Troonslang ‘toevallig’ aangekeer

Skermgreep uit 'n video toe Barry Greenshields vroeër die slang uit die toilet wou haal

Skermgreep uit ‘n video toe Barry Greenshields vroeër die slang uit die toilet wou haal

Die sogenaamde troonslang, ʼn wipneuskobra, wat inwoners van ʼn woonstelblok in Pretoria op hol gehad het nadat dit op 24 November sy kop uitgesteek het, is uiteindelik Dinsdag aangekeer.

Hencke Marais van Tshwane-natuurbewaring, sê dis ʼn bestiering van bo dat hulle vandag op die regte plek, op die regte tyd was.

Hencke en sy kollega, Gerhard Horn, was in die omgewing en het besluit om die inwoners van die woonstelblok in Ilkeyweg in Lynnwood Glen, naby die Menlyn Park-winkelsentrum, te kontak om te hoor wat die situasie is met die slang.

Hencke en Gerhard het by die kompleks ingeloer om te sien of hulle dalk die slang kan raaksien, wat nou al byna twee weke lank die inwoners op hol het. “Toe ons dieselfde toilet se deksel oplig, het hy vir ons lê en loer!” het Hencke aan Maroela Media verduidelik. “Ons het slegs ʼn paar sekondes gehad om te reageer, want hy wou reeds weer terugtrek in die pyp in!”

Hencke het gou gespring en die wipneuskobra met sy grypstok beetgekry. “Die mannetjie het egter in die pyp vasgeskop en ons het slegs die eerste 60 cm – 70 cm gehad om mee te werk.”

Maroela Media het vroeër berig Barry Greenshields (31), ʼn ervare slangvanger van Pretoria, wat die eerste keer die slang uit die toilet wou haal, het ook gesukkel omdat die kobra se lyf moes aan iets vasgehaak of vasgeklou het, want dit wou net nie verder uitkom nie. “Ek wou ook nie te hard trek of die slang vasknyp nie want ek wou dit nie seermaak nie,” het hy verduidelik.

Hencke het dieselfde probleem teëgekom. “Ek moes in ʼn stadium noodgedwonge die slang se kop teen die bak vasdruk, sodat ek met my hand sagkens met die res van sy lyf om die hoeke kon werk en nie bekommerd hoef te wees oor sy kop nie,” het hy gesê. Die slang het uiteindelik die aftog geblaas en Hencke het die hele slang uitgehaal.

“Die slang is 1,87 meter lank. Hy is definitief ʼn volwasse wipneuskobra, hy is tussen 10 en 20 jaar oud,” het hy bevestig.

Volgens Hencke kom dié spesie algemeen voor in die gebied. “Hulle domineer in die gebied, hulle is absoluut kenmerkend aan die habitat,” het hy verduidelik.

“Dit is wel ʼn interessante geval omdat ons die slang op die eerste verdieping van die woonstelblok aangetref het. Ek het na die pype gekyk, en as hy in die stelsel opbeweeg het, is daar een pyp wat reguit ongeveer 3 – 4 meter in die lug opgaan, tensy hy iewers van bo af ingekom het,” het Hencke gesê. “Maar dit is definitief nie die eerste kobra in ʼn toilet nie, en dit is ook nie die eerste slang wat ek uit ʼn toilet haal nie.”

Hencke verduidelik die inwoners was oorstelp van vreugde om te hoor die slang is uiteindelik aangekeer. “Hulle het ons omhels van dankbaarheid. Ons was omtrent soos Kersvader wat met geskenkies opgedaag het.”

Hy voeg by hul vrese is verstaanbaar, want die wipneuskobra is ʼn neurotoksiese slang. “Hulle is baie gevaarlik. Hul gif werk soortgelyk aan dié van ʼn swartmamba. Dit is boonop vinnig werkende gif en ʼn volwasse man kan binne 10 – 15 uur ná ʼn byt dood wees.”

Hencke sê dit is ʼn bestiering van bo dat hulle op die regte tyd daar aangekom het om die slang te vang. “Ek kan net ʼn slang vang wat ek kan sien!”

Die slang is glo in ʼn puik toestand. “Hy word Donderdag vrygelaat in die Dinokeng-natuurreservaat. Ons sal seker maak dit is die beste habitat vir hom. Hier kan hy vrylik rondbeweeg op 17 000 hektaar grond tussen die groot vyf.” Hencke sê hy het al van die grootste kobras in dié reservaat gesien.

Die Pretoriase dieretuin het intussen aangebied om die slang aan te neem, maar Hencke het dit van die hand gewys. “Ons wil graag die slang in sy natuurlike habitat vrylaat.”

Lees alle vorige berigte oor die troonslang op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Vivian ·

Dink hy sou baie gelukkig gewees het in die sewerage plaas.

Johann ·

Sjoe, wat ‘n verligting! Nou kan mens weer jou koerant in vrede sit en lees!

Harry Hey ·

Dit was nou regtig ‘n mooi verhaal, met ‘n gooie einde

Riap ·

Ek staan gewoonlik nie lank genoeg stil om te kyk watter soort slang dit is nie. Ek is jammer maar sal sukkel om n slang lewendig te laat vrykom. (miskien te veel grotman in my bloed)

Bollie ·

Ek verstaan nie moou nie: “Die slang het uiteindelik die aftog geblaas en Hencke het die hele slang uitgehaal.” Aftog blaas beteken die slang het weggekom?

Raven ·

Nee Bollie, aftog blaas beteken die slang het opgegee om te veg.

Bossie ·

Miskien eerder gepraat het van “handdoek ingegooi”. Aftog blaas meer te doen met “weg kom” of weg hardloop.

nhk ·

Eish..die wipneus kon maar begrawe geword het. Dus n ou slang….

Gunther ·

So bly die hy kan vry gelaat word die mense verstaan nie hulle was eerste hier en ons vat hulle habitat oor nie goeie werk

Gideon ·

Ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar uit my eie ondervinding hier op die plaas weet ek, as daar een is moet mens weet sy maatjie is nog iewers!

Deon ·

Die vorige slang was dan 2.3 m geskat deur ‘n kenner, hoe is die een kleiner? Ek dink die groot meneer is nog daar!

E.K. - ek sê net!(alweer!) ·

Agge nee man, Deon, nou praat jy die arme inwoners van vooraf bang! : (

John ·

Die ‘kat’ kom weer? Gooi sement in die gat en koop een van daai outydse stoeltjies met plek vir ‘n koos met mooi blommetjies versier. Goeie antieke handelaars het soms nog voorraad. Loer tog ook maar elke keer ter plaatse in geval ‘n muis ‘n rusplekkie benodig… Is daar nog muisvangers in Pretoria?

Zumie ·

Hierdie outjie se natuurlike habitat blyk eerder dreinpype te wees – los hom by die “uhmmmm” munisipale “water”werke

Lala ·

Haha ja Batman net jammer die ou slangetjie sou nie 2keer dink om ‘n mens se lewe te kos nie ne….

E.K. - ek sê net! ·

So bly die slang is mooi en ongedeerd uitgehaal! Ek dink meeste mense sal nou met geruste harte kan gaan SIT! :D

Griki ·

Kyk, ek so so groot geskrik het dat die slang sou gemaak het dat hy wegkom – as julle verstaan wat ek bedoel.

Valie ·

Hencke, hoe gaan dit met Ingwe die Mooiplaats luiperd mannetjie wat op 14 Oktober 2011(?) gevang is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.