Drie mense is Woensdagaand in ʼn trompopbotsing in Limpopo dood.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die botsing het buite Polokwane (Pietersburg) in Lebowakgomo plaasgevind.
“ʼn Vragmotor en ʼn Jeep het mekaar by die Lebowakgomo-stadion reg van voor getref. Die Jeep, met drie insittendes, het daarna aan die brand geslaan en uitgebrand. Die oorsaak van die ongeluk is tans nie bekend nie, maar sal deur nadere ondersoek vasgestel word,” het Ngoepe gesê.
Die mense is op die toneel dood verklaar. Hulle is onherkenbaar verbrand en hul nasionaliteit, ouderdom en geslag sal deur forensiese ondersoeke vasgestel word.
Die bestuurder van die vragmotor het geringe beserings opgedoen.