Tronktralies keer nie oudpolisieman om weer te bedrieg

(Argieffoto ter illustrasie)

ʼn Oudpolisieman wat reeds vir gewapende roof agter tralies sit, is vir ʼn tweede keer gestraf nadat hy iemand vanuit die tronk probeer bedrieg het.

Die Pretoria-landdroshof het Rhyno du Plessis – wat voorheen deel van die polisie se taktiese reaksie-eenheid was – vandeesweek tot ʼn verdere agt jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar saam met sy huidige vonnis uitgedien sal word. Du Plessis sal dus nog vyf jaar agter tralies spandeer.

Du Plessis se vonnis volg nadat hy ingevolge ‘n pleitooreenkoms op aanklagte van bedrog en poging tot afpersing skuldig bevind is.

Volgens kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, het die bedrog in September 2019 begin, toe die klaer se vrou op 21 September in verband met spoed voorgekeer en in hegtenis geneem is.

Sy is by die Lyttelton-polisiestasie op borgtog van R1 500 vrygelaat nadat die saak geregistreer is.

Enkele dae later het die klaer egter ʼn oproep ontvang van iemand wat homself as ao. Jacobs voorgedoen het. Dié “ao. Jacobs” het aangevoer dat hy die vrou se saak ondersoek.

“Hy het aangedui dat hy met die staatsaanklaer gepraat het en op ʼn boete van R4 000 ooreengekom het om die saak af te handel,” het Mogale gesê.

“Die klaer het ingestem en gevra hoe die betaling gemaak moet word. Die ‘ao. Jacobs’ het gesê hy sal die besonderhede na die klaer se selfoon stuur, en binne minute het hy ʼn boodskap ontvang met FNB-bankbesonderhede.

“Die klaer het sy vrou gevra om die betaling te maak, en binne 30 minute het ‘ao. Jacobs’ die klaer gebel om te sê dat die geld ontvang is.”

Nege dae ná dié oproep, op 30 September, het die klaer nog ʼn oproep van ʼn ander nommer ontvang.

Hy het aangevoer hy is ʼn ondersoeker vir die Valke wat tans ʼn saak van korrupsie teen die sogenaamde ao. Jacobs ondersoek.

Die man het aangedui dat hy die klaer se lêer in ‘ao. Jacobs’ se voertuig gekry het, en ook bewys het dat die klaer hom betaal het, en hy dus by die korrupsiesaak onder verdenking is en in hegtenis geneem gaan word.

Hy het egter gesê vir R15 000 kan hy die saak “laat verdwyn”.

Die klaer het geweier en die saak by die Valke in Johannesburg aangegee.

“Ná ʼn deeglike ondersoek is die verdagte by die Kgosi Mampuru-tronk opgespoor. Hy is as Rhyno du Plessis geïdentifiseer wat voorheen deur die polisie se taktiese reaksie-eenheid in Pretoria in diens geneem is.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Party ouens staak nie hul gewoeker nie , al is hy in die tjoekie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.