Die Tshwane-metro se administrateurs het vier nuwe poste teen astronomiese salarisse geadverteer. Dit terwyl die hoofstad se strate op plekke onbegaanbaar is vanweë vakbondlede wat staak oor agterstallige salarisverhogings en hofsake oor die onwettige ontplooiing van administrateurs steeds hangende is.
Die poste se salarisskale wissel tussen R1,05 miljoen en R2,1 miljoen per jaar.
Die poste wat geadverteer word, is vir ʼn kantoorhoof, ʼn privaat sekretaresse, ʼn afdelingshoof wat met die gemeenskap skakel en ʼn mediaskakelbeampte. Al vier poste is vir die kantoor van die administrateurs en dupliseer bestaande poste in die munisipaliteit.
Die pos vir ʼn privaat sekretaresse vir die hoofadministrateur se salarisskaal word aangedui as tussen R1,05 miljoen en R1,4 miljoen per jaar. Die vereiste kwalifikasie is ʼn driejaar- naskoolse kwalifikasie en vyf jaar toepaslike ondervinding.
Die kantoorhoof se salarisskaal is tussen R1,4 miljoen en R2,1 miljoen per jaar. Die vereiste is ʼn graad en 12 jaar ondervinding. Tshwane-werknemers het aan Maroela Media bevestig dat personeel met baie hoër kwalifikasies en meer as dubbel soveel diensjare aansienlik minder verdien.
Die DA sê dis ʼn verregaande vermorsing van belastingbetalers se geld en ʼn klap in die gesig van die stad se inwoners van wie baie finansieel swaarkry. “Dis ʼn skande,” sê Randall Williams, die DA se burgemeesterskandidaat in Tshwane..
Die advertensies volg boonop minder as ʼn maand ná die stad se hoof van finansies, Umar Banda, ʼn skrywe aan alle departemente, insluitend die kantoor van die administrateur, gerig het waarin hulle pertinent gevra is om omsigtige finansiële bestuur toe te pas. Onder andere mag geen vakatures gevul word nie en werknemers mag ook nie verlof afkoop of oortyd eis as hul weens Covid-19 van die huis af werk nie.
Die administrateurs se missie om die poste dringend te vul kom ook ʼn skrale week voor die appèlhof moet besluit of die administrateurs finaal uit die stad moet padgee. Die hooggeregshof het reeds in die DA se guns beslis dat die administrateurs hul poste moet ontruim, maar die ANC-beheerde provinsie wat Tshwane onder administrasie geplaas het, het teen die uitspraak geappelleer.
Die Konstitusionele Hof hoor ook op 10 September ʼn verdere saak aan waarin die DA aanvoer dat die ontplooiing van die administrateurs onwettig was.
“Die feit dat hulle nou probeer om aanstellings te maak is ʼn absolute misbruik van mag,” sê Williams.
“Die hoofadministrateur, Mpho Nawa, moet hierdie advertensies onttrek en fokus op die herstel van diensverskaffing aan die stad wat tans in chaos is.”
“Die appèlhof-saak handel juis oor die geldigheid van die administrasiebevel en of dit omgekeer kan word,” sê Awie Erasmus, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor die Tshwane-metroraad.
“Boonop is dit die tweede keer die afgelope tyd dat die administrateurs poste adverteer in ʼn afdeling wat nie amptelik bestaan nie.”
Maar Tshwane se hoof administrateur, Mpho Nava, het aan Maroela Media verduidelik dat die vier poste wat tans geadverteer word, nie nuwe of gedupliseerde poste is nie en dat die persone wat voorheen die poste gevul het, se kontrakte ten einde geloop het.
”Ek is nie regtig lus om die poste te vul nie, maar dis nou vakant en dis noodsaaklike personeel wat pligte moet vervul, so dit moet geadverteer word,” sê hy.
Oor die buitensporige salarisse sê hy dat dit die salarisskale van die beamptes was wat voorheen in die poste was. “Dis hoe ek dit gekry het toe ek oorgeneem het.”
Hy sê verder dat die stakende werkers wat nie hulle verhogings ontvang het nie en die geadverteerde poste onverwant is, omdat daar reeds begroot is vir die poste wat gevul moet word maar nie vir die agterstallige salarisverhogings nie.
Die DA en die VF Plus benadruk albei die feit dat die administrasiebevel, soos vervat in artikel 139(c) van die Grondwet, voorsiening maak vir die administrateurs om op kort termyn stabiliteit na ʼn raad te bring, en dat dit slegs vir 90 dae geldig was. Die 90 dae het reeds verstryk en maak dus die beoogde vier aanstellings soveel meer teenstrydig met die Grondwet.
Williams sê die DA het reeds instruksies aan hul prokureurs gegee om die administrateurs aan te sê om die advertensies onmiddellik terug te trek. Volgens Erasmus is die VF Plus besig met ʼn omvattende aksieplan om die beoogde poste sowel as die onwettige goedgekeurde begroting van die administrateurs te stop.
Intussen het die vakbond IMATU ʼn sterk bewoorde brief aan Tshwane se waarnemende stadsbestuurder, Masabata Mutlaneng, gestuur waarin groot kommer uitgespreek word oor die geadverteerde poste.
“Dit is onverantwoordelik en voldoen nie aan die vereistes van die ooreenkoms wat bereik is ten opsigte van die stad se huidige finansiële beperkings nie. Boonop is daar geen bewys dat hierdie poste deel van die goedgekeurde organisatoriese strukture is nie,” sê IMATU se streekbestuurder, Rudy de Bruyn, in die brief.
Ek wonder hoeveel van hierdie sg” betogers ” by die munisipaliteit werksaam is. Hulle vertoon eenvoudig te energiek teenoor die normale munisipale werker.
Dis hoekom hulle kan rondspring want hulle doen niks anders as om te wag vir hulle salaris nie
Lyk my alle staats poste is oor die R1 miljoen ‘n jaar. Maak die waskamers by LootFreely Huis skoon…..R1 miljoen!
Kaderontplooing
Prioriteite is nie reg nie, hoe dan ook anders? Sorg net vir hul eie beursies
Waar doen ek aansoek?
Ek kan doen met n miljoen
Vir die vakbonde vertel hulle daar is nie geld om hulle agterstallige salarisse te betaal nie.
Ek gaan aansoek doen.