Tsakani Maluleke as nuwe OG voorgestel

Tsakani Maluleke. Foto: @SAgovnews/Twitter

Die parlement het Tsakani Maluleke, tans die adjunk- ouditeur-generaal (OG), as opvolger vir Kimi Makwetu aangewys. Makwetu se termyn verstryk aanstaande maand.

Die komitee het eenparig besluit dat Maluleke, ʼn ervare geoktrooieerde rekenmeester, die beste kandidaat vir die pos is.

Altesaam 71 aansoeke is vir die pos ontvang, maar die meeste daarvan was van mense met geen rekeningkundige of ouditagtergrond nie. Maluleke en sewe ander kandidate het eindelik die kortlys gehaal.

Sy is iemand met die nodige ervaring oor die bestuur van staatsgeld en het die tegniese kundigheid en leierskapsvaardighede om die OG se kantoor te lei op ʼn tydstip waar betroubare oudits van staatsinstellings belangriker as ooit is, het die DA gesê.

“Die DA stem saam met die aanbeveling en steun me. Maluleke vir die aanstelling as nuwe OG van Suid-Afrika,” het Jan de Villiers, ʼn DA-LP en lid van die staande komitee oor die OG, gesê.

Die DA het Makwetu voorheen geloof vir die werk wat hy as OG gedoen het en gesê hy het sy pligte met groot onafhanklikheid en integriteit nagekom. Sy opvolger het groot skoene om vol te staan.

Onder Makwetu se leiding het die OG se kantoor miljarde rande in nuttelose en verkwistende staatsuitgawes oor die afgelope paar jaar onthul. Sommige kritici van die regering glo dit kon andersins net onder die mat gevee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre ·

Laaste paragraaf “Onder Makweto se leiding is miljarde rande se verkwistende uitgawes
“onthul”.Onwillekeurig dink ek aan hoeveel miljarde teruggevorder is.”Onthul” raak nou die maatstaf .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.