‘Tronkstraf vir boewe wat vraestelle laat uitlek’

(Argieffoto)

Solidariteit sê hy is saam met duisende matrieks woedend oor ʼn stelsel en ʼn paar misdadigers wat hulle versaak het.

“Solidariteit sal alles moontlik doen om leerlinge, ouers en onderwysers te ondersteun. Die oorskryf van vraestelle is ʼn onreg aan tienduisende [leerders] wat hard gewerk en eerlik geskryf het,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Sondag gesê.

Die onderneming kom nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Vrydag aangekondig het dat twee matriekvraestelle wat voor die aanvang daarvan uitgelek het, oorgeskryf moet word.

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel word op onderskeidelik 15 Desember en 17 Desember oorgeskryf. Twee uur voordat die drie uur lange wiskundevraestel die middag geskryf word, skryf sommige leerders die oggend nog ʼn kunsvraestel van drie uur.

Motshekga het gesê daar is tydens die ondersoek na die uitlek van die vraestelle onder meer bevind dat die verspreiding daarvan dit bykans onmoontlik gemaak het om vas te stel hoeveel leerders uiteindelik toegang tot die uitgelekte vraestelle gehad het.

Hermann sê die minister moet verantwoordelikheid aanvaar vir die gebreke wat tot die uitlek van die vraestelle aanleiding gegee het.

“Die skuldiges moet vervolg en swaar gestraf word. Die onskuldiges word nou gestraf,” het hy gesê.

“Om net oor te skryf is die maklike uitweg, maar dit stel niks reg nie en daar is boonop geen waarborg dat daar nie weer vraestelle kan uitlek nie. Die ingryping moet behoorlike ondersoeke, verantwoordbaarheid, regstellings en vervolging insluit.

“Die huidige optrede skep angs, maar nie sekerheid en vertroue nie. ʼn Geloofwaardige matriekeindeksamen is ononderhandelbaar vir ʼn land. Die boewe wat die vraestelle uitgelek het, het dit bedreig.”

Die organisasie se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook gesê hy deel die frustrasie en woede van die meer as 400 000 eerlike matrieks wat die vraestelle moet oorskryf weens die departement se “gebrekkige sekerheidsklaring en beheer”.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, het gesê matrieks is met reg ontsteld oor welverdiende vakansiereëlings wat in die wiele gery word.

Die organisasie eis tronkstraf vir diegene verantwoordelik vir die uitlek van die vraestelle.

“Herskryf is ongelukkig die enigste oplossing. Sonder herskryf is die integriteit van die nasionale senior sertifikaat beslis onder verdenking,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Zelda ·

Die arme Matrieks… Hulle is alreeds so baie deur hierdie jaar.

Rose ·

Ek haal my hoed af vir vanjaar se matrieks, hulle is deur so baie hindernisse.

JohanEtz ·

Oorskryf van vraestelle is belaglik – indien ‘n leerder skielik beter presteer as wat sy jaarpunte aandui – kan die gevolgtrekking gemaak word dat hy/sy iewers “hulp” vandaan gekry het? Eenmaal ‘n 30%ter altyd ‘n 30%ter!!

Chantel ·

Ek en my man praat juis gister oor presies hierdie. Wanneer die punte ingelees word en daar word opgemerk dat hierdie “kind” nou eweskielik! sommer met sommer 20% vebeter het, dan kan jy aanneem hier is ‘n probleem.

Hennie J ·

Wat n gemors en skande, maar niemand in beheer blyk skaam te wees nie! Nou probeer die minister en haar ‘getransformeerde’ kaders die skande oplos deur n vlieg met n voorhamer by te kom. O treurigheid op note, ek probeer staan op my eie pote.

Baardman ·

Waaruit moet hulle leer. Neem aan handboeke is ingegee. Die skuldiges kan mos nagespoor word. Laat hulle dan oorskryf

Zilla ·

Hulle moet nie oorskryf nie; hulle moet geskors word en volgende jaar weer probeer

Vernon ·

Herskryf is beslis nie die oplossing nie! As ek n ouer was met baie geld sou ek n hofsaak maak!Jy straf mos nie die hele klas as 2 stout was nie. Die naweek se Eng koerante se berigte is veel dieper van aard..baie dieper,ek ruik n rot. Nou spring hulle rond en beskuldig links en regs,net om die aandag af te lei van wat die werklike probleem is.

Jims ·

My kleinseun is in matriek en hy werk werklik hard om n sukses van die eksamen te maak.
Hy is bitter hieroor net soos die duisende ander en sy oupa is die hel in!

Nico ·

Nou moet die matrieks hul tyd mors om die twee vakke oor te skryf wat onregverdig is, my vraag is hoe het dit uit gelek, dit is weereens ‘n saak van binne af, die minister moes better na die vraestelle gekyk het.

Misky ·

Al was dit n oopboek eksamen, sou meerderheid steeds pluk. My seun hierdie jaar matriek en kry hom bitter jammer – die terugslae kry net nie end nie

Agter die skerms ·

Die punt is daar word elke jaar vraestelle gestelle – net verskillende teikens maar dit is elke jaar se ding.

AH ·

Ek glo nie dis nodig dat almal gestraf moet word oor die vrot appels nie. Diegene wat wel die vraestel voortydig onder oë gehad het se punte sal dit beslis weerspieël en daar kan dan teenoor hulle opgetree word. Daar word gepraat van die integriteit van die senior sertifikaat wat in gedrang kom. Is dit nie maar elke jaar so nie? Met die 30% slaagsyfers vir sommige vakke is dit in elk geval nie veel werd nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.