Tronkstraf ná leeus se vergiftiging, stroping

Argieffoto: popista.com

’n 32-jarige man is Donderdag in die Modimolle-streekhof in Limpopo effektief agt jaar tronkstraf opgelê nadat ses leeumannetjies in 2018 by die gewilde dierepark oos van Pretoria vergiftig en vier van die katte se koppe en pote verwyder is.

Drie witleeus en drie bruinleeus is destyds op dié grusame wyse by die Mystic Monkeys and Feathers-dierepark op Rust de Winter van kant gemaak.

Michael Madziwire is gister op aanklagte van die oortreding van die Wet op Omgewingsbestuur skuldig bevind en gevonnis nadat die dierepark se eienaar, Christa Saayman, ter strafverswaring getuig het.

“Ek is tevrede. Hy het ʼn lang tyd om na te dink,” het Saayman Vrydagoggend in reaksie op Madziwire se vonnis aan Maroela Media gesê.

Saayman het onverpoos baklei vir ’n swaar vonnis. “Ek weet nie of hulle nog gelewe het toe hulle pote verwyder is nie. Dit is so grusaam. Diere kan nie so hanteer word nie. As almal swaar gestraf word, gaan dit end kry.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn werker het destyds op die ses leeus se karkasse afgekom toe hy hulle wou gaan kos gee het. Vier van die leeus se koppe en pote was afgekap. Die ander twee was maar ses maande oud. Dié jong leeus is vergiftig en net so agtergelaat.

Madziwire is meer as twee jaar gelede in Orange Farm in die suide van Johannesburg in hegtenis geneem in verband met die leeus se dood. Nog twee persone is destyds aangekeer hoewel die saak teen hulle later teruggetrek is.

Madziwire is sedert sy inhegtenisneming in 2019 in aanhouding.

Volgens Saayman het Madziwire gedurende die verhoor erken dat hy die leeus doodgemaak het nadat hy geld daarvoor aangebied is. Die leeus is vir hulle tande en naels doodgemaak. “Hy het maar R6 000 daarvoor gekry.”

Madziwire het Saayman gister in die hof om verskoning en vergifnis gevra.

“Ek het gesê ek vergewe hom, maar hy moet sy straf uitdien.”

Die diere, wat met die hand grootgemaak is, is met die middel Two Step vergiftig.

“Dit was onbeskryflik en skokkend. Om dít in ’n hok te sien. Dit was só wreed en grusaam.”

Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer, het gesê Madziwire, ’n Mosambieker, is ook gister skuldig bevind en tot drie maande tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Matilda

Net 8 jaar? Hy moes 8 jaar per leeu gekry het! Binne 4 of 5 jaar is hy uit en gaan net voort waar hy opgehou het. Wie het hom R6000 aangebied? Hy/sy moet ook aan die pen ry!

Casper

Ja dit is ‘n ligte vonnis vir die misdrywe.As verbode immigrant kon hy nog twee jaar afsonderlik gekry het.

Vettiemaragartos

Hoekom moet ons as belastingbetalers nou sorg dat die man ‘n royal tyd in die tronk het? Deporteer hom dat hy in 1 van Mosambiek se tronke gaan kripeer.

Rudolph

Ek verwelkom enige raad, kommentaar, advies, verklaring wat my sal help om die volgende te verstaan: ‘n Persoon tronk toe gaan oor hy leeus wat in hokke/kampe aangehou is vergiftig het vir hulle koppe en pote. Wat is die morele verskil tussen bogenoemde en iemand wat beeste, varke, hoenders of skape in kampe of hokke aanhou en hulle laat doodmaak vir hulle koppe, kloue, pote of enige ander liggaamsdele?