Trump se nuwe veiligheidsadviseur praat ook Afrikaans

Pres. Donald Trump en Robert O’Brien. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

Pres. Donald Trump se nuwe nasionale veiligheidsadviseur, Robert O’Brien, praat ook Afrikaans.

Trump het O’Brien, sy hoof-gyselaarsonderhandelaar en ʼn gevestigde figuur in Republikeinse beleidskringe, Woensdag in dié pos aangestel. Hy is die vierde persoon in twee jaar om dié posisie te beklee.

O’Brien het sy aanstelling as ʼn “voorreg” bestempel. “Ons het al geweldige suksesse in verband met buitelandse beleid onder pres. Trump se leiding gehad. Ek verwag dat dit sal voortgaan. Ons het wel ʼn aantal uitdagings,” het hy bygevoeg. O’Brien het gesê die fokus van die administrasie sal steeds wees om die VSA veilig te hou en die weermag te herbou.

Maroela Media het in 2017 oor O’Brien en sy liefde vir Afrikaans berig. Hy het in ʼn onderhoud met Jhua-Nine Wyrley-Birch van AfriForum gesê Afrikaans is ʼn ryk en unieke taal. Suid-Afrika sal intellektueel armer wees as daar nie plek vir dié taal in sy akademie en hoër onderwysinstellings is nie, het hy bygevoeg.

O’Brien was destyds een van die top-studente van die Universiteit van Kalifornië se Los Angeles-kampus (UCLA), en is deur ʼn internasionale beursfonds gekies om in 1986 as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.

Hy het tydens ʼn onderhoud gesê hy praat steeds Afrikaans en dat hy maandeliks vir hom eksemplare van De Kat en Huisgenoot invoer om te lees.

O’Brien is ʼn oudstudent van prof. Jacques du Plessis, ʼn voormalige dosent in Afrikaans aan die universiteit van Wisconsin en UCLA, wat hom beywer vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale.

Robert O’Brien. Foto: (AP Photo/Evan Vucci)

Volgens O’Brien het hy besluit om Du Plessis se Afrikaanse klasse by UCLA te volg, wat toe een van die min universiteite in die VSA was met ʼn Afrikaans-taalkursus, ter voorbereiding vir sy tyd in Suid-Afrika. Hy het ook met behulp van ʼn kursus aan een van die wêreldbekende Berlitz-taalskole uit boeke en in private klasse Afrikaans aangeleer voordat hy na Suid-Afrika gekom het.

O’Brien het ook gesê dat sy tyd in ʼn Afrikaanse manskoshuis by Kovsies hom veral gehelp het om die taal onder die knie te kry. “Suid-Afrikaners is na my mening die gasvryste mense ter wêreld en ek het dit veral by Kovsies ervaar. Die Afrikaanse studente in my koshuis het baie belanggestel in die VSA en het meer kennis gedra van ander wêreldgebeurtenisse as my Amerikaanse vriende. My klasmaats was ook baie behulpsaam en het moeite gedoen om my met Afrikaans te help.”

Hy het destyds toegegee dat hoewel hy nog Afrikaans kan praat, hy weens sy Amerikaanse aksent steeds sukkel om sy r’e te rol.

Sy siening is dat hoe meer tale ’n persoon kan praat, hoe beter dit vir hom of haar is om hulself in ’n sake-omgewing, die politiek of diplomatieke sake te kan handhaaf.

“In die VSA sien ons dat minderheidsgroepe hul eie skole stig en bestuur waar die regering besluit om nie hul taal in die bestaande skole aan te bied nie. Daar gaan dalk ʼn tyd kom dat Afrikaanse mense in Suid-Afrika en Namibië óók private skole sal moet open om kinders van alle agtergronde in Afrikaans te leer om só tot die taal se voortbestaan by te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

KrokodilBotha ·

Impressed. Hehehe , gewoonlik leer mens eerste die vloek woorde.

Sophia ·

Bly ons het iemand wat ons goedgesind is, vernaam ons Afrikaanse taal! Dalkies gaan daar vir ons ‘n hele paar deure oop!

Jacobus ·

Het ons dalk ‘n nuwe kampvegter vir die Afrikaner?

Dalk moet AfriForum weer Amerika gaan besoek om bande te hernu.

wonder ·

Hy lees seker nie die tydskrifte mooi nie, want dan behoort hy te weet dat Suid Afrika is nie meer sooooooo gasvry nie. Ons is te bang. Huisgenoot plaas asb baie berigte oor die plaasmoorde.

jaco ·

kennis van Afrikaans gee maklike toegang tot nederlands. ook verskeie raakpunte met Duits (alhoewel Duits ook intensiewe studie al verg)

Jj ·

@Basjan…Hoop nie jy Praat jy van Sloet de Villiers nie. Ek hoor hy bly nou in Frankryk. En kan frans praat.

Zaks ·

Tyd gemors? Lol watse “joppie” doen jy? Toema, hou vir jouself… Lol.

Joziklong ·

Jammer dat daar Afrikaners is wat nie eers so voel oor hulle eie taal nie .

TDW ·

Ek wil nou nie suurdruiwe wees nie, ek wil net hierdie met julle deel. Hierdie Robert O’Brien was in Suid Afrika in 1986. In ‘n tyd wat dit baie omstuimig was in ons land. Hy het Afrikaans geleer ter voorbereiding. Ek is seker daarvan hierdie man was ‘n Amerikaanse spioen.

Charles ·

Afrikaans = die mooiste en edelste wonderwerk wat daar OOIT sal bestaan, selfs die Amerikaners besef dit. Die moeite werd om te gebruik, te besig en lief te he in byna alle aspekte van die lewe. (sien vir bewyse die Afrikaanse Wikipedia)

AFRIKAANS IS GROOT.

Hanna Hoekom ·

My verloofde is n Amerikaner. Hy praat tog te oulik Afrikaans! Dis ney die “g” en “r” wat so bietjie neuk… Hy eet “bieltong” en boerewors, koeksisters en bokkoms. Hy het so n passie vir ons Afrikaners en veral ons boere se situasie. As gevolg van hom weet n heelwat meer Amerikaners van ons huidige situasie! En sy gunsteling woord? “Lekker”!

Weltertale ·

@Basjan, het jy al gehoor van “‘n goeie begrip het ‘n halwe woord nodig”? Hoekom voel ek jammer vir jou?
@Taalgenoot: luister na jou sogenaamde Afrikaanse sangers en laat weet dan of jy nog trots voel ;(

Gaitsigubib ·

Taalgenoot se skrywe is delete (so ook my vraag aan jou), so dis moeilik om te sien waarvan jy praat, my vràag was eintlik net of jy nou alle Afrikaanse kunstenaars oor die selfde kan wil skeer? Wanneer laas het jy na engelse “hit songs” geluister? As jy jou nou oor iets wil skaam sal jy genoeg vind onder engels sprekende kunstenaars. Net soos die beste digters Afrikaans is, is ook die beste liedjie skrywers Afrikaans.

Adri ·

Hy meen dit kan dalk mettertyd nodig sal wees om Afrikaanse skole te stig. Goeiemôre Robert. Koffie of sop? Maar, welkom ins ons wêreld.

Attie. ·

wonder, jy praat van Huisgenoot, kort gelede was daar ‘n artikel waar bevrore arms en bene van orgaanskenkers afgesaag word. Dit was my laaste Huisgenoot ooit. Vir my bestaan die tydskrif nie meer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.