Tronkstraf vir ‘kruieplukker’ met wapen in wildtuin

kruger-wildtuin-paul-kruger-hek

Die Paul Kruger-hek. (Foto: greater.krugerpark.co.za)

Die Skukuza-streekhof het ʼn man wat onder meer met ʼn vuurwapen en ammunisie in die Krugerwildtuin betrap is, 20 jaar lank tronk toe gestuur.

Carlos Sithole (38) het volgehou hy was besig om kruie te pluk as deel van sy opleiding as tradisionele geneser toe hy in 2017 in hegtenis geneem is.

Monica Nyuswa, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder in Mpumalanga, het gesê wildbewaarders het Sithole en twee makkers in die wildtuin betrap. Sithole het ʼn vuurwapen op hulle gerig en is gewond toe die bewaarders uit selfverdediging op hom gevuur het.

Sy twee medepligtiges het weggekom, maar Sithole is in hegtenis geneem.

Hy het tydens die verhoor gesê hy is vals beskuldig.

Landdros BM Lesufi het Sithole skuldig bevind aan betreding, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg, die rig van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn verbode vuurwapen sonder ʼn reeksnommer in die Krugerwildtuin.

Adv. Ansie Venter, namens die staat, het aan die hof uitgewys dat renosters ʼn opdraande stryd voer om oorlewing, dat hulle wreed gestroop word, wat die uitwerking van stropery op die ekonomie is, asook watter ongelooflike druk daar op bewaarders is, het Nyuswa gesê.

Die landdros het gesê daar is ʼn plaaslike én internasionale beroep dat stropery gestuit moet word. Hy het ook gesê Sithole het geen berou getoon nie en aangevoer hy word vals beskuldig, al hét die getuienis die teendeel bewys.

Lesufi het Sithole 20 jaar lank tronk toe gestuur en die howe gevra om diere, wat deel van die gemeenskap vorm, te help beskerm.

“Die NVG is tevrede met die vonnis omdat dit ʼn streng boodskap aan die samelewing stuur dat enige skade wat wilde diere berokken word, swaar gestraf kan word,” het Nyuswa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Hy gaan gelukkig nou baie tyd op hande he om as “tradisio-nele geneser” te studeer! Stel voor dat hy sy eie kruie-mengsel in sy Oranje tronk-pakkie opdis! He-he-he!

Niklaas ·

Dis n nuwe een , hierdie kastige rede vir stap in wildtuin met n wapen. Wonder wat sou hy sê as daar renosterhorings by hom gevind was ?

Kobus ·

Word baie swaarder gestraf as moordenaars en a der ernstige gewelds misdadigers. Ook net in SA

JW ·

Die ANC gaan seker ook hierdie comrade help
aansoek doen vir presidensieele kwytskelding van sy skuldigbevinding en vonnis

lh ·

Landros Lesufi, SALUUT!

baie dankie vir ‘n lekker vonnis opgelê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.