Golden Miles Bhudu, ʼn aktivis vir gevangenes se regte, het nie net Dinsdag ʼn hofaansoek verloor om die verkiesing uit te stel nie, hy is ook in hegtenis geneem omdat hy ʼn oranje tronkoorpak sonder toestemming gedra het.
Bhudu het ʼn kenmerkende oranje gevangenisoorpak met kettings oor sy bolyf gedra toe hy die aansoek ingedien het. Hy is by die Pretoriase hooggeregshof in hegtenis geneem kort nadat regter Sulet Potterill sy dringende aansoek van die hand gewys het. Bhudu wou die verkiesing uitstel totdat elke stemgeregtigde gevangene vir die verkiesing geregistreer het.
Bhudu en sy politieke party, die Corrections and Civil Rights Movement, asook die SA Prisoners Organisation for Human Rights (Sapohr), waarvan hy die president is, wou deur die aansoek verseker dat elke gevangene ʼn gratis identiteitsdokument ontvang en dat politieke partye toegelaat word om verkiesingsveldtogte in gevangenisse uit te voer.
Potterill het die aansoek, met koste, vinnig van die hand gewys omdat die aansoekers nie een van die hof se reëls nagekom het nie.
Die aansoekers het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die regering blameer vir die laat indiening van hul beëdigde verklaring in die hofaansoek, maar Potterill het gesê hulle het nie twee weke nodig gehad om die verklaring op te stel nie, en “die dringendheid van die saak is nou daarmee heen”.
Die raad van korrektiewe dienste het gesê die aansoekers se poging was ligsinnig, het die prosesse van die hof heeltemal verontagsaam, het geen meriete nie, en was net ‘n publisiteitsfoefie.
Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat Bhudu in hegtenis geneem is omdat hy die oranje tronkoorpak sonder toestemming gedra het, en dit ʼn oortreding is. Bhudu is ná sy inhegtenisname op ʼn waarskuwing vrygelaat. Die polisie ondersoek die saak. – SAPA