was nie en dít het dit baie moeilik gemaak vir enigiets om te gebeur.” Trollip sê dit is frustrerend aangesien sake van dié aard altyd op ʼn tegniese punt ʼn stille dood sterf. Hy het dit met die Bosasa-saak vergelyk.

Volgens Trollip is die verklaring sedertdien onderteken, wat die voormalige burgemeester aangespoor het om nou die klag teen Bobani aanhangig te maak.

Bobani word na bewering ook deur die Valke ondersoek oor beweerde betalings aan hom van meer as R600 000 deur Heerkos Projects, wat besit word deur die sakeman Fareed Fakir.

Dít volg nadat die Valke verlede jaar op die stadsraad toegeslaan het met ʼn lasbrief en op dokumente en rekenaars beslag gelê het. Dié klopjag het betrekking gehad op ʼn ondersoek na die IPTS-skandaal.

Bobani het in sy beweerde jongste aanslag op die Baaise stadsbestuurder ʼn kruistog gelei vir die skorsing van die stadsbestuurder Johann Mettler.

Volgens Trollip se beëdigde verklaring aan die polisie is dié aanslag gemotiveer deur die feit dat Mettler, bygestaan ​​deur die Nasionale Tesourie, die dryfkrag was agter die ondersoek na die beweerde korrupsie en bedrog in die IPTS-projek.

Mettler is in September verlede jaar tydelik geskors en is besig om die saak in die hof te beveg. Mettler het ook gedurende sy ampstermyn strafregtelike klagte teen Gerwel en Cheeky Watson, die voormalige Oos-Kaapse rugbybaas, aanhangig gemaak.

Bobani het in reaksie op Trollip se klag teen hom sy voorganger as ʼn leuenaar uitgemaak. “Die wit man Trollip is ʼn leuenaar. Hoekom moet ek kommentaar lewer op leuens?” het Bobani gesê.

Toe die huidige Baaise burgemeester gevra word oor bewerings dat hy ʼn aanslag teen stadsbestuurders voer wat IPTS-korrupsie ondersoek, het Bobani gesê: “[Trollip] het daaroor gelieg en hy het vir die polisie gelieg. Hy doen wat sy voorvaders gedoen het, soos hulle oor Mandela gelieg het.”

Die Nasionale Tesourie het in 2007 ʼn begroting van R208 miljoen goedgekeur vir die verbetering van die IPTS-stelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D B ·

Aai, altyd die “wit man”. Nou wie is nou eintlik die rassis? Gaan dit ooit einde kry? Nee! Hulle het net een ou storietjie vir alles.

Riaan ·

da kon nie NMB behou nie en kon nie van nuwe burgemeester ontslae raak in ” motion of no confidence” nou skielik allerhande ander dinge?

da raak desperaat!

Klaas di Baas ·

Behalwe die korrupsie, is die paaie in die middestad en naby daaraan, so herbou, dat verkeer uiters benadeel word. Patete wat maande oorsee kuier om te kyk hoe dinge daar gedoen word, en dan kom en paaie wat werk, onbegaanbaar maak. Na baie jare is die IPTS nog n wit olifant van die ANC wat belastingbetalers se geld mors in die stad.

Dries du Toit ·

Wonder wat se Holomisa van sy man Bobani. Altyd gedink Holomisa is n eerlike man. MM moet sy kommentaar nou kry en dit vergelyk wanneer Bobani skuldig bevind word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.