Tronkstraf ná omkopery om saak ‘te laat verdwyn’

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Man van Mpumalanga wat ʼn amptenaar van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) probeer omkoop het, sal nou vier jaar in die tronk sit.

Sipho Mpendulo Mapalala is vier jaar direkte tronkstraf – sonder die opsie van ʼn boete – opgelê nadat hy skuldig gepleit het op ʼn aanklag van korrupsie. Hy is in Augustus 2021 al aangekeer.

Mapalala is in hegtenis geneem nadat hy die SOE-amptenaar R50 000 aangebied het om ʼn saak teen sy suster “te laat verdwyn”, sê kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder van die Valke.

Die saak teen haar hou verband met die verkryging van persoonlike beskermingstoerusting. Die suster is ʼn amptenaar van die departement van openbare werke in Mpumalanga.

Mapalala het met die SOE-amptenaar kontak gemaak en ʼn ontmoeting versoek. “Hulle het byeengekom en hy het die SOE-amptenaar gevra om die saak teen sy suster te laat verdwyn. Nadat daar oor ʼn bedrag ooreengekom is, het Mapalala die geld gaan kry. Hy het dit oorhandig en is direk daarna in hegtenis geneem,” sê Mogale.

Die polisie het ook beslag gelê op die byna R64 000 ekstra wat Mapalala, benewens die omkoopgeld, by hom gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.