Trump dreig Iran met vergelding oor beweerde moordkomplot

Die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, Lana Marks. (Foto: Twitter)

Die Amerikaanse pres. Donald Trump het nie doekies omgedraai in sy reaksie op ʼn beweerde Iranse komplot om die VSA se ambassadeur in Suid-Afrika, Lana Marks, te laat vermoor nie.

“Luidens mediaberigte beoog Iran ʼn sluipmoord, of ander aanval, in weerwraak vir die dood van die terroristeleier [Kassem] Soleimani wat uitgevoer is vir sy beplanning van ʼn toekomstige aanval, die moord op Amerikaanse soldate en die dood en lyding wat oor soveel jare veroorsaak is,” het Trump Dinsdag getwiet.

“Enige aanval deur Iran, in enige vorm teen die Verenigde State, sal beantwoord word met ʼn aanval op Iran wat ʼn duisend keer groter in omvang sal wees.”

Soleimani is in Januarie vanjaar in ʼn Amerikaanse hommeltuigaanval in Irak gedood. Dit het spanning tussen die twee lande tot so ʼn mate verhoog dat dit selfs vrese van ʼn volskaalse oorlog laat ontstaan het. Die VSA het Soleimani, wat Iranse magte in die Midde-Ooste beheer het, as ʼn terroris beskou en aangevoer hy is verantwoordelik vir die dood van honderde Amerikaanse soldate. Hy was glo ook besig met die beplanning van dreigende aanvalle, het BBC vroeër berig.

Iran het na die aanval beloof dat hy Soleimani se dood sal wreek.

Die land het Maandag egter ten sterkste ontken dat hy betrokke is by die beweerde komplot om Marks te laat vermoor nadat die Amerikaanse politieke webwerf Politico die afgelope naweek oor die beweerde bedreiging teen Marks berig het.

Iran het teruggekap en onder meer gesê die komplot is gefabriseer.

Marks en Trump ken mekaar al jare lank en sy kan glo geteiken word weens haar vriendskap met die Amerikaanse president.

Suid-Afrika se Staatsveiligheidsagentskap het intussen gesê hy neem kennis van die bewerings, maar die agentskap wou nie meer besonderhede verskaf oor die ondersoek daarna nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê JohanEtz
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Marks en Trump ken mekaar, nie Banks soos in die artikel gemeld is nie. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Rentia ·

Neem kennis daarvan – regtig? En doen wat? Sal baie sleg wees as sy hier vermoor word – en die staatveiligheidsagentskap sal seer sekerlik net “eish… sorry.” SA kan nie eers sy eie mense beskerm nie! Nog minder sy grense… Maar hulle “neem kennis?”

Alleen Wolf ·

Moenie bekommerd wees nie, Trump sal sorg op sy manier, hy het nie hierdie klomp idiote nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.