ʼn Voormalige werknemer van McDonald’s is tot tien jaar tronkstraf gevonnis ná hy in 2017 betrap is dat hy in ʼn roomys gespoeg het.
Clement Othusitse Seothaeng (27) is Woensdag in die landdroshof in Pretoria-Noord gevonnis. Hy is tot tien jaar direkte tronkstraf op aanklagte van afpersing en vyf jaar vir kwaadwillige saakbeskadiging gevonnis. Die twee vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Seothaeng, oorspronklik van Pampierstad in die Noord-Kaap, vir twee jaar by ʼn McDonalds-tak in Montana, Pretoria-Noord, gewerk.
ʼn 20 sekonde lange video wat Seothaeng op 23 September 2017 van homself geneem het, wys hoe hy tydens die voorbereiding van ʼn McFlurry-roomys, daarin spoeg, dit met die roomys meng en dan daarna die roomys se deksel opsit.
In die video is Seothaeng se gesig nie sigbaar nie, maar dit is wel duidelik dat dit iemand in ʼn McDonalds-uniform is.
“Nadat hy homself afgeneem het, het Seothaeng die video van ʼn onbekende selfoonnommer af vir die bestuurder van dié kitskosrestaurant gestuur. Hy het homself as ʼn besorgde klant voorgedoen en R150 000 geëis in ruil daarvoor dat hy nie die video op sosiale media sal versprei nie,” sê Mahanjana.
“Die bestuurder het die saak by die polisie aangemeld. ʼn Lokval is vir Seothaeng gestel en hy is twee dae later in hegtenis geneem.”
Ter verswaring van die vonnis het die staatsaanklaer, adv. David Molokomme, die hof gevra om ’n gepaste vonnis op te lê wat as afskrikmiddel sal dien vir mense wat sosiale media wil gebruik om ander mense te bedrieg.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
31 Kommentare
Dit was ‘n lekker spoeg lopie… nou gaan jy tronk toe.
Mooi so, hy moes sommer lewenslank gekry het vir afpersing
dit gebeur elke dag by baie franchises in SA
Vieslik.
Ek wonder hoeveel van die werkers verkoop die produkte wat hulle so “behandel”?