Tronkmatrieks behaal slaagsyfer van 77,3%

Argieffoto

Gevangenes wat hul matriekeksamen verlede jaar agter tralies moes aflê, het ʼn nasionale slaagsyfer van 77,3% in die 2018-eksamen vir die Nasionale Senior Sertifikaat behaal.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, bestempel dié prestasie as indrukwekkend aangesien dit net 2% minder is as die nasionale matriekslaagsyfer van 79,4%. Volgens Nxumalo is gevangenes se 2018-slaagsyfer ʼn verbetering op 2017 se slaagsyfer van 76,7%.

“Altesaam 235 gevangenes het die matriekeksamen geskryf. Van hierdie kandidate het 185 sewe vakke of meer geskryf,” sê Nxumalo.

“Altesaam 67 het goed genoeg geslaag om hulle vir graadstudies in te skryf, terwyl 46 naskoolse diplomas kan gaan doen. Nog 30 sal ʼn hoërsertifikaat-kwalifikasie kan bekom.”

Nxumalo het die 52-jarige Simelane Abdulla Elijah uitgesonder, die oudste matrikulant van die departement van korrektiewe dienste (DKD) se matriekklas. Elijah het ook met graadvrystelling geslaag.

Vier DKD-skole, naamlik in Westville in Durban, Cradock, Baviaanspoort en Rustenburg, het ʼn 100%-slaagsyfer behaal. “Dít was die derde agtereenvolgende jaar dat die Usethubeni-skool in Westville ʼn 100%-slaagsyfer behaal. Altesaam 28 onderskeidings is ook deur kandidate by dié skool losgeslaan,” sê Nxumalo.

Adv. Michael Masutha, minister van justisie, het die DKD-matrikulante gelukgewens met hul prestasie. “Onderwys is ʼn noodsaaklike komponent van die rehabilitasiemaatreëls van enige korrektiewe stelsel. Daar is ook bewys gevangenes wat aan onderrigprogramme deelneem, het ʼn baie meer positiewe uitkyk op die toekoms,” sê Masutha.

“Die DKD sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om te verseker dat soveel moontlik gevangenes toegang tot onderwys het en dat hulle die vaardighede bekom om produktiewe en sosiaal verantwoordelike lede van die samelewing te word wanneer hulle vrygelaat word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zumie ·

Lesufi
Hier is julle oplossing vir die swak slaagsyfer van matrieks. Stuur diegene wat gepluk het na die tronk en skryf hulle dan in vir die volgende jaar en daar het julle ‘n 77% plus slaagsyfer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.