Tronkstraf vir ouers wat baba erg aanrand

Die ouers van ʼn 21 maande oue baba is tien jaar tronk toe gestuur nadat hulle aan onder meer ernstige aanranding skuldig bevind is.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, het gesê die polisie veroordeel enige vorm van misbruik en doen alles moontlik om te verseker diegene wat vroue en kinders leed aandoen, word voor stok gekry.

“Die twee is op 21 November 2018 in Galeshewe in hegtenis geneem, nadat ʼn plaaslike nieregeringsorganisasie die saak [van mishandeling] by die polisie aangemeld het. Die slagoffer is gevind met ʼn toegeswelde oog en verskeie beserings aan sy rug, gesig en bors. Sy boude was erg gebrand en oortrek van swart rowe en blase,” het Mooi gesê.

“Albei verdagtes is aangekla van kindermishandeling en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die ondersoekbeampte, sers. Cindy de Jong, verbonde aan die Galeshewe-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, het hulle aansoek om borgtog boonop suksesvol teengestaan.”

Die Galeshewe-streekhof het die twee Dinsdag gevonnis tot vyf jaar tronkstraf vir kindermishandeling, asook vyf jaar tronkstraf vir ernstige aanranding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sanna ·

Permanente, gedwonge voorbehoeding? Dis al versekering dat hulle nie weer hul naaste skade sal aanrig nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.