Trollip en DA oorleef in Port Elizabeth

Athol Trollip, die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Facebook

Die DA-gesinde koalisie in die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth het vanoggend ʼn mosie van wantroue oorleef nadat die einste koalisievennoot wat die mosie ingestel het, omgeswaai het omdat hy nie die burgemeester kon word nie.

Dit was kleindorpse belangepolitiek op sy ergste wat gemaak het dat die Patriotic Alliance (PA), ʼn klein bruin nasionalistiese party met die slagspreuk “Leave the rhino, save the bruin ou”, omstreeks middernag gisteraand omgeswaai het en teen hul eie mosie van wantroue in die DA-burgemeester, Athol Trollip van die DA, stelling ingeneem het in ruil daarvoor dat die PA se enigste raadslid, Marlon Daniels, onderburgemeester word.

Die DA het vroeër onderneem om nie weer ʼn onderburgemeester aan te stel nie, grootliks omdat daar nie spesifiek take is vir so iemand nie, maar dis duidelik dat die DA nou omgeswaai het in belang daarvan om aan bewind te bly.

Daar was vanoggend genoeg aanhalings uit die gelykenisse om as grondslag vir ʼn erediens te dien soos die regerende koalisie hul aksies verduidelik het. Die gelykenis van die verlore seun, die verlore muntstuk en die verlore skaap is as verklaring vir die skielike ommeswaai aangebied, maar daar was geen verwysing na politieke opportunisme nie.

In die metroraad het die DA 57 setels, die ANC het 50, die EFF het 6, die UDM 2 en die ACDP, AIC, Cope en die PA elk een setel in die raad van 120.

Die mosie van wantroue in Trollip en die speaker, Jonathan Lawack (DA), is gestel deur die PA met die ondersteuning van die ANC, EFF, UDM en AIC – 61 stemme uit 120 teen 59 vir die pro-DA-groepering, en dus genoeg om Trollip te ontsetel.

Die aanvanklike plan was dat Daniels dan burgemeester sou word, maar verlede week het die EFF en UDM omgeswaai en eerder Mongameli Bobani (UDM) as burgemeester voorgestel.

Donderdag se vergadering. Foto: Raahil Sain/ANA

Met dié dat hy nie meer burgemeester kon word nie, het Daniels, die aanvanklike aanstigter van die mosie, gisternag teen sy eie mosie gedraai in ruil vir die DA se aanbod om hom onderburgemeester te maak (ten spyte daarvan dat die DA eintlik meen daar is nie werk vir ʼn onderburgemeester nie).

Teen vanoggend was Daniels dus terug in die DA-kamp, met die aanbod om onderburgemeester te word in sy sak. Tydens ʼn relatief chaotiese stadsraadsvergadering het die ANC-groepering beswaar gemaak daarteen dat hulle die agenda te laat ontvang het en dat die raadsvergadering dus ongeldig was.

Die 60 ANC-gesindes (ANC, EFF, UDM en die klein Matatiele-party, die AIC) het dus uitgestap en net die 60 DA-gesindes (DA, Cope, ACDP en PA) in die raad gelaat. Dit was te min vir ʼn kworum en die sitting is onverrigter sake verdaag.

Die ANC het aangedui dat hulle op die eersvolgende raadsvergadering ʼn mosie van wantroue in Trollip sal stel, en dat hulle meen sommige DA-raadslede sal vir hul mosie stem. Op hul beurt het die DA gesê daar is van die lede van die ANC-gesinde groepering wat vir hulle sal stem.

Albei kante maak hoogheilig daarop aanspraak dat dit nie vir hulle om posisies gaan nie, maar om dienslewering aan die mense van die metro.

Die lank en kort van sake is dat die DA-gesinde koalisie aan bewind bly, dat Trollip burgemeester bly, dat die mense van Nelson Mandelabaai meer geld betaal vir raadslede deurdat ʼn nuwe pos (onderburgemeester, met personeel en onkoste) geskep is, dat die PA-raadslid wat die magsbalans hou (Daniels) nou meer betaal gaan word en dat die ANC-gesinde groep by die volgende raadsvergadering nog ʼn mosie van wantroue sal stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Volgens die EFF is die stomme Trollip se enigste sonde die feit dat hy wit is. Almal stem saam dat hy n goeie werk doen, maar hy bly WIT. Dus moet hy loop. Wat n belaglikheid!

Sarel ·

Dit is beter dat die hierdie reëling getref is want almal in NMB Metro sou baie, baie meer verloor het as die opposisie weer kans gegun word om die DA se goeie werk ongedaan te maak.

Sulet ·

Jan-Jan, jy het my nou lekker laat lag met jou bewoording van die berig. Mag en geld praat lekker uit die gestoeltes uit en sal ook altyd so wees.

nico k ·

Jan Jan is reg oor sy politieke opportunisme, maar ek stem saam met Sarel. Eerder ‘n opportunistiese DA as die ANC/EFF koalisie.

Hector Jooste ·

So is die totale politiek in SUID-AFRIKA van bo tot onder aan hierdie tipe beginselloosheid uitgelewer.

Willem ·

Daniels is ‘n opperste opportunis, hy gee nie ‘n snars om vir enigiemand anders nie, hy het geen intergriteit nie. Kom ons hou hom dop as die volgende skoot klap.

Theo ·

Wys jou weereens as jy WIT is moet jy waai, hoeveelkeer gaan die mosie nog tot verveelens toe in gedien word? die reenboog nasie van Mandela en kie laat nie wit toe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.