Tronkstraf vir vrou wat uit ‘hebsug’ steel

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Oos-Kaapse vrou wat twee van haar werkgewers uit miljoene rande bedrieg het, is nege jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Port Elizabeth opgelê.

Bridgette Wait (36) is skuldig bevind aan 223 aanklagte van bedrog.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het gesê Wait het tussen Augustus 2014 en Augustus 2017 in ʼn administratiewe pos by TAG Yachts SA in St. Francisbaai gewerk. Een van haar pligte was om krediteure se bankbesonderhede op die onderneming se stelsel te laai. Sy het egter in sommige gevalle haar eie bankrekeningnommer ingevul en 220 betalings van net meer as R3 miljoen is in dié tyd in haar rekening inbetaal.

Weens die voortslepende verliese is die onderneming eindelik in Augustus 2017 in sakeredding geplaas.

Wait het in 2018 presies dieselfde gedoen as persoonlike assistent by Bull Clothing in Jeffreysbaai. Sy moes ook hier die bankbesonderhede oplaai en het dit in drie gevalle weer met haar eie vervang, het Ngcakani gesê.

Altesaam R294 468,83 wat vir die onderneming bestem was, het eindelik in Wait se rekening beland.

Die Valke het haar in November verlede jaar in hegtenis geneem en sy het in Februarie vanjaar skuldig gepleit op al die aanklagte teen haar.

Adv. Lise Keech, namens die staat, het tydens vonnisverrigtinge gesê Wait was in ʼn vertrouensposisie en dat bedrog ʼn ernstige misdaad is wat algemeen in die Oos-Kaap voorkom. Wait het boonop al die geld wat sy gesteel het op luukshede geblaas.

“Sy het uit hebsug gesteel. Die blote feit dat sy skuldig gepleit het, is ook nie noodwendig ʼn teken van berou nie. Die samelewing is moeg vir mense wat hul werkgewers besteel en bedrieg, veral in dié tyd waarin Suid-Afrika ʼn werkloosheidskoers van 30% het,” het Keech gesê.

Die hof het Wait nege jaar tronkstraf vir die bedrog by TAG Yachts opgelê en drie jaar tronkstraf vir die bedrog by Bull Clothing. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Ngcakani het gesê die NVG verwelkom die vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joggie ·

Hebsug, selfsug en eersug! Sy is goed gekwalifiseer om as ANC parlementslid aansoek te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.