ʼn Man wat vroeër vanjaar in hegtenis geneem is nadat hy ʼn 91-jarige man en sy 53-jarige gestremde dogter in hul huis in KwaZulu-Natal aangeval en beroof het, is Maandag tot tronkstraf gevonnis.
Kol. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Sbusiso Sbu Chiliza (34) is in die Scottburgh-streekshof skuldig bevind en gevonnis.
Die bejaarde man en sy dogter, ʼn parapleeg, is op 14 April in hul huis in Park Rynie naby Scottburgh aangeval. Die pa het ʼn venster hoor breek en ondersoek gaan instel waarna hy in die gang deur twee mans oorval is. Hulle het hom aangerand en geld en ʼn rekenaar geëis. Een van die verdagtes het die bejaarde man gevat en die kamers deursoek. Die ander verdagte is intussen na die vrou se kamer. Nadat die verdagtes gevlug het, is die vrou kaal in haar kamer aangetref.
Chiliza is twee dae ná die aanval in hegtenis geneem. Hy het Maandag skuldig gepleit op aanklagte van roof en huisbraak met die opset om te roof. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Hoeveel van die 15 jaar gaan hy? uitdien voordat hy op parool vrygelaat word