Tronkbewaarder vas vir verkragting

Argieffoto: ANA.

ʼn 41-jarige tronkbewaarder is in hegtenis geneem in verband met die verkragting van ʼn 19-jarige vrou.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê die bewaarder, wat verbonde is aan die Kutama Sinthumele-gevangenis, is onlangs in hegtenis geneem in verband met ʼn voorval wat op 23 Junie plaasgevind het.

“Die verdagte het na bewering die aand omstreeks 21:00 in die Madombidzha-nettersetting ʼn vuurwapen uitgehaal en twee skote op die slagoffer geskiet, waarna hy haar gedwing het om in sy voertuig te klim. Hy het met haar na ʼn lodge in Makhado gery waar hy haar glo verkrag het,” het Ngoepe gesê.

Die saak is by die polisie aangemeld en die man is in hegtenis geneem.

“Tydens die inhegtenisneming het die polisie beslag gelê op ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Die verdagte het Woensdag in die Louis Trichardt-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Die man is op R5 000 borgtog vrygelaat en die saak is uitgestel vir verdere polisieondersoek. Die man, wie se naam nie genoem mag word nie aangesien hy van verkragting aangekla word, moet weer op 17 Augustus in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tania Heyns ·

Dagsê Jo

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Vere ·

Dis maar die kwaliteit van die tronkbewaarders, metropolisie en polisie wat ons tans het .. gaan kyk maar daar is ELKE week ‘n berig oor een van die groepe in die nuus .. beslis geen respek vir ander nie, en verstaan ook glad nie hulle moet mense dien en probeer veilig hou nie. Het ongelukkig geen simpatie meer met hulle nie.

Verstom ·

Ek is verstom 5000 borg vry. Poging tot moord/ verkragting/ ongelisensieerde vuurwapen/ tronkbewaarder, regtig het hierdie vrou geen reg of is vroue minderwaardig. Mrk moet oplet na sulke dinge

marous ·

Wat het van poging tot moord en menseroof geword ? Hy kry R5000 borg vir misdade wat lewenslange tronkstraf regverdig ? Wat ‘n sirkus!

Tania Heyns ·

Dagsê SjN

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.