Troudag-ongeluk: Hy is nie ‘kwaad vir Liewe Jesus’ nie

Louwrens saam met sy ma en pa op hul troudag.

Louwrens saam met sy ma en pa op hul troudag.

Louwrens Geldenhuys (9) is wees gelaat nadat sy ma op haar troudag deur  ʼn dronkbestuurder se toedoen gesterf het en sy pa net meer as drie jaar later in sy teenwoordigheid aan ʼn hartaanval dood is.

Chantal Geldenhuys (26) is op 1 Desember 2012 enkele ure ná haar troue dood. Sy en haar man, Louwrens (Boeta) Geldenhuys, het die aand ná die onthaal na ʼn gastehuis gery toe Abram Themba se bakkie die egpaar se Golf in die aansluiting van Dr. Van der Merwe- en Sefako Makgatho- (Zambesi-) rylaan getref het. Hy was dronk en het ʼn rooi verkeerslig verontagsaam.

Chantal is op die toneel dood terwyl Boeta kritiek beseer is. Die egpaar se seuntjie, Louwrens jr. (toe vyf jaar oud), was nie in die motor nie en het die aand by sy ouma geslaap. Themba (51) is verlede week in die streekhof in Pretoria-Noord tot 10 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag. Boeta is intussen in Desember verlede jaar aan ʼn hartaanval dood.

Klein Louwrens woon sedertdien by sy tannie, Boeta se suster Daleen Kilian, en haar man, Jaco. Daleen het aan Maroela Media gesê hoewel die familie verlig is die hofsaak is verby, dit tog vir hulle ook baie hartseer is.

“Met elke hofverskyning is al die ou wonde weer oopgekrap. Ons moes elke keer in die hof sit en van voor af hoor wat gebeur het. Die vonnis maak dit ook nie beter nie. Ek kan nie sê ek is bly nie. Dis baie hartseer. En dit sal niemand terugbring nie. Hy [Themba] is 51 jaar oud en het ʼn gesin. Maar ja, ons almal moet gestraf word as ons verkeerd optree. Hy het ʼn fout gemaak, maar ongelukkig het dit Chantal en my broer se lewe gekos.”

Louwrens (links agter) saam met sy tannie Daleen en haar man en twee seuns.

Louwrens (links agter) saam met sy tannie Daleen en haar man en twee seuns.

Boeta is op 19 Desember dood nadat hy ʼn hartaanval gehad het. Dit was die dag voor Daleen se verjaardag en hy, klein Louwrens, en Boeta se nuwe vriendin, Liezl van der Merwe, en haar dogtertjie het Makro toe gery om vir Daleen ʼn geskenk te gaan koop. “Hy en klein Louwrens sou aanvanklik alleen gery het. Liezl en haar dogtertjie het toe egter saamgery aangesien hulle ʼn vrou se oog nodig gehad het om die geskenk te koop. Hy het ʼn hartaanval gehad terwyl hy bestuur het. Liezl kon daarin slaag om die motor langs die pad tot stilstand te kry.”

Boeta is op die toneel dood. Volgens Daleen was Boeta nooit weer dieselfde nadat Chantal dood is nie. Sy wil nie eens dink wat kon gebeur het as Boeta en klein Louwrens alleen gery het nie. “Die aand wat Chantal dood is, sou Louwrens aanvanklik saam met hulle gery het. Daar is op die laaste nippertjie besluit hy gaan by sy ouma slaap. As hy daardie aand saamgery het, sou hy dood gewees het, want hy sou heel moontlik op Chantal se skoot gesit het.”

Daleen sê dit gaan in die omstandighede “orraait” met klein Louwrens. “Hy begin nou baie vrae vra. Hy sal na my toe kom en sê hy is hartseer. Ons het vir hom video’s en foto’s van sy ouers op sy rekenaar gelaai.” Louwrens kyk onder meer na ʼn video wat op sy ouers se troudag geneem is. “My mamma het so mooi gelyk daai aand,” sal hy dan sê. “Hy weet hulle is by Liewe Jesus. Hy is nie kwaad vir Liewe Jesus nie en is baie lief vir die Here.” Louwrens wil elke dag na die video kyk, maar Daleen laat hom net so elke derde dag daarna kyk aangesien dit “hom baie hartseer maak”.

Louwrens kyk ook in die aand na die sterre. “Hy sal sê ‘daar is my pappa’ en ‘daar is my mamma’.” Volgens Daleen word daar baie van Boeta en Chantal gepraat. “Dikwels doen klein Louwrens iets en dan sal ek of my man sê ‘jou ma het presies dieselfde gedoen’, of hy sal iets doen en dan self sê ‘my pappa het dit vir my geleer’. Hy kan net nie verstaan hoekom sý pappa en mamma moes doodgaan nie.”

Daleen en Jaco het twee seuntjies, sewe jaar en 10 maande oud. “Dit is ʼn aanpassing, maar Louwrens en my ouer seun kom goed oor die weg. Hulle hanteer mekaar klaar soos boeties. As my man partykeer na klein Louwrens kyk, wil hy in trane uitbars. Hy lyk soos sy pa. As ek vir hom kyk, sien ek vir Louwrens en Chantal. Aan die een kant is dit hartseer en aan die ander kant lekker. Dit bly seer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ansie ·

Ai my hart gaan so uit vir die familie. En die arme seuntjie! Die tannie wat hom gaan grootmaak ek weet hoe moeilik dit vir haar moet en gaan wees in die toekoms. Ek kan net vir julle bid. Wat my kwaad maak is dat die arme ouers en familie geen menseregte het nie maar ja die beskuldigde het menseregte! Kan die reg nie sien wat doen hulle nie?

Nella ·

Sterkte vir julle en vir hom. Dis ‘n riem onder die hart om te weet hy is by mense wat vir hom lief is en hom nogsteeds van sy mamma en pappa leer.

HEB ·

Liewe Daleen en Jaco, mag Jesus julle ryklik seen en in liefde lei op hierdie pad wat julle gekies het om vir klein Louwrens te sorg en hom as deel van jul kosbare gesin groot te maak. Dankie alleen skiet ver te kort om die dankbaarheid wat ek in my hart voel oor te dra, dat hierdie klein seuntjie – ten spyte van sy hartseer omstandighede, mense soos julle in sy lewe kan he.

Marianne ·

Stem saam met HEB…. God’s rykste seën….mag Hy julle seën met die nodige leiding,wysheid en finansies en alles wat nodig is om die pragtige koningskind groot te maak….♡

Mariana ·

Weet julle gaan wonderlike ouers wees vir hom..
Julle is pragtige mense…

johann cb ·

Sjoe, dit is verskriklik hartseer – van die ergste waarvan ek nog gehoor het. Baie sterkte aan die familie, ons bid vir julle.

Carel ·

Mense soos julle is min in hierdie wreede wereld. Mag God julle net seën vir wat julle doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.