Troosdiens vir Bloemfonteiner wat in VSA sterf

Lihan du Plessis. Foto: Facebook

Lihan du Plessis. Foto: Facebook

‘n Troosdiens is Vrydag in Bloemfontein gehou vir die jong Suid-Afrikaner wat onlangs in die VSA in ‘n fratsongeluk in ‘n graansilo dood is.

Lihan du Plessis (27) se liefde vir boerdery het hom na Amerika geneem waar hy sedert April naby Washburn in Noord-Dakota op ‘n plaas gewerk het. Lihan het aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal in die Wes-Vrystaat gematrikuleer, en het onder meer vir die Griffons van die Noord-Vrystaat en Griekwas se amateurspan op die veld gedraf.

Hy is deur sy broer, Jurie, as “‘n sagmoedige reus” beskryf na wie hy opgesien het.

Sy ma, Elphia, beskryf haar oudste seun soos volg in die huldeblyk: “Die afgelope tyd is ons met soveel liefde, gebede, deernis en omgee omring en ons besef net weer daar is ‘n Hoër Hand wat ons styf vashou, maar binne-in ons is ons flenters – ek gaan nooit weer my ‘gentle giant’ teen my kan vasdruk nie, die stoutighede in sy blou oë sien ronddans nie, hom kan aanspreek as hy so bietjie te wild aangaan nie, saamlag as hy sy boetie terg omdat hy ‘n ou ‘shortie’ is nie…”

Ook Jurie, en sy oorlewende oumas en oupa het roerende woorde neergepen.

Hy het kort voor die ongeluk Amerikaanse voetbal begin speel. Na sy dood het die klub besluit om die res van die seisoen met sy nommer te speel, en na die seisoen uit eerbied nie weer die nommer te gebruik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.