Tronkbewaarders deur gevangenes oorrompel, beseer

Argieffoto (Foto: James Timothy Peters/Pixabay)

Gevangenes van die Westville-tronk in KwaZulu-Natal het Donderdag verskeie tronkbewaarders aangeval en met skerp voorwerpe gesteek.

Die voorval het in die tronk se medium B- sekuriteitafdeling plaasgevind.

“Ons kan bevestig dat sewe bewaarders en een oortreder tydens die voorval beseer is en dat hulle tans mediese aandag geniet,” het Thulani Mdluli, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van korrektiewe dienste aan East Coast Radio gesê. Die nasionale departement se woordvoerder Logan Maistry het ook die voorval bevestig en gesê die voorval is vinnig hanteer en alles is reeds terug na normaal by die tronk.

Maistry sê die voorval word ondersoek.

Die Westville-tronk het sedert die begin van die afsonderingstydperk in Maart vanjaar onder skoot gekom oor die metodes wat aangewend is om die verspreiding van die virus te bekamp. In Junie het gevangenes bewaarders daarvan beskuldig dat hulle inligting weerhou oor hoeveel inwoners Covid-19 opgedoen het.  Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in die departement van korrektiewe dienste (DKD) het teen Julie op 4 154 gestaan. Altesaam 2 458 beamptes en 1 606 gevangenes het toe reeds positief vir die virus getoets.

Singabakho Nxumalo, nóg ʼn departementele woordvoerder, het gesê die tronk volg die regulasies soos uiteengesit deur die departement en dat hulle nie meer die name van tronke bekendmaak waar beamptes of gevangenes Covid-19 opgedoen het nie weens gevaar van “stigmatisering”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.