Tronkstraf vir Zuma: ANC ‘bestudeer’ uitspraak

Die konstitusionele hof. (Argieffoto: Ashraf Hendricks)

Daar was uiteenlopende reaksie op die Konstitusionele Hof se uitspraak waarin oudpres. Jacob Zuma 15 maande tronkstraf opgelê is vir sy minagting van ʼn hofbevel om voor die Zondo-kommissie van ondersoek te verskyn.

Die hof het Dinsdag uitspraak gelewer.

ANC: Bestudeer uitspraak

Die ANC, die politieke party waarvan Zuma eens die leier was, het in reaksie gesê hy “neem kennis van die uitspraak”.

“Die ANC bestudeer tans die uitspraak. Dit is ongetwyfeld ʼn moeilike tyd vir die beweging en ons doen ʼn beroep op ons lede om kalm te bly.”

Die regerende party se nasionale uitvoerende komitee vergader hierdie naweek en sal die implikasies en gevolge van die uitspraak bespreek, lui ʼn verklaring van die ANC.

Die ANC het opnuut sy verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg te kenne gegee, asook die vervulling van die stewe van ons konstitusionele demokrasie.

DA: Geen wegkruipplek meer

John Steenhuisen, leier van die DA, het die uitspraak as een van die belangrikste in die geskiedenis van die land se hoogste hof bestempel omdat dit bevestig dat niemand verhewe bo die reg is nie, “nie eens ʼn voormalige president wat steeds groot steun in die regerende party geniet nie”.

Steenhuisen sê is nou geen wegkruipplek meer vir Zuma nie, dieselfde man wat deurlopend volgehou het dat hy sy dag in die hof soek.

“Dit is ʼn groot dag vir die DA. Vir 12 jaar lank het ons die saak teen Jacob Zuma onophoudelik gedryf. Ons het dit gedoen, dikwels met baie min openbare en mediasteun, maar omdat ons geweet het dit is die regte ding om te doen.”

Steenhuisen sê die DA waarsku lank reeds dat Zuma demokratiese instellings vernietig en die “konstitusionele orde omverwerp om sy vriende en familie te verryk”.

“Vir jare het die ANC hom beskerm en opgepiep. Jare lank het hulle hom verdedig terwyl hulle goed geweet het wat hy aan Suid-Afrika doen.”

Steenhuisen sê die land het tans talle ander probleme, maar die uitspraak is ʼn groot slag vir gelykheid voor die reg, waarsonder geen demokrasie kan floreer nie.

VF Plus: ‘Oorwinning vir grondwetlike demokrasie’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die uitspraak as ʼn “oorwinning vir die grondwetlike demokrasie” bestempel en die besluit om Zuma tronk toe te stuur, verwelkom.

“Die wiele van geregtigheid draai stadig en soms té stadig, maar die uitspraak stuur wel die boodskap dat geregtigheid eindelik tog seëvier,” sê Groenewald.

“Die wêreld sal daarvan kennis neem dat Suid-Afrika se regbank en grondwetlike demokrasie steeds sterk staan en dit is ’n positiewe verwikkeling. Die vonnis stuur ʼn sterk boodskap dat Zuma en almal in Suid-Afrika moet besef dat hulle nie bo die reg verhewe is nie en die reg moet respekteer.”

Groenewald sê Zuma moet hom nou onderwerp aan die uitspraak en vreedsaam gaan aanmeld om sy straf uit te dien.

“Hy het in die afgelope jaar by herhaling gesê hy is bereid om eerder tronk toe te gaan as om voor Zondo te getuig en hy moet dit nou doen.”

Action SA: ‘Beste dag’

Herman Mashaba, leier van Action SA, het ná die uitspraak op Twitter geskryf dit is sy “beste dag in Suid-Afrika in ʼn lang tyd” en dat sy hoop vir die toekoms van Suid-Afrika herstel is.

“Ons 27 jaar van misbruik het ʼn ernstige knou gekry.”

IVP: Oproep tot kalmte 

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, sê die uitspraak bevestig die feit dat niemand bo die reg verhewe is nie en ʼn “oorwinning vir die oppergesag van die reg” is.

“Dit was nie nodig vir die kwessie om só ver te gaan nie, sou die oudpresident gehoor gegee het aan die opdrag van die kommissie na staatskaping,” sê Hlengwa.

“Ons hoop dat hy die uitspraak sal respekteer en eerbiedig en voldoen aan die bevel dat hy binne vyf dae by die polisie moet aanmeld.”

Die IVP het ook ʼn oproep tot kalmte gedoen.

“Ons pleit by ondersteuners van oudpres. Zuma om hul te beteuel en die Konstitusionele Hof se uitspraak te aanvaar.”

Good: Hof stuur onomwonde boodskap

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, sê niemand in Suid-Afrika behoort fees te vier omdat ʼn voormalige president aan minagting van die hof skuldig bevind en tronkstraf opgelê is nie.

“Dit is ʼn hartseer dag vir ons grondwetlike demokrasie dat ʼn burger wat die voorreg gehad het om as president te dien, die hoogste amp in die land, en wat ʼn eed van getrouheid teenoor sy Grondwet afgelê het, ons howe beledig en ʼn hofbevel tot so ʼn mate geminag het dat die Konstitusionele Hof gedwing is om die “onmoontlike taak” te onderneem om ʼn uitspraak oor sy gedrag te lewer,” sê Herron.

Hy sê terselfdertyd moet daar wel feesgevier word dat die oppergesag van die reg geseëvier het en die hof bevestig het dat niemand hiervan uitgesluit word nie.

Herron sê ook die hof het ʼn onomwonde boodskap gestuur dat Suid-Afrika se Grondwet en sy burgers nie deur aanvalle op die regbank of die werf van openbare steun ondermyn kan word nie.

Casac: Streng teregwysing

Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het ook die uitspraak verwelkom.

“Die uitspraak bekragtig die hof as die oppervoog van die Grondwet en bevestig dat respek vir die regterlike gesag ʼn integrale deel van die oppergesag van die reg is. Dit bekragtig ook die basiese grondwetlike beginsel van gelykheid voor die reg,” lui ʼn verklaring van Casac.

Die raad sê ook hy is bemoedig deur die hof se streng teregwysing van die ongegronde aanvalle op die regbank wat Zuma die afgelope paar maande geloods het. “Die aanvalle val buite regmatige kritiek op die howe en ondermyn die howe se gesag, integriteit en regmatigheid.”

Casac sê ook die straf wat Zuma opgelê is, is proporsioneel tot die buitengewone minagting waaraan die voormalige president hom skuldig gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

JohanR ·

Wat is daar om te bestudeerr en ‘n toets op te skryf. Die HOOGSTE hof in die land het gese Zuma moet tronk toe. Nie hospitaal toe omdat hy nie sy gholf stokke kan kry nie, of vir Schabir mis nie, maar tronk toe. 4m by 4m, en pap en ‘n eier vir brekfes! Hoe lekker kry ek nou! Ou Carl Camo Niehaus het homself skoon uit sy onderbroek uitgewerk van woede!

Harley Davidson ·

Hy sal nie een dag in ‘n tronk bly nie soos sy voorgangers dadelik hospitaal toe vir ‘n week of twee en daarna onder kastige huis arres Shabir schaik,Jacky Selebe hoeveel was daar.

Leana ·

Almal is nou baie bly dat hy 15 maande moet tronk toe gaan, maar as die 15 maande verby is wat dan?

Anel ·

Nou kan die Zondo aangaan. Zuma kan nie meer nie opdaag nie. Hy is dan in die tronk. Hy word net gehaal en hy is daar. Hopelik.

lodewyk ·

Natuurlik gaan die cANCer dit ondersoek want daar is basies almal van hulle top comrades wat nou begin sweet en solank hulle oranje oorpakke begin bestel…

Nie Verbaas ·

Jip, dis die probleem vir die ander. Hy weet van almal se geraamtes.

Michael ·

Wat is daar te bestudeer-hulle bestudeer al ewig alles. Daars mos dan nou niks wat enigiemand aan die uitspraak kan doen nie. Sal nie verbaas wees as die tronk deel van sy kompleks in Nkandla is nie. Ook hy en sy regspan bestudeer nou die uitspraak-die mense se bestudering van alles en wat het nog net een resultaat opgelewer-meer bedrog en korrupsie

Nie Verbaas ·

Carl Niehaus, Zuma het n groot aandeel in Suid Afrika se ondergang gehad. Wil ANC nou weer Suid Afrika afbrand en plunder sodat Zuma nie moet tronkstraf uitdien nie? Dit is nie onaanvaarbaar nie. Hy kry wat hom toekom soos enige ander persoon dit moet kry wat glo hy is verhewe bo die wet.

KB ·

Ou Carltjie sukkel om te luister en te respekteer, nog ál die jare. Daar is nie pille daarvoor nie.
My beste raad is: Ignoreer hom.

Petrus J ·

Hoe klink Carl dan nou vir my net soos oom PW Botha op sy kwaaiste? Die hof het grpraat!

jzjz05 ·

Carl Los maar die Apartheid storie,en bepaal jou eerder by SA wat deur die man feitlik verwoes is ,die man wat jy nou so vuurig wil verdedig.

Nie Verbaas ·

Melawie se president is n voorbeeld van hoe om met korruptes te deel. Arresteer en sluit toe.

Jaco ·

Die ANC wat die regering beheer, bestudeer ‘n hofuitspraak van regters wat almal vir die ANC-regering werk. Baie van dié regters is ook ANC-kaders. Is daar iets van regering wat die ANC na meer as 27 jaar nie verstaan nie, want iets GROOTS maak nou nie sin nie.

Willem ·

Hierdie niehaus clown moet saam jz tronktoe hy net so korrup!!!!

Sarel ·

Wanneer word opgetree tedn Malemma en Niahaus
Gaan hulle wag tot…..

Marius Gerhardus ·

Dit is n baie goeie dag vir Suid Afrika iets om beslis te vier. Seker hukom drank winkels nou toe gemaak is. Die ANC het geweet hoe gaan die mense see vier. Net een ding pla my…. Slegs 15 mnde? Dankie vir daai regter wat steeds die regte ding gedun het. Trots op hom.

Leon ·

Nee Careltjie Sonderhuis, ek dink jy moet baie versigtig wees. Jou tirade klink vir my baie na minagting vd hof.Netnou sit jy saam met jou baas in die tronk.

SjN ·

Bestudeer eerder jul pligstate en pos beskrywings, die Hof weet reeds wat en hoe om te doen.

Mallie ·

Suid Afrika het sy plek in die wereld rekord boek gekry. Tronkvoel = President en nou President = Tronkvoel. Suid Afrika is die talk of the Town. Wat n grap.

Sparky ·

Waarom verman die party sy mense om kalm te wees,Dink hulle regtig hul is bo die wet……

annie ·

Indien Zuma as ‘n martelaar gehanteer word is die hart van die glo bevrydingsbeweging duidelik misdadigergesind. Zuma het eerder buitegroepe bevoordeel as eie swartes en kan dus nie pleit dat hy misdrywe misgekyk het om agtergeblewenes se lot a la BLM te verbeter nie. Maar skynbaar skeel die miljarde na vreemdes se rekeninge sy volgelinge min.

Charl ·

“Niemand is verhewe bo die wet nie, nie eers ‘n voormalige president nie”. Vertel dít vir mnr hoed en sy mede polisie beamptes want blykbaar weet hulle nie daarvan. En hoe is dit dat Zuma nét 15 mnde kry vir minagting van die hof, wát van al die ánder oortredings wat sóveel erger is ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.