Tronkstraf vir vrou wat landboumaatskappy bedrieg

(Argieffoto: Maroela Media)

Die handelshof in Durban het Charmaine Koch, ʼn 59-jarige voormalige werker van ʼn landbouonderneming op Dundee, tronkstraf van agt jaar opgelê nadat sy skuldig gepleit het op 235 aanklagte van bedrog.

Die bedrog was ten bedrae van nagenoeg R2,7 miljoen.

Koch was onder meer verantwoordelik vir administratiewe werk en boekhouding by Glendee Fertilizer and Lime op Dundee. Een van haar pligte was om krediteurebetalings met ondersteunende fakture op die maatskappy se aanlyn bankprofiel te laai.

Sy sou ook ʼn lys van krediteure opstel wat betaal moes word. Dit is daarna aan haar bestuurder voorgelê wat op die stelsel aangemeld en die betalings goedgekeur het.

Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal, sê in ʼn stadium het Koch egter finansiële moeilikheid ondervind om die gesin uit haar en haar man se salaris te onderhou.

“Sy het besluit om haar werkgewer te bedrieg en het die bankbesonderhede van die verskillende krediteure na haar eie bankbesonderhede verander.

“Sy het ook vorige krediteure se fakture gebruik en nuwes geskep wat sy met haar eie besonderhede vir betaling ingedien het. Die geld is direk in haar bankrekening inbetaal,” sê Kara.

Dié betalings het tussen Augustus 2012 en Januarie 2017 voortgeduur.

Nadat Koch in Februarie 2017 van ʼn vakansie saam met haar man teruggekeer het, is sy ingelig dat haar werkgewer ʼn aanklag van bedrog teen haar aanhangig gemaak het.

“Sy het nie teruggekeer werk toe nie en is later in hegtenis geneem en het in die hof verskyn,” sê Kara.

Die NVG het Kock se suksesvolle vervolging verwelkom.

“Die beskuldigde was in ʼn vertrouensposisie en het haar werkgewer vyf jaar lank bedrieg. Ons hoop vonnisse van dié aard is ʼn aanduiding van die NVG se standpunt oor hierdie soort sake,” sê adv. Elaine Zungu, direkteur van openbare vervolging in die provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Alles goed en wel. Ons hoor van baie mense wst nou toegesluit word vir bedrog. WANNEER WORD DIE REGERING EN SY KAMARADE TOEGESLUIT!! BEDROG IS BEDROG!!

Francois Le Cochon

Nogsteeds ‘n “bargain”. Min mense kan R2,7 miljoen in 8 jaar spaar!

Blikke

Moes lekker gewees het as jy aanvanklik nie op twee salarisse kon uitkom nie en dan later self met vakansie kon gaan…

Kokerboom

Sy moet maar vrugte pluk van haar wandade. Sou net regverdig wees as al die politieke kaders se wandade ook so vinnig hanteer kon wees!!

annie

… wit mense se sake word darem gou afgehandel, nè? Seker diè dat so baie ander laaaank wag om op die rol te beland en weer vinnig afrol omdat die lèers verdwyn het… of… of…