Tronkstraf vir Baba L se aanvaller

Argieffoto

Argieffoto

Die sakeman van Pretoria-Noord wat sy vriendin se tweejarige dogtertjie, bekend as Baba L, so erg mishandel het dat sy gestremd gelaat is, is Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis.

Regter Nico Coetzee het die 37-jarige man, wie se naam weerhou word om die kind se identiteit te beskerm, tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het tydens die vonnisoplegging gesê dit moet as ʼn waarskuwing dien vir diegene wat hulself aan kindermishandeling skuldig maak.

Coetzee het die man verlede week skuldig bevind aan kindermishandeling, maar het hom vrygespeek op die aanklagte van poging tot moord en die versuim om mediese behandeling aan haar te verskaf.

Baba L se 21-jarige ma is vrygespreek op al die aanklagte teen haar. Die hof het bevind daar was geen bewyse dat sy haar dogter mishandel het, of toegelaat het dat haar kêrel Baba L mishandel nie.

Coetzee het gesê die man het die meisie van ʼn lewe ontneem, en dat sy nou slegs bestaan. Sy is gestremd en kan nie loop, praat of haarself voed nie. “Sy sal nooit die vreugde van die lewe kan beleef nie,” het Coetzee gesê. “Baba L kon haarself nie teen die beskuldigde verdedig nie. Sy was skaars twee jaar oud en het hom vertrou.”

Hy het verder gesê die beskuldigde het geen verantwoordelikheid vir die misdaad aanvaar of enige berou getoon nie. Hy is boonop vantevore al skuldig bevind op een aanklag van aanranding en twee van opsetlike saakbeskadiging. Coetzee het gesê die man het niks uit die daaropvolgende strafprosesse geleer het nie.

Die man is vantevore reeds ongeskik verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Die vonnis moet as rehabilitasie vir die beskuldigde dien om te verseker dat hy, wanneer hy terugkeer na die gemeenskap, nie meer ʼn gevaar vir ander kinders sal wees nie,” het Coetzee bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Baba L op Maroela Media.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ben Bezuidenhout ·

En die regter dink dat 10 jaar met ‘n moontlikheid van vroeë parool gelykstaande is aan ‘n baba se normale lewe? Nee vriendelike regter, ek is seker dis nie ‘n duidelike waarskuwing nie, eerder net nog ‘n tik op die vingers.

bianca ·

10 jaar? Is dit al dai kind was normaal hyt als weg gevat van haar sys so erg gestrem sy kan nie eers meer loop of praat nie hyt haar lewe gevat en al wat hy kry is 10 jaar dis lagwekend SIES

Kobus Combrink ·

Ek kan ook nie anders as om my misnoë uit te spreek oor die absolute ligte vonnis nie.10 jaar en moontlik weer beskikbaar na 30 maande om sy aggressie op onskuldige babas los te laat nie. Die kind is basies in alle opsigte dood, soos die regter self aangedui het. Wanneer jy ‘n lewe neem, gevul met geweld en kan nie berou toon nie, is die vonnis 25 jaar.
Niemand sal my kan oortuig dat hy nie in hierdie katerogie val nie. Ek dink daar moet aksie begin word om die staat te dwing om teen die vonnis te appeleer.
Ek kan ook nie verstaan dat die klag van poging tot moord nie deur die hof aanvaar is nie, na die opmerking oor die kind se toestand nie. Nee mnr Regter, ek, ons en almal verstaan dit nie.
Ook kan ek nie glo dat die ma van die kind van alle blaam onthef word nie. Dit is dan so duidelik soos daglig dat sy bewus was van wat aangaan.

Gert Malan ·

Jou stouter, moenie dit weer doen nie!!!! Dis die boodskap wat hierdie vonnis uitstuur. Daardie stomme meisietjie is gedoem vir die res van haar lewe, hierdie monster gaan vir vyf jaar tronk toe waar hy driemaal op n dag goeie kos kry asook goeie mediese behandeling en dan uitgaan om vir vyf jaar op parool te gaan – HY GAAN NET 5 JAAR SIT!!!!!!!! Dis om van naar te word!!!!

Petro ·

Iewers het die regering en die regstelsel mekaar verloor. Die regering skree “Action against women and child abuse“ en die regstelsel “skree“ duidelik aan misdadigers “GAAN SO VOORT DOEN SOOS JULLE WIL – DON`T WORRY“!!!!!

Elizabeth ·

Die Engelse gesegde is nie verniet “too little too late” nie. Te min tronkstraf en te laat vir baba L want sy is vir ALTYD opgefoeter. Die ma was deel van alles en moes myns insiens ook haar deel van straf kry. Arme arme kindjie… Sy sal NOOIT weer “lewe” in die volle sin van die woord nie; maar die goed wat haar moes versorg en liefhê en haar totaal gefaal het, hulle lewens gaan aan! Skande!

Marleen ·

Dankie dat daar darm IETS met die gemors gebeur, dit is n wonderwerk met die regsisteem vandag. Die Here sit hoog en sien ALLES raak. Die gemors sal nog die vrugte van sy dade smaak. Mag die Here met daardie arme klein dingetjie wees…

Christelle ·

Ek verstaan dit nie, iemand wat ek ken het bietjie meer as ‘n miljoen rand verduister en het 12jaar tronkstraf gekry, hierdie man verwoes ‘n kind se lewe en hy kry 10jaar. En ons almal weet mos nou al dat jy parool kan kry na slegs ‘n kwart van jou vonnis uitgedien is. LIEWE REGTER DIT IS PATETIES VERBY!!!!!!!!!!!!

Johan ·

Maak my so de BLIKSKOTTEL IN.Hoop hy word goed vas gevat da binne…hoe kan enige normale mens so klein lyfie seer maak.Ek sit met trane in my oe..Ek soek net 5 min saam hom dis al…

Mari ·

Ek voel net soos jy Johan. Mense soos hy moet permanent uit die samelewing verwyder word. Geweld teenoor kinders is in my oe is taboe. En daar is geen verskoning daarvoor nie. Geen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.