‘Tronk toe’ met munisipale bestuurder – Koster-inwoners

Die organisasie het die water- en riooldienste oorgeneem nadat die munisipaliteit dit jare lank verwaarloos het. (Foto: Willie Jones)

Lede van die drukgroep Kgetlengrivier– besorgde inwoners (KBI) gaan die hooggeregshof in Mmabatho vra om die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit tronkstraf op te lê vir sy minagting van ʼn hofbevel. AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het die KBI met die opstel van die hofstukke gehelp en ondersteun dié organisasie met die regsproses.

Joseph Mogale is reeds ʼn opgeskorte vonnis van 90 dae tronkstraf opgelê omdat hy en die munisipaliteit versuim het om aan ʼn vorige bevel te voldoen.

Die hof het reeds in Desember verlede jaar ʼn interimbevel gemaak dat die KBI sekere van die water- en riooldienste in die omgewing van Koster en Swartruggens kan oorneem omdat die munisipaliteit dit al jare lank agterweë laat. Die bevel is op 12 Januarie deur ʼn skikking tussen die partye gefinaliseer, wat ’n bevel van die hof gemaak is.

Die KBI het hom aanvanklik na die hof gewend omdat watervoorsiening in dié dorpe gebrekkig of afwesig was, en omdat drinkwater met onbehandelde rioolvuil besoedel is.

Die hof het verder in die bevel tronkstraf aan die munisipale bestuurder opgelê indien hy of die munisipaliteit nie bepaalde vereistes binne ’n sekere tydperk nakom nie. Dit sluit in dat die storting van rou rioolvuil in die Elands- en Kosterrivier binne tien werksdae vanaf die datum van die bevel opgeklaar word.

Die munisipaliteit moet ook alle nodige stappe doen om te verseker dat rou rioolvuil nie in dié riviere of op die grond om die onderskeie rioolwerke by Koster en Swartruggens gestort word nie, die munisipaliteit moet dadelik ophou om om pype, slote of vore te gebruik om rou rioolvuil van Koster en Swartruggens na die riviere te herlei en die munisipale bestuurder of munisipaliteit moet binne 11 werksdae vanaf die datum van die hofbevel ’n verslag saamstel oor stappe wat hulle gedoen het om die storting van rioolvuil in die riviere te verhoed en hoe hulle beplan om dit in die toekoms te voorkom.

Dit is nie gedoen nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Reint Dykema/AfriForum)

Nel sê gelykheid voor die reg is ononderhandelbaar. “Daarsonder kan geregtigheid nie geskied nie.”

Hy sê in die aansoek voer hulle aan Mogale – as munisipale bestuurder – het die bevel doelbewus en in kwader trou verontagsaam. “Dit is duidelik: Daar was ʼn blatante verontagsaming van die hofbevel.

“Ons sien al hoe meer dat amptenare hulself beskou as verhewe bo hofbevele; hulle weier om daaraan gehoor te gee.

“Ons gaan die hofstukke binne die volgende week indien.”

Nel sê om ʼn hofbevel af te dwing, moet daar sekerheid wees dat die persoon self ʼn verantwoordelikheid het – dat die aanspreeklikheid nie by byvoorbeeld ʼn kantoor berus nie – vir ʼn spesifieke taak. “In hierdie geval is daar vir ʼn spesifieke persoon gevra om ʼn verslag te lewer wat hy net nie gedoen het nie.

“Mense moet tronk toe gaan. Daar moet aanspreeklikheid wees as mense nie hulle werk doen nie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê met die aansoek wil hulle ʼn boodskap aan alle munisipale bestuurders stuur dat daar ernstige gevolge gaan wees as hulle nie hul werk doen nie.

Dit kan tronkstraf insluit.

Kriel benadruk dat die kwessie nie verpolitiseer moet word nie. “Ons moenie diegene wat hulself wil verryk, toelaat om dit as enigiets anders uit te maak nie. Ons wil ʼn vennootskap tussen munisipaliteite en gemeenskappe hê.

“Dit is nie die privatisering van munisipale dienste nie, dit is samewerking.”

Inwoners van die Koster-gebied het vroeër onder leiding van die KBI die bestuur van die dorp se riool- en waterwerke in Swartruggens en Koster oorgeneem – met die hof se toestemming.

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. (Argieffoto: Molaole Montsho/ANA)

Carel van Heerden, ʼn verteenwoordiger van die KBI, sê hulle het die dienste op 7 Januarie met een doel voor oë oorgeneem: Om dienste aan die hele gemeenskap te verskaf.

Binne net ʼn paar uur kon hulle skoon drinkwater aan inwoners voorsien en ʼn paar dae later was die rioolverwerkingsaanleg operasioneel.

Waar daar tevore net ʼn uur of twee per dag water was – en soms twee weke lank geen water nie – is daar nou permanent skoon drinkwater beskikbaar. Van Heerden sê hulle kon nie meer toelaat dat dorpe weens die munisipaliteit se wanbestuur agteruitgaan nie en het binne die raamwerk van die reg self ingegryp.

Die optrede word beskou as ʼn moontlike model vir ander streke wat onder dieselfde gebrekkige dienslewering ly. Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê daar moet op ʼn samewerkingsmodel ooreengekom word sodat daar verseker word dienste word ook in die toekoms volhoubaar aan die gemeenskap en ten bate van die gemeenskap gelewer.

“Ons vra vir aanspreeklikheid deur vervolging, maar ons wil ook ʼn bydrae lewer om volhoubare modelle te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Natasha ·

Solank Zuma, Malema, Ndlozi en die korrupte paarlementslede weg kom met hulle aktiviteite gaan al hulle makkers ook dink hulle is verhewe bo die wet. Begin bo en maak skoon ondertoe.

pompies ·

Ek hoop die hof maak n voorbeeld van hom want hy dink as Zuma daarmee kan wegkom kan hy ook. Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Willem ·

Hoe kry die mense dit reg om net ń hofbevel te verontagsaam

JohanR ·

Die tronke in Suid Afrika is leeg van die ANC’s. Net daai een ou John Block wat nou sit vir 15 jaar. Sal uitkom na 5 jaar en ‘n lekker kader jobbie kry!

JM ·

Dit is reg Gerrie, gee hom op sy baadjie! Die afskuwelike Zuma-neiging om hofbevele te verontagsaam en wat al hoe meer posvat, moet summier stopgesit word. Die skuldiges moet sommer hul arrogansie saamneem tronk toe en sien hoe ver hulle in die tronk daarmee gaan wegkom. Belastingbetalers is keelvol verby!

Nie Verbaas ·

Sluit hom toe, le beslag op sy eiendom en verkoop dit. Gebruik geld om dienste weer op die been te bring. Miskien leer die res iets uit so n oefening. Mense is moeg vir ANC hopeloosheid.

Baardman ·

Alvorens zuma (kleinletter met opset) nie gestraf word vir minagting nie, gaan al sy skelm volgelinge daarmee probeer wekom.

Johann ·

Die wat die patetiese afhanklikheid van ‘n kriminele staat veroorsaak het behoort eers vervolg te word voor daar op enige plek vordering gemaak kan word. Hulle is geneig en draai net daar weer om en gaan vra weer vir samewerking en toestemming om te bestaan soos ‘n gewone burger as jy jou rug draai, en dan is die wêreld weer terug waar hy begin het.

Fedup ·

No kriel.
Here is how you do it.
Take a few of your colleagues.
Go to all these “above the kaw” clowns, take them by the scruff of the neck and drag them to court. Get a judge with common sense. Tell your story in 5 minutes.
Done and dusted.
Sounds impossible. Try it. You might be amazed how things can turn out.
Don’t ever wait.

AJ ·

Ek stem saam met Gerrie Nel: “Mense moet tronk toe gaan” Daar is teveel ongeruimdhede en mense (amptenare) doen net wat hulle wil. Genoeg is genoeg…

Francois ·

Kallie – Jy sal eers n paar nuwe tronke moet bou vir al die kaders…

Pieter ·

Die ANC lag vir die hof die land se regstelsel is een groot grap.

Anel ·

En daar doen die witman dit weer. Neem inisiatief en woerts warts is daar skoon drink water, ELKE DAG, SONDER OPHOU! Nou wat het gebeur? Sluit die spul toe. Hoop nou net die spul wat so ANC stem se oë gaan oop!!!

Calvyn ·

Jammer maar die probleme is die inwoners se skuld. Hulle stem vir die verkeerde mense en beloon hulle na vyf jaar se gemors en toi-toi weer met n joppie. Kom ons wees eerlik. Die meerderheid inwoners sal in die riool swem solank daar nie n wit gesig in die raad is of die partyleier wit is nie. Ek ook bietjie betrokke op ons dorpie. My voorstel. Kieseropvoeding. Daar is mos nou so hard vir stemreg bande brand gesteek. Die mag le in n kruisie. Straf die raadslede. Vat sy geld. Regte raadslede sal mos vir regte amptrnare sorg??? Wat se Afriforum?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.