Tronk toe met dié wat hulp vir KZN steel – Cele

Inwoners van die Inanda-township staan tou vir skoon water nadat oorstromings talle lewens geëis, mense dakloos gelaat en groot skade aan infrastruktuur aangerig is. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

“Mense wat plunder en geld steel gaan in hegtenis geneem word. So eenvoudig soos dit,” het Bheki Cele, minister van polisie en voorsitter van die regering se veiligheidsgroepering, Donderdagmiddag gesê.

Cele het gereageer op ʼn vraag oor die groot kommer wat heers dat die geskiedenis hom gaan herhaal en hulpbronne wat vir vloedslagoffers bedoel is, in gulsige kaders se hande gaan beland.

Verskeie partye het ook reeds gevra dat besonderhede oor presies hoe die geld wat vir die provinsie se herstelprogram bewillig is, aangewend gaan word.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër onderneem dat daar “geen ruimte vir korrupsie, wanbestuur of bedrog van enige aard” sal wees nie. Die nasionale regering het reeds sowat R1 miljard bewillig vir noodleniging, terwyl verskeie private instellings, organisasies en maatskappye ook ingespring het om te help.

“Dit sal goed wees as mense nie vir die polisie wag nie, maar na hul gewete luister. Die situasie daar is benard,” sê Cele.

Die minister sê as jy ʼn familie besoek het waarvan net twee lede oor is nadat die oorstromings die lewe van tien ander geëis het en “jy het die vermetelheid om daarheen te gaan en te steel, is jy nie ʼn mens nie. Jy is ʼn soort dier”.

Cele sê daar moet op mense se gewete staatgemaak word.

“Maar as hulle gewete hulle in die steek laat, moet die staat daar wees om hulle daaraan te herinner waar hulle hoort.”

Maroela Media het vroeër berig dat die KwaZulu-Natalse premier om verskoning gevra het nadat ʼn watertenkwa buite sy huis op La Mercy geparkeer was, terwyl duisende mense in die gebied weens skade aan infrastruktuur sonder water – en in sommige gevalle selfs sonder ʼn heenkome – gelaat is.

Die eThekwini-munisipaliteit moes ook terugkrabbel ná ʼn beskuldiging dat een van sy amptenare ʼn bakkievrag kospakkies gesteel het. ʼn Video van die beweerde “diefstal” het opslae gemaak, maar die munisipaliteit sê die vrou is een van sy amptenare en was aangewys om die skenkings na ʼn township te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Sjoe, dankie tog Minister Cele is daar om weer soos tydens die Durban-onluste sake reg te ruk. Diewe sal saam diegene wat so gegryp het uit winkelsentrums sit… Vir laaank. Volgens bewerings wat duidelik leuens is, is hulle nog net besig om te soek vir waar hulle die tronk moet bou vir die skelms. Die bouwerk sal glo definitief binne die volgende 50 jaar begin indien fondse beskikbaar raak.

Strandloper

Mooi man…so die hele anc hoort daar

marius

Maar by ander plekke kan hulle steel soos hulle wil .

Johan

Hoed praat baie maar niks gebeur

Hendrik Johannes Nel

Wie kan hierdie man enigsins ernstig opneem? Dieselfde mense wat alewig die snaar tokkel “innocent until proven guilty”. Tot dusvêr het hulle nog geen korrupte kader in hegtenis geneem. Hoekom moet ons dit nou glo. O ekskuus, dis Paastyd met die Paashaas.