Tronke te vol om sosiale afstand te handhaaf

Argieffoto: ANA.

Die 243 korrektiewe sentrums in die land kan nie veiligheidsmaatreëls soos sosiale afstand handhaaf te midde van die Covid-19-pandemie nie, aangesien die tronke oorvol is.

Só het Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, Woensdag gedurende ʼn vergadering met onderskeidelik die portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste en die gekose komitee vir veiligheid en justisie gesê.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het tot op hede 128 bevestigde gevalle van Covid-19 onder gevangenes en korrektiewe beamptes in tronke in vier van die land se provinsies aangemeld. Tog het die departement geen ander keuse as om toe te laat dat gevangenes ʼn tronksel deel nie, het Lamola gesê. “Dit is nie net eie aan Suid-Afrika nie. Amerika en ander lande in die res van die wêreld ervaar dieselfde uitdaging. Al wat ons kan doen, is om goeie higiëne te handhaaf soos om gereeld hande te was,” het die minister verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig die owerhede oorweeg om duisende verhoorafwagtende gevangenes vry te laat, juis omdat tronke oorvol is.

tronksel

Argieffoto.

Volgens Lamola was beskermingstoerusting en ontsmettingsmiddel aanvanklik ʼn uitdaging waarna korrektiewe sentrums aangesê is om hul eie lapmaskers te vervaardig aangesien die fasiliteite oor naaimasjiene beskik. Meer as 17 000 lapmaskers is sedertdien in tronke gemaak.

Daar is gedurende die vergadering vasgestel dat siftingstoetse vir Covid-19 op ʼn daaglikse grondslag in die tronke gedoen word. Die virus word egter deur korrektiewe beamptes en nuwe gevangenes in korrektiewe sentrums ingebring en dit is onmoontlik om daagliks alle korrektiewe beamptes vir die virus na te gaan.

Volgens Bulelani Magwanishe, voorsitter van die portefeuljekomitee vir handel en nywerheid, kan die departement van korrektiewe dienste nie alleen die uitdagings te bowe kom nie. Die DKD het die departement van gesondheid se hulp nodig, het Magwanishe gedurende die vergadering gesê.

Regulasies rakende hofverskynings gaan steeds streng toegepas word gedurende vlak 4 van afsondering. Daar is gedurende die vergadering gesê dat howe nie die toerusting of fasiliteite het om hofsake deur middel van regstreekse video-uitsendings te behartig nie. Howe se aanlyn stelsel word dus gebruik vir die uitstel van sake.

Lapmaskers en handreiniger is reeds by die howe beskikbaar gestel. Hofbeamptes het ook elkeen twee lapmaskers en ʼn boks weggooihandskoene ontvang. R10 miljoen word nou bewillig vir die aankoop van beskermende toerusting vir hofbeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carl

Duisende kriminele vrylaat maar mens mag nie rook nie?!

Boortor

Dit is alles deel van die politburo se meesterplan. Corona virus is die perfekte dekmantel en kon nie op n beter tyd vir hulle gekom het nie.

Fedup

Stupidity just became the new common sense in this almost communist country.

Jax

En die werklike misdadigers loop heerlik rond van son onder tot son op – genoeg om n mens kots-mislik te laat!

lodewyk

En hier kom ons moelikheid -daai gaan weer moor,verkrag en roof