Troue ontaard in nagmerrie toe rowers toeslaan

Almarie Pistorius en haar man by hul troue. Foto: Verskaf

ʼn Paartjie van Pretoria se sprokiestroue het in ʼn nagmerrie ontaard toe hulle en van hul trougaste tydens die feesviering deur ses gewapende rowers oorval is.

Almarie Pistorius (29), die bruid, het ontsteld aan Maroela Media vertel die voorval het verlede Donderdag omstreeks 20:00 by die Riverside Castle-venue in Zwavelpoort plaasgevind. Wat die voorval nóg meer traumaties maak, is dat Pistorius tans sewe maande swanger is.

Pistorius het vertel dat die meeste gaste reeds huis toe was en dat net sy en haar man, hul kinders, haar sussie en haar man, asook hul kinders nog daar was toe ses mans met klapmusse aan “uit elke hoek” op hulle toesak.

Daar was altesaam vier volwassenes en ses kinders van wie die oudste 13 jaar en die jongste 4 jaar oud is.

“Drie [van die mans] het pistole gehad en drie AK47’s. Die aanvallers het eerste die twee mans vasgebind en toe vir ons. Die kabelbinders was so styf, my hande het begin doodgaan. Een het vir my man gesê ‘we will not hurt you, but you must cooperate’,” het Pistorius gesê.

In een stadium het die aanvallers selfs ʼn pistool teen ʼn seuntjie se kop gehou en vir hom gesê hulle sal hom nie seermaak nie, maar hy moet stil lê en saamwerk. Die gaste is van hul beursies en selfone beroof en daar is ook geld gesteel by die kontantkroeg.

“Toe soek hulle uiteraard ʼn motor om mee te vlug. My man se hande was vasgebind, so toe buk die een om die sleutel uit sy sak te haal en ʼn skoot gaan af tussen my man se bene.”

Die aanvallers het op die vlug geslaan in die egpaar se wit Polo TSI.

Pistorius vertel dat ʼn man in ʼn bakkie, vermoedelik ʼn buurman, by die toneel opgedaag het. Hulle het die kabelbinders met ʼn aansteker losgebrand aangesien niemand ʼn mes byderhand gehad het nie.

Jaco Akkerman, eienaar van Riverside Castle-venue, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die aanvallers het glo eerste die veiligheidswag by die onthaalterrein se hek oorrompel en hom ook vasgebind voordat hulle op die gaste toegeslaan het. Die veiligheidswag is ongedeerd.

Akkerman sê hulle het verlede week kringtelevisiekameras geïnstalleer, maar die kameras gaan vandag eers aangeskakel word. “Dis amper asof die rowers geweet het [van die kameras],” het Akkerman gesê.

Volgens hom was daar al voorheen rooftogte by die perseel gewees. “Maar dit was terwyl niemand hier was nie. Ek is juis nou in ʼn vergadering met ʼn sekuriteitskonsultant om te kyk wat ons nog kan doen om [die veiligheid] te verbeter.”

Konst. Yeroboam Mbatsane, woordvoerder van die Boschkop-polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn saak van gewapende roof word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie by 012 802 8200 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

HPV ·

Gewapende wagte by kerkdienste, troues, begrafnisse ens is reeds ‘n werklikheid in die helhool. Niks en niemand word ontsien nie. Hou maar net aan om die berigte internasionaal aan koerante en besighede te stuur.

Penellope Jones ·

Nou ook selfs by troues.
Wat is volgende op die “plek-van-aanvalslys” ?

Brutus ·

Anargie in die land en dit word net erger,rooftogte,moorde,brandstigting en korupsie oorheers die nuus blaaie,eintlik te veel ander ook om te noem, ons is uitgelewer in die helhool.

Pikkewyn ·

Volgende is kerke…sagte teikens, want almal gaan mos kerk toe met hul motors, selfone (al is dit op ‘silent’) en beursies , en die kerke se deure word nie gesluit nie, want almal is mos welkom.

Skaap ·

Ons kort ‘n kerk waar lede verplig is om vuurwapens dra. Wys my daai kerk en ek is elke Sondag in die kerk.

Erika ·

Of wys my kerk war jy bid dar hul hande styf word, as hul waag om in te stap, slaan hul op hul kniee neer & kruip vorentoe & roep: ‘Help ons het God nodig!’

Elna ·

En die regering doen absoluut niks hulle uiter nie eers n woord daaroor nie! Ek stem saam met HPV. Iewers sal daar wel iemand wees wat die dinge raak sien wat gebeur in ons land dan gaan die herrie los wees. Nerens maar absoluut nerens is mens meer veilig in hierdie land nie ek glo nie eers in n kelder onder jou huis sal jy veilig wees nie. Die rowery en aanvalle moord op ons minderheidsvolk ruk baie erg hand uit en ons is magteloos ons kan niks doen nie al wil ons hoe graag want ons mag nie. Dis onregverdig!! Sê maar net.

Charlene ·

Ek stem 100% saam met jou “inside job” hkm het hulle balaklavas aan want hulle ken die mense.

S ·

Sjoe hierdie is baie erg! Almal verdien ‘n sprokiestroue! Dit is vir my net baie hartseer dat hulle almal en veral die kinders deur hierdie nagmerrie moes gaan. Ek is darm bly niemand het ernstig seer gekry!

KL ·

@Charlene, om n masker of balaklava te dra is robbery 101, en dui niks op dat hul die mense ken nie.

Anoniem ·

Betwyfel of dit veiligheidswag is aan gesien daar voorheen sulke gevalle was en veiligheidswag daarna asngestel is

Nettie Nienaber ·

Ek verstaan nie so lekker nie, die berig lees “4 grootmense” en kinders 13 – 4 jaar. En dan ….die gaste is beroof van hulle selfone ens. Of lees ek verkeerd?

Maar dit is aaklig as mens se huweliksdag so ontwrig word.

Sannie

Agneesannie ·

Daar staaan daar was 4 volwassenes en 6 kinders waarvan die oudste 13 en die jongste 4 jaar oud is… watter deel verstaan jy nie?

Spikkels ·

Ek dink sommiges wat skryf verstaan nie dat nr 1 – 20, skryf jy uit in nommer, en hoer as dit kan jy die nr skryf, of altans dis wat n juffrou my jare terug geleer het, of dit nou wel die geval is kan mens dink wat gebeur as jy spoedlees, want sekere nommers is in woorde en sommiges in nommer formaat..

Afrikaanse Knaap ·

Die tyd van kerk toe gaan met jou vuurwapen het weer aangebreek.

Wayne ·

Daar was voorheen gewapende rowe gewees as daar niemand daar was nie ? Hoe beroof jy iemand as daar niemand is nie ? Roof is immers om iets by iemand met geweld of dreigemente af te neem

Varkie ·

So volgens jou logika moet die bruidegom met n 9mm aan sy sy vir sy bruid by die kansel wag, ouma sit in die gehoor met haar rewolwer in handsak, en oom met haalgeweer by ingangsportaal? Jy vergeet dat meeste mense in die land christene is, en om moord te pleeg is teen hul beginsel, so jy reel maar funksies en bly in jou huis en hoop en bid dat jy nie n teiken gaan word nie.. want om a wapen by jou te dra is nie vir almal nie

Wikus ·

GP het waarskynlik alreeds die nodige gedoen om homself en sy gesin tot die maksimum te beveilig. Hy gaan dit egter nie vir jou, my en almal doen nie. Elke ou vir homself…so staan op en begin.

Nettie ·

@GP – alles goed en wel, maar as ek my persoonlike omgewing beveilig het en myself nou bewapen het en TE ALLE TYE, selfs wanneer ek kerk toe gaan, my vuurwapen dra …… wanneer mag ek – volgens die wet – begin skiet? Wanneer ‘n vermoedelike rower die kerk binnekom, wanneer ‘n vermoedelike rower ‘n vuurwapen op iemand anders of myself rig of ….. wanneer????? Sodat ek nie van aanranding met die doel om ernstig te beseer/poging tot moord en/of moord aangekla word nie ……

SoosDitIs ·

Haai nee ah man. Waar in jou lewe neuk n ons nou al troues op met rooftogte? Ek is baie hartseer vir die bruid en bruidegom wat verewig hulle spesiale dag as n groot nagmerrie gaan onthou.

San1 ·

Tyd dat ons die land verlaat!! Hoekom moet ons, ons self deur soeveel hartseer laat gaan.
As jy iemand verloor het in ‘n moord net omdat hulle kan moor sal jy saam stem. Suid-Afrika is ‘n sinnelose land.

Andrea ·

Ai San, as ek net kon, was ek laaaankal weg. Hierdie is nie meer my vaderland waar ek grootgeword het nie. Wens daar was lande wat belang gestel het in goed gekwalifiseerde, ervare, hardwerkende ouer mense.

DeVill ·

Vraag is net waarna toe? Na Europa waar radikale Islam almal opblaas?
Wat van die VSA, daar weer is die radikale linkses besig om te sorg vir die volgende Amerikaans burgeroorlog!
Dan is daar Australie…ugh, in my hele lewe nie, hulle soek in elk geval nie ons wit Afrikaners daar nie en radikale Islam is net so besig daar.

Op die ou einde het ons net Suid-Afrika oor waar ons hoort…lyk my ek sal hier moet sterf!

Hoc est bellum ·

Dis alles deel van die planne wat jare gelede op Robbeneiland gemaak is sodat jy keelvol raak, jou tassies pak en die land verlaat. Dit sou nie by die Guptas se troue gebeur het nie.

Scot ·

@DeVill, ek bly nou al vir 13 jaar in Frankryk, en die bietjie islam in die land, teen wat in SA aangaan…ENIGE DAG. Ek slaap veilig in die nag, as hul ooit sou inbreuk is dit nie om my te martel en my vrou en kinders te verkrag nie. Sterkte tjom, ek hoort geensins in SA nie.

Ernst Uys ·

Beslis nie die eerste geval van roof by hierdie perseel nie. Het self ondersoek gedoen na vorige geval waar karwagte duidelik geimpliseer was, maar bestuur wou geen stappe doen nie.

Andrea ·

Die persone wat die sekuriteitstelsel geïnstalleer het, moet ook bekyk word. Nog elke keer wat ons bouers, ens op die erf gehad het, was daar ingebreek by ons.

Stefanus ·

Ek dra my pistool by my waarookal ek gaan, maar in die geval sou mens nie teen soveel gewapende mans iets kon doen.

HPV ·

Stefanus, dit maak twee van ons. Doen so voort en bly lewe, ek moes dit al by twee geleenthede gebruik en het lewendig daar uitgestap.

Andrea ·

Ai San, as ek net kon, was ek laaaankal weg. Hierdie is nie meer my vaderland waar ek grootgeword het nie. Wens daar was lande wat belang gestel het in goed gekwalifiseerde, ervare, hardwerkende ouer mense.

RM ·

Ons is nie meer veilig in hierdie land nie. Niks wat ‘n mens eer word bewaar nie.

Niklaas ·

Duidelik nog n ” inside job”. Die wag is ongedeerd en vasgebind, maar dit sê niks. Elke ou in die land het sy prys. Sommige is goedkoop en word binne dae beloon met sy deel wat vooraf bepaal was in die beplanning stadium. As ons in SA die verkoop van 2 de handse selfone kan stop of verhoed met wetgewing sal die misdaad voorvalle drasties verminder , dink ek. Dis dalk al n goeie begin om sake te verbeter. Daar is altyd n koper van selfone ,wat nie vrae vra en vinnig betaal. Dit is suiwer gierigheid , maar hoeveel mense is al gedood of erg aangerand , net vir die selfoon !

CB ·

Mens se troudag Is veronderstel om een van die mooiste dae in ‘n mens se lewe te wees! Voel innig jammer vir hierdie paartjie, wat nou vir die res van hul lewe hierdie herhinnering gaan hê. Mag Ons Vader julle omvou met sy liefde en genade sodat julle NET die mooiste oomblikke sal onthou…

Ruben ·

Wayne hulle roof die venue…daar hoef nie mense te wees om n plek te roof

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.