Tronkstraf vir rowers wat Mpumalanga teister

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

Drie verdagtes wat betrokke was by ʼn vlaag gewapende rooftogte in Mpumalanga in 2017, is swaar tronkstraf opgelê vir hul “vlaag van terreur”.

Die streekhof in Amersfoort, Mpumalanga, het Thulani Skhakhane (38), Banele Khanyile (30) en Mxolisi Duma (32) is elk tot 43 jaar tronkstraf gevonnis. Hulle is skuldig bevind aan drie aanklagte van huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, besit van ʼn vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, die besit van ongelisensieerde ammunisie, diefstal en motordiefstal.

In een voorval is ʼn bejaarde op ʼn plaas aangeval. Die drie skuldiges is later deur boere in die omgewing van Amersfoort aangekeer.

’n Vierde verdagte is egter steeds op vrye voet.

Volgens kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het die skuldiges hierdie misdade in 2017 in die provinsie gepleeg.

“Dit het in die hof uitgekom dat die verdagtes op 17 Augustus 2017 ’n man van sy motorsleutels, selfoon en horlosie, waarvan die totale waarde sowat R50 000 was, beroof het. Hulle het daarna in die man se Honda Jazz die pad gevat,” sê Mdhluli.

Sowat ’n maand later het die verdagtes ’n 87-jarige man op ’n plaas in die omgewing van Amersfoort oorval en aangerand. Hulle het die bejaarde vasgebind en sy vuurwapenkluis – met nege vuurwapens – gebuit. Hulle het ook juwele en ander waardevolle items gesteel.

“Terwyl hulle besig was om te vlug, het ’n waaksame boer hul voertuig sien verbyjaag en agterdogtig geraak. Sy het toe agter hulle aangery en ander boere, sowel as die polisie, vir bystand ontbied. Toe die verdagtes agterkom hulle word agtervolg, het die bestuurder beheer oor die motor verloor.”

Die drie verdagtes is summier in hegtenis geneem, maar die vierde een kon daarin slaag om te vlug. Dié word nog steeds gesoek.

Enigiemand met meer inligting wat tot die vermiste verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan konst. Cliff Ndaba by 079 891 5846 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

‘n Hele 5 jaar later en hul is nou eers gevonnis. Ai ai maar hierdie regstelse van Suid Afrika is darem Tops!

Magda G

Bring die doodstraf terug

Renier johannes

Die polisie moet hulle wapens oppas nie uit deel nie