Trouplek wat gays wegwys, stel sy kant

Argieffoto

Beloftebos, ʼn Wes-Kaapse trouplek wat hom te midde van ʼn sosialemedia-herrie bevind en by die Menseregtekommissie verkla is nadat hulle ʼn gay-paartjie wat daar wou trou, weggewys het, sê hulle word met haatlike en aanstootlike kommentaar gedreig.

Beloftebos se eienaars het in ʼn verklaring bevestig hulle het op 26 Julie ʼn navraag gekry om ʼn troue daar te hou vir me. Alexandra Thorne en me. Alex Lu.

“Die navraag het gesê ‘my [verloofde] en ek beplan om volgende jaar in Amerika te trou en wil graag ʼn meer formele seremonie in Suid-Afrika hou. Ek is ʼn inwoner van Kaapstad en sy is van Amerika. Ons is albei verlief op die plek en hoop julle is oop vir paartjies van dieselfde geslag :) [sic]’,” lui die verklaring.

Volgens die eienaars het hulle op die navraag reageer met: “Beste Alexandra en Alex. Dankie vir julle navraag. Ons waardeer julle komplimente oor die venue. Ongelukkig sal ons nie julle troue hier kan hou nie. Hartlike groete.”

Die paartjie wou weet of daar probleme met die datums was, waarop die eienaars geantwoord het hulle wil niemand beledig nie, maar dit is hul beleid om net heteroseksuele troues daar te hou. Die paartjie het hul ervaring op sosiale media gedeel waarna die herrie uitgebreek het.

“Sedertdien ly ons onder ʼn wrede openbare aanval op ons Facebook-blad en ander sosialemedia-platforms wat gevul is met dreigemente en aanstootlike en haatlike kommentaar.”

Die eienaars het gesê hulle is Christene wat probeer om God te eer en te gehoorsaam in alles wat hulle doen, waaronder die manier hoe hulle hul onderneming bedryf.

“Die trouplek is beskikbaar aan mense van alle rasse, maar ons Bybelse oortuiging is dat die huwelik ʼn langtermyn-verbintenis tussen ʼn man en ʼn vrou is. Dit is ʼn diep gewortelde geloof, nie net vir ons nie, maar die oorgrote meerderheid Christene vir die afgelope 2 000 jaar.”

Die eienaars het gesê hulle word valslik as homofobies bestempel en hou vol die besluit is gegrond op hul geloof.

Hulle oorweeg om ʼn klag van naamskending by die polisie aanhangig te maak rakende die openbare aanvalle wat hulle ervaar. “Die Grondwet beskerm ons dat daar nie onbillik teenoor ons op grond van ons geloof gediskrimineer word nie. Ons verstaan me. Throne en me. Lu mag teleurgesteld voel deur ons reaksie op hul navraag, maar wil hulle verseker dit was nooit kwaadaardig of met vooroordeel bedoel nie. Ons verwag nie dat hulle met ons Bybelse oortuiging gaan saamstem nie, maar ons vertrou hulle sal ons posisie respekteer en insien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.